Rinél Day vier ‘n dekade in die musiekbedryf met ‘n nuwe album en enkelsnit!

Rinél Day se aanhangers se geduld en lojaliteit word na ses jaar se wag uiteindelik beloon met die vrystelling van ’n splinternuwe album en ‘n tweede enkelsnit vanaf hierdie nuwe album wat reeds die plaaslike musiekbedryf aan die gons het!

EK HET OPGESTAAN, haar derde ateljee-album, kan hoofsaaklik beskryf word as Country met ’n Pop-aanslag en verskil nogal baie van die rustiger musiek wat sy in die verlede gesing het. “Die album is ’n mengelmoes van Country- en Popmusiek. Daar is liedjies soos ‘Jy’t My Gered’ met mooi Country-klanke wat die hartsnare sal roer, terwyl ander weer jou voete sal laat jeuk om te dans,” verklap Rinél entoesiasties. “Ek het in 2016 begin skryf aan die inhoud van die album en hier-en-daar ander skrywers betrek om ook hulle insae te kry. Werner Beukes het aan die begin van die jaar die finale liedjieopnames in die Kaap gedoen.”

Die CD bestaan uit vyftien snitte wat spesiaal omskep is om haar strelende stem op sy beste te laat vertoon. Rinél wou graag musiek kies waarmee aanhangers kon identifiseer en glo dat Jy’t My Gered, net soos, Ek Het Opgestaan, baie gewild gaan wees.

Volgens Rinél, het sy baie inspirasie vir die musiek op die album geput uit haar eie lewe. “Die liedjies wat ek skryf, is gebaseer op ware gebeurtenisse en gevoelens. Die titelsnit vertel basies hoe ek opgestaan het uit gebrokenheid en gekom het tot waar ek nou is. ‘Gyselaar’ gaan oor my egskeiding en ‘Jy’t My Gered’ is geskryf vir my verloofde wat my uit daai donker plek van depressie gered het,” verduidelik sy. “Ek wil hê dat my album vir luisteraars moet hoop gee dat hulle weer kan opstaan en lus wees vir die lewe, ongeag van wat gebeur.”

BREEK DIE MURE AF, die tweede enkelsnit vanaf die nuwe album, is ook pas uitgereik en gaan verseker soos ’n veldbrand versprei. Hierdie lied, wat deur Werner Beukes, Johan Brummer (Fatman) en Marius Strydom geskryf is, gaan oor hoe ons almal bereid is om ons mure te laat sak vir die een wat ons lief het en bereid is om hom/ haar volkome te vertrou. 

Sy onmiddellik verlief op hierdie voetstamplekker popsnit vanaf die heel eerste oomblik wat sy dit gehoor het: “Alhoewel ek bekend is vir my lekker opgewekte dansmusiek, het hierdie lied my verwagtinge oortref, omdat dit my stem op ’n ander vlak ten toon stel waaraan ek nie noormaalweg gewoond is nie. Dis lekker om uit my gemaksone te tree en ’n ander kant van myself vir luisteraars te wys.”

Omdat dié snit liefde vanuit ’n ander perspektief benader, glo sy dat luisteraars daarmee sal kan vereenselwig en dat hulle die speelse ritme baie sal geniet. “Ons moenie dat ons harte koud en hard word na hartseer tye nie. Liefde is so ’n wonderlike ding en om dit te kan uitbeeld in ’n lekker ritmiese lied gaan mense dalk laat dink daaroor,” sê sy. “Ek dink dat die publiek lekker gaan saamsing en -kuier op die liedjie en dit is vir my so ’n groot voorreg om dit met hulle te deel.”

Haar nuutste enkelsnit volg in die suksesvolle voetspore van die titelsnit, Ek Het Opgestaan, wat sedert uitreiking tot nou toe nog bo-aan die treffersparades van verskeie radiostasies pronk en spog met verskeie nommer een posisies. Die musiekvideo is ook tans op die kassie te sien.

Rinél is in Vryheid gebore en het hoofsaaklik in Richardsbaai en Swartruggens grootgeword. Sy is verloof aan die liefde van haar lewe, Shaun Walker, en is al vir meer as ’n dekade lank doenig in die musiekbedryf.

Dié pragtige donkerkop kom uit ’n baie musikale huis en is van jongs af aangemoedig om in haar drome te glo. Op die ouderdom van sewentien, het sy haar eerste optrede in ’n klein kroegie in Benoni gedoen en van daar af het haar loopbaan behoorlik vlam gevat.

Op die ouderdom van tien, het sy haar eerste sangkompetisie gewen en in 2012 haar eerste selfgetitelde Ghoema-benoemde album (Beste Pop-album deur ’n Vroulike Kunstenaar) uitgereik. Dit is baie goed ontvang en het twee-en-twintig nommer-een-radio-treffers opgelewer, waaronder Een Somersaand (met Henri Alant), DJ Speel Dit WeerGeluk en vele meer.

Haar tweede album, Dit Staan in Die Sterre, het ewe veel sukses bereik en is in 2014 vrygestel. Dit het ’n Ghoema-nominasie ontvang vir Beste Kontemporêre Album deur ’n Vroulike Kunstenaar en bevat bekende liedjies en musiekvideo’s, soos Dit Staan in die Sterre, Ligjare WegMaak My Joune, ensovoorts wat reeds deur duisende mense geluister en gekyk is.

Oor die jare, het dié veelsydige kunstenaar verskeie hoogtepunte bereik: in 2012 het sy sestiende gekom in die internasionale World Peace Song Contest, met haar liedjie Vuur Met Vuur Veg (Céline Dion was tweede in hierdie kompetisie); vanaf 2014 tot 2018 het sy as Beskermengel van die Jakaranda Kinderhuis opgetree; in 2015 was sy te sien in Leon Schuster se Shucks! Pay Back The Money; en laastens was sy ook deel van die groep JANEDUKE wat deurgedring het na die top 26 van die Afri-Visie-liedjieskryfkompetisie.

Verder is sy ook geen vreemdeling by groot musiekfeeste en -funksies nie en was sy deel van Lance James se Country Legendes en Vriende, Oos Rand Stereo se Opskop-konsert en Vonk se Afriganza-vertoning by Carnival City se Big Top Arena.

Wanneer sy nie besig is om harte te verower op die verhoog nie, is sy drukbesig om liedjies te skryf en te werk aan haar blog, My Millennial Blog, waarin sy raad gee oor hoe om mooi te lyk op ’n beperkte begroting.

“Ek het ’n nuwe liefde vir skryf gevind. In die verlede het ek gewoonlik net saamgeskryf aan liedjies waar ek nou die kans het om alleen te skryf en my stempel, as persoon en kunstenaar, af te druk op my werk,” deel sy. “My blog is gerig op ’n internasionale mark, so enige vrou in die wêreld gaan daarby kan baatvind. Op die einde van die dag, wil ek graag ander mense leer hoe om ’n blog te begin en ’n inkomste daaruit te verdien. Ek glo almal kan doen met ’n ekstra geldjie veral in vandag se tyd.”

Rinél Day se nuwe vrystelling is ’n versameling van ritmiese genietmusiek, wat sag is op die oor, en jou laat uitsien na ’n lekker kuier of danspartytjie saam met vriende. Haar unieke aanslag en pragtige stem is soos ’n vars briesie in ’n genre wat maklik gewoon kan wees.

Haar album, EK HET OPGESTAAN,  is nou aanlyn beskikbaar. Laai dit hier af: https://distrokid.com/hyperfollow/rinelday/ek-het-opgestaan-2

SNITTE OP DIE ALBUM

Ek Het Opgestaan
Gyselaar
Jy’t My Gered
Hier om te bly
Breek die mure af
Is jy alleen?
Rescue Me
Maak my Joune
Our New Everything
Stomping on my heart
80’s Medley (met Werner Beukes)
Ons is Liefde (met Riaan Grobler)
Huil oor Jou
Vlieg oor die Maan
Dit Staan In Die Sterre

SOSIALEMEDIASKAKELS:

Facebook: www.facebook.com/rineldayoffisieel
Instagram: @ekisrinelday
Twitter: @ekisrinelday
Webblad: www.rinel.co.za

PUBLISITEIT & BEMARKING:

STARBURST PROMOSIES
Alishia van Deventer
Sel: 083 635 4717
E-pos: alishia@starburstmusic.co.za
Webblad: www.starburstmusic.co.za