Emma Ellis stel nuwe emosie-belaaide snit Kombuis vry!

Emma Ellis se jongste enkelsnit getiteld Kombuis is ‘n nostalgiese snit wat emosies in luisteraars sal laat ontwaak waarvan hulle dalk al vergeet het.
Kombuis is geïnspireer deur die beëindiging van ‘n liefdesverhouding en is uit die pen van Brendon Delport.

Volgens Emma handel die liedjie oor ‘n verlore liefde waarvan jy net nie kan laat gaan nie. “Met die liedjie reik ek uit en vra of ek mag terug kom,” sê sy.

Sy het dadelik aanklank gevind by die liedjie toe sy dit die eerste keer gehoor het en hoop dat luisteraars dit ook so sal ervaar. “Ek hoop die publiek kan aanklank vind by die hartseer wat ons gevoel het toe ons dit
geskryf en gesing het. Die einde van ‘n verhouding is iets waardeur meeste mense al selfgegaan het en ek hoop dat Kombuis vir iemand anders ook kan afsluiting bring,” sê Emma.

Die liedjie is nostalgies en forseer die luisteraar om te dink aan ‘die een wat weg gekom het’. “Dit is waaraan ek wil hê mense moet dink wanneer hulle daarna luister.”

Richard Onraet van Van Coke Studios het die liedjie vervaardig. “Die manier hoe die seer in my stem vasgevang is in die liedjie is iets anders en daarvoor kan ek net vir Richard dankie sê,” voeg Emma by.

‘n Musiekvideo vir die liedjie is in die Port Elizabeth Operahuis geskiet. Die outydse styl van die gebou pas perfek by die nostalgiese tema van die liedjie. Dié venue is een van die eerstes waar Emma as kind opgetree het en sy het ook ‘n paar jaar gelede weer daar gesing.


Emma, Brendon Delport, Simoné Strauss, Kristie Ellis en Reynold King was betrokke by die produksie van die musiekvideo!

“Brendon was die beste persoon om die musiekvideo saam met my aan te pak, want niemand kan beter as hy die emosie agter die liedjie vasvang nie. Die video vertel die verhaal van hoe ek in ‘n teater optree wat so leeg soos my hart staan en ek sing net vir die een persoon – die verlore liefde.”

Oor die kunstenaar

Emma is ‘n opkomende Afrikaanse kunstenaar wat vroeër vanjaar golwe gemaak met haar weergawe van Elvis Blue se snit “Mooi” en het onlangs die Top-10 van die sangkompetisie “Maak my famous” gehaal. Sy beplan om volgende jaar ‘n rits nuwe liedjies vry te stel en wil ook graag die langpad vat op ‘n landswye toer om vertonings te lewer wat haar staal as volwaardige kunstenaar sal wys.

Emma is reeds van kleins af mal oor musiek en het grootgeword met The Eagles, Bon Jovi en Celine Dion. As baba het haar pa vir haar Enya se musiek gespeel om haar te kalmeer.

Sy was deel van kore en musiekgroepe en het op die ouderdom van 18 in restaurante begin sing vir ‘n ekstra inkomste. Sy is reeds die afgelope vier jaar deel van die musiekbedryf. Emma vind groot inspirasie in die plaaslike musikant Karen Zoid. “Ek het al so ‘n bietjie saam met haar gewerk, maar dit is ‘n groot droom van my om nog saam met haar te werk.”

Sy luister ook graag na folk-, indie- en popmusiek en put groot inspirasie uit Taylor Swift se skryfstyl. Vir haar eie skryfwerk put sy meestal inspirasie uit ‘n gebroke hart, met die uitsondering van ‘n paar liedjies wat geskryf is uit ‘n plek van pure geluk. “Ek skryf wanneer ek ‘n vreemde emosie ervaar, of wanneer ek hartseer is of wanneer dit voel asof ‘iets’ moet uit.”

Sy beskryf haar stem as vars, kwesbaar en uit die hart en is tans besig om nuwe musiek te skryf en op te neem. Sy en haar ma het ook gedurende die inperkingstydperk ‘n sakeonderneming, PopCycle, begin wat fietsryhemde vervaardig. “Hoewel ek nou ‘n onderneming het, is musiek nog steeds my grootste liefde. Ek sal nooit ophou musiek maak nie en ek sien vreeslik uit na die toekoms en om my musiek met mense te deel. Die Covid-19-pandemie het redelik baie dinge verander, maar ons is egter sterker
ná alles wat ons oorkom het en ek glo dat alles gebeur met ‘n doel.”

PR en Bemarking:
Talana Kuhn
072 494 4874
talana@marketingzoo.co.za
The Marketing Zoo