Freddie Hawman stel nuwe enkelsnit, Centerfold, vry!

Na die sukses van sy debuut-enkelsnit – We Belong – laas jaar, is die gewilde popsanger, Freddie Hawman, terug in die kollig met ’n splinternuwe liedjie wat hy saam met Riku Lätti geskryf het.

Oor CENTERFOLD, sy tweede enkelsnit wat deur Mean Mr Mustard se Mark Beling vervaardig is, deel hy: “Dit is ’n goedvoel-popsnit wat ’n vergelyking tref tussen die dinge in die lewe wat jou gelukkig maak en daardie spesiale persoon wat jou hart laat vinniger klopEk het dadelik aanklank gevind by die positiewe boodskap en opgewekte tempo van die lied en hoop mense sal dit geniet om daarna te luister.”

’n Musiekvideo van dié lekkerluister-snit, wat deur ’n sorgvrye motorrit geïnspireer is, sal ook eersdaags beskikbaar wees.

Freddie, wat in Pretoria gebore is, was van jongs af passievol oor musiek. Alhoewel hy al kitaar speel vandat hy nege is, het hy eers in 2020 begin oorweeg om ’n loopbaan van musiek te maak.

Dié een-en-twintigjarige musikant, tans ’n derdejaar BCom Informatika-student aan die Universiteit van Pretoria, het sy eerste enkelsnit in April 2021 uitgereik en reeds verskeie musiektoekennings ingepalm, waaronder Beste Sanger op IntreevlakBeste Popmusiek-student en Beste Stem met Instrument-student van die Jaar by die The Legends of Arts SA Championships. Verder het hy ook al die voorreg gehad om voorvertonings te doen vir Loki Rothman en The Debbi Lonmon Band.

Sy kitaaronderwyser en lid van die duo Little Sister, Debbi Lonmon, is sy grootste rolmodel, terwyl kunstenaars soos Billie Eilish, Dean Lewis, The Beatles en Queen ook ’n groot invloed op sy musiekstyl gehad het.

Freddie luister na ’n wye verskeidenheid musiek, en vind veral inspirasie in die musiek van deurwinterde sangers soos Neil Diamond, Tracey Chapman, Bruce Springsteen en meer.

As hy ’n ander loopbaan moes kies, sou hierdie sportliefhebber graag ’n professionele gholfspeler wou wees. Wanneer hy nie sing nie, geniet hy dit om renmotors op te bou en tyd in die kombuis te spandeer.

Die jong musikant se planne vir die toekoms, sluit die vrystelling van nog musiek en soveel optredes as moontlik in. “Ek probeer om myself as ’n onafhanklike kunstenaar te vestig. Dit is ’n duur en uitdagende proses, met geen vangnet nie. Ek is egter gelukkig genoeg om my ouers se ondersteuning te hê,” sê hy. 

Freddie Hawman glo dat sy musiek altyd vars en uniek moet wees en hy hoop dat gehore van alle ouderdomme CENTERFOLD sal geniet.

Die enkelsnit is nou aanlyn beskikbaar. Kry dit hier:

Apple Music: https://music.apple.com/za/album/centerfold/1613286946?i=1613286959
Spotify: https://open.spotify.com/album/38Ku4PjPzVZ88uprcvyJCq?si=n6my5uHfQc6fa9-xeqbdIg

SOSIALEMEDIAKSKAKELS:
Facebook: 
Freddie Hawman
Instagram: @freddiehawman
Twitter: @freddiehawman
YouTube: https://www.youtube.com/channel/UCLqZnlNq8Z6fP65rTb-7fAA

PUBLISITEIT & BEMARKING:
STARBURST PROMOSIES

Alani Coetsee
Sel: 072 442 6918
E-pos: alani@starburstmusic.co.za
Webblad: www.starburstmusic.co.za