Christiaan Baartman stel nuwe enkelsnit, Net ‘n Bietjie, vry!

Nie alle treffers word in ’n dag geskryf nie. Soms skaaf jy vir jare aan ’n liedjie om die perfekte eindresultaat te kry en Christiaan Baartman se nuutste enkelsnit is ’n goeie voorbeeld hiervan.

NET ’N BIETJIE is vrolike Afrikaanse popliedjie wat lekker val op die oor en jou voet onwillekeurig sal laat saamtik op die maat van die musiek.

“Ek het die snit al in 2006 geskryf, maar het besef dat ek baie gegroei het oor die afgelope vyftien jaar. Daarom het ek vir hom ’n nuwe baadjie aangetrek, my hand aan kletsrym gewaag en verse bygeskryf voordat ons hom opgeneem het,” verklap hy.

Dié prettige liedjie vertel die storie van liefde wat nie gebreek kan word nie, ten spyte van ander mense se opinies. “Dit gaan oor ’n outjie wat verlief is op ’n vroutjie en hoe sy verlief is op hom,” verduidelik die Huisgenoot Tempo- en Ghoema-bekroonde musikant. “Toe ek dit geskryf het, was ek mal verlief en ek wou dit in ’n liedjie vasvang.”

Hierdie snit presteer al vir ’n ruk lank goed op Spotify en is een van sy liedjies wat die meeste geluister word. Daarom glo almal dit gaan nog groot hoogtes bereik.

NET ’N BIETJIE volg in die voetspore van sy vorige enkelsnit en musiekvideo, Stof, wat steeds oor die radio gehoor en op die kassie gesien kan word. 

Gedurende inperking, het hy ook snitte soos ’n Vriend Soos Jy (’n lekkerluister-duet saam met Mack Rapapali), My Vrou en Die Beste Deel uitgebring, wat baie goed ontvang is en bo-aan verskeie treffersparades gekuier het. 

Christiaan is al byna vir twee dekades in die musiekbedryf doenig en het sy eerste album in 2008 uitgereik.

Die sanger beskou dit as ’n absolute voorreg om musiek te maak en is tans besig om aan ’n nuwe duet saam met Mack Rapapali te werk en aan ’n kinderalbum te beplan. Hy wil ook graag nog ’n draai in Nashville gaan maak en Suid-Afrika plat toer met sy musiek.

NET ’N BIETJIE is ’n opgewekte liedjie, met ’n positiewe boodskap, wat aanklank sal vind by ’n wye gehoor. “Om gelukkig te wees, is besonders belangrik en om musiek uit te bring wat mense laat glimlag maak dit moontlik. Hierdie liedjie doen presies dit en is wat ek met my musiek wil bereik,” sluit hy af.

Die liedjie is nou beskikbaar op alle digitale platforms. Laai dit hier af: https://distrokid.com/hyperfollow/christiaanbaartman/net-n-bietjie

SOSIALEMEDIASKAKELS:

Facebook: https://www.facebook.com/christiaankrit/   
Instagram: @christiaanbaartman
YouTube: https://www.youtube.com/user/ChristiaanRock/featured?view_as=subscriber  

PUBLISITEIT & BEMARKING:

STARBURST PROMOSIES

Gizela Arndt
Sel: 083 399 6869
E-pos: gizela@starburstmusic.co.za
Webblad: www.starburstmusic.co.za