Fransien Scott stel pragtige nuwe enkelsnit, Roei, vry!

Net soos ’n lekker storieboek, moet ’n goeie liedjie jou ook boei totdat die laaste noot wegsterf… en Fransien Scott kry dit beslis reg met haar nuutste enkelsnit, ROEI.

Hierdie pragtige moderne ballade gaan oor ’n vrou wat moet afskeid neem van ’n visserman wat nooit terugkeer na sy laaste ekspedisie nie.

“Hoop is alles in tye van swaarkry. Hierdie lied is ’n beliggaming van die hoop wat ons kan hê tydens diepe lyding,” verduidelik sy oor die inspirasie agter hierdie besonderse snit. “Dit is romanties en daar is ’n lekker saamsing-koor met woorde wat ’n mens kan onthou.”

Volgens Fransien, wat binnekort van Brittanje na Portugal verhuis, is die liedjie in 1995 geskryf as deel van die ATKV-liedjiewerkskool onder leiding van Lucas Maree. Dit is deur Helmut Meijer van Stonebear & Mayor vervaardig en is oorspronklik deur die groep, Niche (waarvan sy deel was), gesing.

“Lucas Maree het ons destyds uitgedaag om te skryf oor ’n gebeurtenis wat ons na aan die hart lê, sodat die luisteraars geboei kan word met lirieke en musiek wat outentiek en eg is. Ek was dadelik geïnspireer om ’n pragtige intieme liefdesverhaal te skryf waarin ek te midde van die realiteit van die dood, steeds die tema van hoop wou inbring,” deel sy.

Die idee vir die musiekvideo, wat in ’n klein Kaapse vissersdorpie moes afspeel, is iets wat sy reeds vir jare met haar saamdra en beeld die romantiese verhouding van ’n paartjie uit. “Intieme tonele van die paartjie se herinneringe saam, en hom wat vir haar klippies saambring van sy reise, word gevolg deur die hartverskeurende besef dat sy haar man verloor het wanneer sy op ’n verlate strand ineenstort. Die verhaal eindig propvol hoop wanneer hulle seun in sy pa se voetspore volg deur sy visstokke oor sy skouer gooi en, volgens tradisie, vir sy ma ’n klippie uit die see uit bring.”

Alhoewel dit in die weste van die Algarve verfilm is, lyk dit net soos die Kaap en het die span moeite gedoen om die perfekte eindresultaat te verseker.

Kyk die video hier:  Fransien Scott | Roei – YouTube

ROEI volg in die voetspore van haar vorige enkelsnit, Staan Reg, wat tans op verskeie radiostasies regoor Suid-Afrika gehoor kan word.

Fransien het in ’n musikale huis groot geword en het na skool as ’n onderwyser gewerk voordat sy en haar man oorsee is waar hulle steeds woon.

Na bykans twee dekades oor die water, is sy steeds passievol oor Afrikaans en mis sy haar mense vreeslik baie. Daarom beplan sy om binnekort in haar geboorteland te kom kuier.

ROEI is sielskos in vandag se tye waarin die mense van die wêreld hoop nodig het om hulle te dra.

Die liedjie is aanlyn beskikbaar. Kry dit hierhttps://music.apple.com/za/album/roei/1527820629?i=1527820630

SOSIALEMEDIASKAKELS
Facebook:
 https://www.facebook.com/fransienscott
Instagram: @fransienscott
Webbladwww.fransienscott.com
YouTube: https://www.youtube.com/channel/UCXkdIw3ypRAGrcI2OrcXIGQ
SoundCloud: https://soundcloud.com/user62525715

PUBLISITEIT & BEMARKING:
STARBURST PROMOSIES

Alishia van Deventer
Sel: 083 635 4717
E-pos: alishia@starburstmusic.co.za
Webblad: www.starburstmusic.co.za