Afrikaans Gaan Global kondig aan: “Kunstenaar #27 is … RUAN JORDAAN!”
RUAN JORDAAN – VEGTER
Ná die ongelooflike sukses van die eerste Afrikaans Gaan Global-stroomkonsert wat vroeg in September aangebied is, word die tweede een oor ’n naweek in Sun City aangebied met organiseerders wat belowe dat dié konserte nóg verdere verwagtinge sal oorskry. Dié keer word aktiwiteite oor die hele naweek vanaf Sun City aangebied en musiekliefhebbers kan ook deel in die aksie met ’n beperkte aantal kaartjies wat beskikbaar is.
Die naweek skop amptelik op Vrydag, 30 Oktober af met die gewilde rugby kletsprogram, Toks en Tjops, wat regstreeks op kykNET vanaf The Boma, Sun City, uitgesaai sal word. Na afloop van dié uitsending vind die eerste musiekgenot vanaf 21:00 plaas met Ricus Nel, Jo Black, Refentse, Brendan Peyper, Appel, Ray Dylan en Tashé in aksie tydens die Hardekole-konsert.
Toegang vir dié vertoning is ook in die naweekpakket ingesluit en sluit ’n spesiale Boma Braai Buffet ete in.
Die amptelike Afrikaans Gaan Global-konsert op Saterdag, 31 Oktober, spog met ’n indrukwekkende kunstenaarslys en daar kan uitgesien word na 27 kunstenaars wat die partytjie aan die gang gaan hou – weer vir 12 ure lank.
Dié kunstenaars is Jo Black, Snotkop, Refentse, Spoegwolf, Adam Tas, Juanita du Plessis, Pieter Koen, Wicus van der Merwe, Demi Lee Moore,
Joe F, Ricus Nel, Brendan Peyper, Nicholis Louw, Nadine, Elizma Theron, Tasché Burger, Appel, Elvis Blue, Kurt Darren, Die Campbells, Synth Peter, Jay du Plessis, Karen Zoid, Early B en Ray Dylan.
Vanes-Marie du Toit sal saam met Pieter Koen en Wicus Van der Merwe die aanbieders wees.
Die 27ste kunstenaar is pas deur die Afrikaans Gaan Global-paneel aangewys, vanuit voorstelle van die publiek. Ruan Jordaan is ‘n jong opkomende sanger en liedjieskrywer en is op 27 Oktober as die 27ste kunstenaar aangewys. Hy sal nou ook by Sun City te sien wees op die
Afrikaans Gaan Global-verhoog op 31 Oktober.
“Ek is uit die veld geslaan, want ek het dit nie verwag nie – maar het geweet dit sal die kans van ñ leeftyd wees. Ek is ‘n voorstaander vir jou drome en veg om daar uit te kom en vandag voel ek soos ‘n regte vegter wat eventueel daar uit gekom het! Dankie Afrikaans Gaan Global vir die ongelooflike geleentheid. Ek kan nie wag nie.” Vertel Ruan Jordaan opgewonde.
Jordaan het ook sy eerste enkelsnit, Vegter, onlangs vrygestel en nou kan hy sy verhaal oor vegterskap vir die wêreld uit basyn wanneer hy dit regstreeks gaan opvoer hierdie komende naweek, regoor die wêreld.
Enige iemand wat ’n kunstenaar wou nomineer, kon dit op Afrikaans Gaan Global se sosiale media bladsye doen en sodoende ’n opkomende kunstenaar die geleentheid gee om ook deel te wees van dié konsert,” het Kurt Darren, een van die organiseerders en breinbaas agter Afrikaans Gaan Global, vertel. “Die publiek kan steeds weer in die gemak van hul eie huis saam kuier óf bietjie in die son kom baljaar by Sun City,” het hy verder verduidelik.
Besoek iTickets hier: https://itickets.co.za/register/new/449547