In Rinél Day se nuwe musiekvideo leef sy in ‘n wêreld waar die man tuisbly, die vrou bedien en selfs stryk!

In die moderne lewe gebeur dit dikwels dat mans en vroue rolle omruil en dat die vrou aan die stuur van sake staan.

In Rinél Day se nuutste musiekvideo van haar treffersnit, BREEK DIE MURE AF, wat pas bekendgestel is, wys sy op ’n komiese manier dat dit heeltemal in orde is vir ons Evas om die leiding te neem en dat ons as hardwerkende vroue ook geregtig is op ons eie sprokiesverhaal.

“Ek dink die alledaagse lewe en drama maak dat ons, as vroue, ons harte toe maak vir die idee van liefde en moontlike hartseer… maar ons besef nie altyd hoe kosbaar die liefde kan wees nie. Jy kan jou eie sprokiesverhaal skryf al is jy ’n hardwerkende vrou,” verduidelik sy oor die konsep agter haar nuutste musiekvideo, wat sy beskryf as ’n “moderne era-video met ’n Vintage-kinkel”. “Die idee was om uit te beeld dat hardwerkende vrouens ook ’n sprokiesverhaal kan hê. Min het ek geweet dat ek self ook soveel innerlike mure sou afbreek tydens die skiet van die video. Ek is omtrent uit my gemaksone gehaal en het myself op ’n heel ander vlak leer ken.”

Rinél wou graag grense verskuif met die skiet van hierdie tong-in-die-kies-video, wat oudergewoonte deur Coolerbox Brothers behartig is, en sy kry dit reg om die kyker weg te voer na ’n wêreld waar die man tuisbly, die vrou bedien en selfs stryk!

“Chris da Silva het sy pragtige huis in Bedfordview vir ons beskikbaar gestel om lewe te gee aan my musiekvideo! Sy huis is beslis enige vrou se droomhuis, so dit het perfek gewerk vir my moderne feëverhaal,” verklap sy. “Ons het hard gesoek na die drie perfekte ouens om die hoofrolle te vertolk en ek is so bly dat ons vir John Owens (voormalige Mnr. SA), Phillip Hearn en Aubrey Pieterse aanboord kon hê. Hulle is puik in hulle onderskeie rolle en beslis iets vir die oog.” 

BREEK DIE MURE AF is ’n voetstamplekker popsnit – uit die pen van Werner Beukes, Johan Brummer (Fatman) en Marius Strydom – wat in die voetspore volg van haar vorige enkelsnit en musiekvideo, Ek Het Opgestaan, wat uitstekend ontvang is en vir maande bo-aan die treffersparades van verskeie radiostasies landswyd gekuier het.

Beide liedjies is geneem vanaf haar derde ateljee-album (Ek Het Opgestaan) wat in 2020 uitgereik is en bestempel word as een van haar beste vrystellings tot op datum.

Om uniek te wees in ’n bedryf waarin daar baie kompetisie is was nog altyd vir Rinél, wat in Vryheid gebore is en hoofsaaklik in Richardsbaai en Swartruggens grootgeword het, baie belangrik en is een van die grootste bestanddele van die sukses wat sy tot dusver bereik het.

Met haar nuutste musiekvideo wys sy weereens dat sy nie bang is om kanse te waag om ’n treffende boodskap oor te dra nie en verstewig sy haar plek in die harte van musiekliefhebbers regoor die land.

SOSIALEMEDIASKAKELS:

Facebook: www.facebook.com/rineldayoffisieel
Instagram: @ekisrinelday
Twitter: @ekisrinelday
Webblad: www.rinel.co.za

PUBLISITEIT & BEMARKING:

STARBURST PROMOSIES
Alishia van Deventer
Sel: 083 635 4717
E-pos: alishia@starburstmusic.co.za
Webblad: www.starburstmusic.co.za