Abel Knobel – Stel Meisie Op Die Strand enkelsnit bekend!

Geïnspireer deur ’n beeld op ’n strand in Spanje, het Abel Knobel vyf jaar gelede ’n lied in sy hart gekry en het nou pas dié splinternuwe, sielvolle enkelsnit, Meisie Op Die Strand, vrygestel. Dié vrystelling kom ook met die viering van sy tiende bestaansjaar in die musiekbedryf.

“Ek het die meisie in die verte sien sit en staar na die beeldskone horison en daardie prentjie het my geïnspireer om hierdie lied te skryf. Die lirieke is poëties en die boodskap wat ek wil oordra is eerlik. Ek glo dit gaan mense se harte raak,” het Knobel vertel.

Nadat Knobel in 2016 klaargemaak het met die eerste seisoen van The Voice SA, was hy ses maande lank werksaam in Spanje met ’n kontrak om in hotelle op te tree.

“Ek was maar eensaam en hartseer en ’n langafstand-verhouding wat ook nie uitgewerk het nie, was al waaraan ek kon dink – en ek wou huis toe kom. Ek moes egter die kontrak voltooi. Ek is op my gelukkigste op die strand en dít was toe elke dag my ontvlugting,” vertel hy.

Oudergewoon het hy weer een oggend – toevallig op sy 25ste verjaarsdag op 29 September – met sy kitaar op die strand gaan sit.

“Ek was alleen en woorde kon nie die verlange vir my familie en vriende in die verre Suid-Afrika beskryf nie. Toe vang my oë ’n meisie wat so entjie van my af sit. Beeldskoon met lang blonde hare, het sy naby die branders gesit en staar vir die horison. Sy was óók alleen en het lank net gestaar na die goue son wat die horisonlyn bekruip,” vertel Knobel.

Hy was nuuskierig, maar vertel laggend dat hy nogsteeds niks van haar weet nie – en dat hy in sy lied nuwe lewe aan dié geheimsinnige persoon gegee het.

“Ek sal haar egter altyd dankbaar bly vir die golf van inspirasie wat sy oor my siel gebreek het. Die wete dat ek niks van haar weet – of ooit sal weet nie – en ook dat sy nooit sal weet daar is ’n lied oor haar geskryf nie, is bittersoet. Ek glo tog dit is waar die krag van die lied lê,” het hy ingedagte bygevoeg.

“Hierdie lied trap dieper spore as enige ander een op my album en as liedjies kinders was, sou hierdie een sonder twyfel my oogappel gewees het. Ek wag al amper vyf jaar om Meisie Op Die Strand as ’n enkelsnit vry te stel en uiteindelik is die tyd reg,” het Knobel gesê.

“Ek wil hê mense moet kan vereenselwig met my musiek. As iets daarin hulle kan laat identifiseer met hul eie lewens, probleme of omstandighede, het ek my doel bereik. Ek wil met my musiek die effek op mense hê wat daardie meisie daardie dag op my gehad het,” het hy gesê.

Die musiekvideo vir Meisie Op Die Strand se storielyn gaan oor dié meisie van Spanje en die inspirasie wat ’n vreemdeling kan bied.

Knobel het die eerste keer in die Afrikaanse musiekbedryf naam gemaak as lid van die elektro-pop mansgroep NRG. Hy het verder diep in harte gekruip toe hy deel was van Bobby van Jaarsveld se span op die realiteitsprogram, The Voice SA.

Media & Bemarking
Talana Kuhn | 072 494 4874
talana@marketingzoo.co.za
The Marketing Zoo