Abel Knobel – Soveel Meer

Soveel Meer is die nuutste enkelsnit uit die pen van Abel Knobel wat vir vier jaar in sy hart gegroei het voordat dit uitgeloop het op papier. Die opbouende woorde gaan oor die mens se inherente en instinktiewe begeerte om gedurig te streef na meer in die lewe. “Ons kyk al ewig terug na ons verledes en oordeel die toekoms daarvolgens, maar soms moet ons net stil staan, die oomblik in neem, en besef waar ons nou is, is genoeg”, deel Abel.

Die boorling van Bethlehem se inspirasie vir Soveel Meer, kom juis uit sy kinderdae waar hy die plaas se oop vlaktes as sy speelgrond gehad het. Die relevante lirieke en opgewekte wysie, met ‘n kontemporêr akoestiese inslag, is net wat nodig is om die lente te verwelkom. “Ons moet glo dat daar “soveel meer” vir ons is en op ons wag as ons dit maar net kan raaksien.”  Dit is presies die woorde wat ons nodig het om te hoor terwyl 2020 einde se kant toe staan.

Abel hoop dat die liedjies mense sal inpireer en sal herinner om te glo soos ‘n kind en sorgeloos te droom. “Dit is hier waar die drome in ons hart ons sal kan neem op ‘n kinderlike avontuur waar niks vir ons onmoontlik is nie.” Volgens Abel is die geheim egter om stil te raak en tyd te maak om te kan droom in vandag se gejaag, weg van skerms wat ons aandag verdeel.

Maar Abel sing nie net van drome en hoop nie. Hy het self al sy berg geklim met erge episodes van depressie en Bipolêre geestesversteuring waaraan sy oupa ook gely het. Hy vertel dat hy op ‘n stadium dit selfs oorweeg het om, soos sy oupa, sy eie lewe te neem maar dat hy met goeie hulp en geloof dit kon oorwin. “Die seer en gebrokenheid van die wêreld inspireer my seker die meeste om te skryf en sing. Daar is altyd Hoop en daardie boodskap wil ek graag laat deurskyn in die musiek.”

Daar lê nog groot toekomsplanne en drome vir Abel self in die vooruitsig. Een van sy drome is om saam met die inspirerende kunstenaars en liedjieskrywers soos Riana Nel, Elvis Blue, Karen Zoid en Josua Na Die Reën te werk. Hy was deel van die elektro-pop mansgroep, NRG, vanaf 2011 – 2015. In die tyd het was NRG benoem vir 3 Ghoema toekennings, het ‘n draai gaan maak op die Krone 2 verhoog en verskyn op die hoofverhoog by Innibos Kunstefees.

In 2016 het Abel deelgeneem aan die relateitsreeks, The Voice seisoen 1 en Bobby van Jaarsveld se span gehaal. Dieselfde jaar het hy ‘n kontrak losgeslaan om vir 6 maande in Spanje te sing. In 2019 het Abel vir ‘n maand lank elke aand die rol vertolk van Brummer in die gewilde SABC2 TV sepie, 7 de Laan.

Abel is dus geen vreemdeling vir die kollig nie en vier sy negende jaar as kunstenaar in die bedryf. Sy drome het egter al begin ontwikkel pp vyfjarige ouderdom toe hy die eerste maal voor sy ouma se klavier gaan sit en begin het om sy eie liedjies op te maak. Die jong man se talent en passie skep ‘n dinamiese kombinasie wat sy drome nog groter kastele gaan laat bou in die musiekindustrie.

Soveel Meer musiekvideo:
https://www.facebook.com/ABKnobel/videos/369001917481836/