Reggie Peace stel langverwagte debuut-album vry!

Vanjaar is Reggie Peace al ’n dekade in die vermaakbedryf. Om hierdie mylpaal te vier, stel hy uiteindelik sy langverwagte debuut-album, NUWE LEWE. NEW LIFE, vry en dit gaan beslis sy plek in die plaaslike musiekmark  verstewig.  

Die album bestaan uit twaalf opwindende oorspronklike snitte (Engels en Afrikaans) en drie bonussnitte in verskillende genres, wat wissel van gospel en RNB tot kletsrym, dans- en Soul-musiek. “Ek werk en beplan al vir meer as ’n jaar aan die album en voel geseënd dat hierdie droom uiteindelik waar word. Dit is sover die grootste projek van my lewe en ek is dankbaar vir elkeen wat my bygestaan het op hierdie reis” deel die agt-en-twintig-jarige ster van Schauderville in Port Elizabeth.

Hy voeg by dat die titel ’n nuwe hoofstuk in sy lewe verteenwoordig. “Uit met die oud en in met die nuut. Dit is tyd vir ’n nuwe Reggie, ’n nuwe manier van dink, en ’n nuwe aanvaarding van myself en waar ek vandaan kom. God het my lewe vernuwe en ek gaan die beste daarvan maak.”

Buiten vir die indrukwekkende snitte uit sy eie pen, het hy ook saam met name soos Romie Boy, Just J, Khanyisizwe Nkosi en Petronel Baard gewerk op die album. Hy was ook gelukkig genoeg om twee briljante vervaardigers, DJ Darkness (oftewel Calvin Botha, wat tien liedjies vervaardig het) en Wesley West (oftewel Wesley van der Westhuizen, wat twee liedjies vervaardig het) aan boord te hê om dinge nog meer interessant te maak.

Die musikant verduidelik dat dit moeilik is om ’n gunsteling-liedjie uit te sonder, maar erken dat Nuwe Lewe (saam met sy broers), Genade (deur Wesley West vervaardig) en Forever hom na aan die hart lê. “Ek wil hê my musiek moet mense inspireer en motiveer om te dans, leef, lief te hê en te dink… want die lewe is kort.”

Reggie Peace, oftewel Reginald Hufkie, is ’n gewilde Suid-Afrikaanse akteur, musikant, draaiboek- en liedjieskrywer. Hy het in 2019 amptelik begin naam maak nadat hy prominente rolle losgeslaan het in produksies soos die Silwerskermbekroonde kortfilm, Cowboy Dan (2018), Generations: The Legacy (Luke), Die Spreeus en Huis Lelieveld (Spanner). Sedertdien was hy te sien in verskeie suksesvolle verhoogproduksies, advertensies en televisiereekse.

In 2013 was hy deel van die gospelgroep, Gospel Goes Beyond, wat ’n platekontrak by Zinto Records gehad het. Daarna was hy in ’n Kletsrym- / RNB-groep met die naam Peacemaker, waarna hy in 2018 besluit het om ’n solo-kunstenaar te word. Hy is bekend vir liedjies soos Frequency, Do It – Peacemaker, Hoekom?, Kos Op Die Tafel (KODT), All That Matters, Better, Move, The Struggle is Over en In Die Vlei, wat deel was van die Afrikaanse reeks –  Arendsvlei – se temamusiek.

Wanneer hy nie besig is om aan sy nuwe album te werk nie, is hierdie veelsydige vermaaklikheidskunstenaar besig om ’n draaiboek te skryf, toneel te speel en motiveringspraatjies te doen. Sy droom is om onvergeetlike Suid-Afrikaanse stories te skep in alle mediums wat hy tot sy beskikking het en is dankbaar vir die sukses wat sy musiek sover plaaslik en internasionaal bereik het.  

“My eerste album deel verskeie kante van my persoonlikheid en daarom was dit belangrik om inhoud te kies wat opreg, eerlik en kreatief is… om ’n storie te vertel waarby almal kan aanklank vind,” sluit hy af.

Die album is nou beskikbaar op alle digitale platforms. Kry dit hier: https://distrokid.com/hyperfollow/reggiepeace/nuwe-lewenew-life

LYS VAN SNITTE

Nuwe Lewe met Just J en Romie Boy

Where Is?

Haal Asem

African Queen met Khanyisizwe Nkosi en Petronel Baard

Nader

Distraction

Forever met Peacemaker 

Genade

The Struggle Is Over

Don’t Worry

As Die Son Opkom met Romie Boy

Is Jy Nca? 

BONUSSNITTE

Trou Met My

Feisty en Souserig

In Die Vlei  

SOSIALEMEDIASKAKELS:

Facebook: https://www.facebook.com/ReggiePeaceInt/
Instagram: @reggiepeace

PUBLISITEIT & BEMARKING:

STARBURST PROMOSIES

Alishia van Deventer
Sel: 083 635 4717
E-pos: alishia@starburstmusic.co.za
Webblad: www.starburstmusic.co.za