Agter-die-skerms met Victor Bravo se nuwe musiekvideo

Die bekende groep, Victor Bravo, se splinternuwe enkelsnit, Solank Die Liefde Bly, is pas vrygestel en aanhangers kan uitsien na ‘n lekker musiekvideo wat op Saterdag 6 Augustus amptelik vrystel.

Die musiekvideo, wat die boodskap van die snit perfek vasvang, is deur Gerduan Kemp van Gerduan Kemp Photo & Film verfilm by Sowaar Bar en Sowaar Studios, asook by ’n splinternuwe Airbnb in Villieria, Pretoria.

In die video sing die hoofkarakter (Weco) alleen by ’n kroeg, terwyl die res van sy orkeslede (Jopie, Janes en Jean West) ook elkeen in afsondering by hulle eie huise musiek maak. Soos wat die liedjie opbou, sluit hulle egter een-vir-een by hom aan op die verhoog totdat hulle uiteindelik weer almal saam speel en ’n groot vertoning hou.

Die video versinnebeeld die idee van hoe alleen en afgesonder ons op ’n stadium was. In daardie tye het dit swaar gegaan, omdat ons mekaar nie kon ondersteun nie,” verduidelik Weco. “Soos wat dinge weer begin terugkeer het na normaal, het dit begin beter gaan en kon ons weer bymekaar uitkom. Solank ons mense het wat vir ons omgee, is daar altyd hoop.”

Ons deel graag ‘n kykie agter-die-skerms tydens die verfilming van hierdie musiekvideo, wat Saterdag-oggend 6 Augustus, deur Maroela Media vrystel.

STROOM SOLANK DIE LIEFDE BLY NOU OP ALLE DIGITALE MUSIEKPLATFORMS.