Arnold de Wet stel eerste enkelsnit bekend vanuit die hart van The Shelter

Die bekende gospelsanger, Arnold de Wet, het pas sy eerste enkelsnit vrygestel onder die gewilde Afrikaanse platemaatskappy, Inhoud Huis Musiek, se splinternuwe been, THE SHELTER

THE SHELTER is die breinkind van Johan Vorster en Jacomien de Villiers en is ’n platform wat daarop fokus om moderne aanbiddingsmusiek te skep en te versprei. 

“Die idee is om vir plaaslike lofprysings- en anbiddingsleiers die geleentheid te gee om saam met Inhoud Huis Musiek te werk om hulle musiek daar buite te kry,” verduidelik Johan, wat al verskeie bekroonde albums vir bekende sekulêre kunstenaars soos Bok van Blerk, Lianie May, Dewald Wasserfall, Karlien van Jaarsveld, Appel, Roan Ash en meer vervaardig het. “Ons wil ook nuwe geestelike musiek skryf en vervaardig wat in kerke regoor die wêreld opgeneem kan word as deel van hulle dienste.” 

Arnold is die eerste kunstenaar wat musiek onder hierdie vaandel vrystel en Bernice West is kort op sy hakke. Buiten vir Johan en Jacomien, is Robin Keilly ook voltyds aan boord as vervaardiger. 

“Arnold is ’n opgeleide pastoor en aanbiddingsleier wat in die bediening staan. Dit was vir ons belangrik om die mark te betree met iemand wat ’n goeie kennis het van Die Woord en sy eie musiek skryf wat drup van die salwing van die Heilige Gees,” sê Vorster. 

THIS IS WHO I AM WITHOUT YOU is ’n gesamentlike poging deur Arnold, Johan en Jacomien, wat geïnspireer is deur ’n donker tydperk in Arnold se lewe waarin hy besef het hoeveel hy God in sy lewe nodig het. 

Kyk gerus na hierdie kort video met ’n  treffende boodskap deur Arnold wat inskakel by die enkelsnit:  https://youtu.be/lA5C0YdKaKs

Hierdie Christelike kontemporêre snit is in 2021 voltooi en het ’n opbouende boodskap, wat luisteraars sal herinner om hulle fokus op die regte plek te plaas. 

Volgens Johan bevat hierdie liedjie die perfekte bestanddele wat nodig was om THE SHELTER mee bekend te stel: “Dit maak die treffende stelling dat ons verlore is sonder die Here se genade en dat ons nie goed in ons eie vermoë hoef te vermag nie en die kommersiële melodie is ’n lekker oorwurm wat lank in jou kop bly.” 

’n Musiekvideo van die snit is ook reeds op die kassie te sien en is deur Dan en Jannes van Fokkid Media in Verneukpan verfilm. Hierdie area is simbolies van ’n plek waar jy jou pad kan verloor sonder dat jy dit besef, wat mooi aansluit by die tema van die lied. 

“Die pan strek vir kilometers ver en het ’n gevoel van leegheid en verlatenheid geskep,” deel Arnold oor die idee agter die video. “Dit is ’n ongelooflike plek, wat almal ten minste een keer in hulle lewe moet besoek as hulle kan.” 

Kyk die video hier: 

Arnold het in Hartbeespoortdam grootgeword en is die seun van die bekende sanger, Jan de Wet. As kind, was hy altyd omring deur musikante wat ook sy passie vir musiek laat vlam vat het.

Hy het meer as twee dekades gelede die musiekmark betree met die vrystelling van ’n album saam met die destydse platemaatskappy, Maranatha, waarna hy vir sewentien jaar sy musiekdroom opsy geskuif het.

Dit het eers onlangs weer vlam gevat en na die opname van sy vorige enkelsnit, Run, het sy paaie met die van Inhoud Huis Musiek gekruis en het hulle hom genader om deel te wees van hulle nuwe projek.

Oor die vooruitsig om betrokke te wees by THE SHELTER, sê hy: “Ek voel bevoorreg om deel te wees van hierdie platform en sien uit daarna om wonderlike inhoud te skep vir die plaaslike en internasionale gospelmark. Ons doel is om die liedjies in ons harte om te skakel in temaliedjies vir kerke regoor die wêreld.”

THE SHELTER is doelgerig om lewens te verander deur middel van musiek en met ’n liedjie soos THIS IS WHO I AM WITHOUT YOU is hulle beslis op die regte pad.

Laai die enkelsnit hier af: https://TheShelter.lnk.to/ThisIsWhoIAmSingle

SOSIALEMEDIASKAKELS
ARNOLD DE WET
Facebook
https://www.facebook.com/Arnolddewetmusic 
Instagram: @arnolddewetmusic 
YouTubehttps://www.youtube.com/channel/UCIH3t_e4rNoRbOaeMywpw2w

THE SHELTER
Facebook: 
https://www.facebook.com/theshelterlabel 
Instagram: 
@theshelterlabel_