Cornel Viljoen steel harte met nuwe popsnit en musiekvideo: As jy naby is

Liedjies word op verskillende maniere geskep… soms met ’n spesifieke idee en boodskap in gedagte en ander kere vloei die woorde en melodieë net perfek saam om lewe te gee aan ’n lekkerluister popsnit.

Dit is presies hoe die musikant en liedjieskrywer, Cornel Viljoen, se nuutste enkelsnit – AS JY NABY IS – ontstaan het en hy hoop dat dit die nodige emosie by luisteraars sal ontlok.

Die liedjie lê my na aan die hart, omdat ek partykeer ver voel van almal af. Ons lewe is soms so ’n gejaag dat jy nie eers agterkom dat jy tussen mense is nie… en al is jy tussen hulle, kan jy steeds alleen voel. AS JY NABY IS herinner my hieraan,” verduidelik die sanger. “Ek dink die snit kan luisteraars baie plekke heen vat, hetsy fisies of emosioneel. Mense sal daarvan hou omdat dit uniek is en ek dit my eie probeer maak het met dromme, kitaar en 80’s klanke in die agtergrond.”

KYK DIE VIDEO HIER:

Cornel het aanvanklik ’n rockliedjie in gedagte gehad. Nadat hy dit egter op die klavier gespeel het, het hy besef dat dit ’n sagter aanslag moes hê. Hy het die opname self behartig en met die hulp van Peach van Pletzen gefinaliseer.

Johan de Kock was verantwoordelik vir die opname van die besonderse musiekvideo. Dit is in die klein Vrystaatse dorpie, Memel, verfilm omdat die musikant baie spesiale herinneringe het daar. “Ek wou dinge eenvoudig hou en ’n optrede-video gehad het. Maar dit het ontaard in soveel meer. Ek is baie nostalgies oor Memel en toe ek hierdie lied geskryf het, het ek dadelik gedink om die video daar te skiet om die boodskap oor te bring van iemand wat ver voel van sy geliefde wat eintlik naby aan hom is,” deel hy.

AS JY NABY IS is sy derde enkelsnit en volg in die voetspore van Ek Weet en Wonderwerkwat tans oor radiostasies landswyd gehoor kan word. Beide snitte word ook gekomplementeer deur pragtige musiekvideo’s wat op YouTube beskikbaar is.

Cornel het in Vereeniging grootgeword en is reeds vanaf 2009 amptelik in die musiekbedryf doenig as deel van die groep, Splinter Town, wat bekend is vir die liedjies, Broken Sky, The River en Calling You. Hulle het ook die voorreg gehad om saam met groot name soos Dr Victor and the Rasta Rebels, Van Coke Kartel en Die Heuwels Fantasties op te tree.

Alhoewel hy al op veertien begin kitaar speel het, by COPA studeer het, baie betrokke is by die musiekbediening in sy kerk en vir verskeie kunstenaars liedjies geskryf het, het hy eers onlangs besluit om op sy solo-loopbaan ’n kans te gee.

Hy geniet musiek met ’n boodskap en sonder Die Heuwels Fantasties en Spoegwolf uit as groepe saam met wie hy nog graag eendag sou wou werk.

Enige musiek met ’n mooi boodskap en melodie is vir my stunning. Ek wil ook so skryf en my werk moenie in ’n boksie geplaas word nie – dit moet iets van alles wees”, sê hy.

Cornel het ’n groot liefde vir kosmaak en toneelspeel, maar musiek bly vir hom die belangrikste en vir nou fokus hy daarop om mense se harte te raak met wat hy skep.

Hy het geleer dat harde werk, passie en oefening baie belangrike bestanddele is as jy graag sukses wil bereik. AS JY NABY IS is nie net ’n pragtige resultaat van die werk en passie wat hy reeds in sy loopbaan belê het nie, maar is ook een van daai liedjies wat jou sal bybly lank nadat jy dit vir die eerste keer gehoor het.

Die liedjie is nou op alle digitale platforms beskikbaar. Kry dit hier:
Apple Music: https://music.apple.com/za/album/as-jy-naby-is/1590291211?i=1590291213
Spotify: https://open.spotify.com/track/1zqa3adSl6xJqbPeiwQb6r?si=mkMQM_SfRyOhLCWGHc3j5w


SOSIALEMEDIASKAKEL
Facebook: https://www.facebook.com/profile.php?id=100011425532741
Instagram: @cornel_vil
Twitter: @Cornel86293383
TikTok: @cornellwonder