SUID-AFRIKAANSE SANGERES IN SWITZERLAND TOONSET GEDIG UIT DIE PEN VAN C. LOUIS LEIPOLDT
Anne-Marie van Eeden het een van daai stemme wat dadelik jou aandag trek wanneer jy haar vir die eerste keer hoor sing.
Oor die jare, het hierdie sanger en liedjieskrywer wat tans in Switserland woon, naam gemaak met haar hartsmusiek en daarom sal bewonderaars bly wees om te hoor dat die eerste enkelsnit, vanaf haar vyfde album wat volgende jaar vrygestel word, nou beskikbaar is!
WYS MY DIE PLEK is ’n sielvolle ballade wat gaan oor die hunkering na verlore liefde wat ’n paartjie eens op ’n tyd gedeel het.
Sy het dié gedig, uit die pen van C. Louis Leipoldt, self getoonset en die snit is deur Helmut Meijer vervaardig. “Hierdie gedig van was nog altyd vir my ontsettend treffend en ek wou dit al lankal toonset. Die woorde en tema van verlore liefde spreek tot my op ’n persoonlike vlak,” vertel sy. “My jarelange huwelik het ’n paar jaar terug tot ’n einde gekom en dit was ’n pynlike tyd in my lewe. Die woorde van hierdie liedjie sal aanklank vind by enigiemand wat al verlies of seer beleef het. Alhoewel die wysie eenvoudig is, draal dit lank in jou kop nadat jy dit gehoor het en vul dit jou met nostalgie.”
Anne-Marie is ook opgewonde oor ‘n musiekvideo van die pragtige toonsetting, wat handel oor die soeke en hunkering na ‘n liefde en ‘n lewe wat verby is en nou net in die herinneringe voortleef.
“Ek bly tans in Switserland en is omring met die mooiste ou geboue. Die eeue oue hobbelrige klipstraatjies en massiewe katedrale kan dalk die herinneringe vasvang waarna ek hunker. Alles lyk dan nog dieselfde… nes toe ons saam daar was lank gelede… net jy is nie daar nie,” vertel die kunstenaar oor die boodskap van die video.
Hierdie pragtige musiekvideo is in haar tuisdorp Montreux, geskiet by ‘n pragtige ou Kerk wat uitkyk oor die silver meer.
“Die visuele beelde plaas die kyker in die hart van Europa terwyl die woorde van Louis Leipoldt in Afrikaans, my geliefde moedertaal, weerklink,” vertel sy.
Chantelle Flores, ‘n fenominale videograaf van Kzara Visuals wat tans in Zurich woon, het die video vervaardig saam met die stilis en grimering kunstenaar, Tania Thompson van Montreux, Switserland.
Kyk die video hier: https://youtu.be/_SFhGiRxfQ0
“Die lirieke spreek tot almal wat herinneringe koester van verlore liefde. Dit lê vir myself baie na aan die hart vanweë my eie lewensverhaal,” voeg Anne-Marie by.
Dié Suid-Afrikaanse sanger en liedjieskrywer het haar debuut gemaak met haar eerste solo-album, Kyk Op, in 2003. Sedertdien het sy nog drie albums vrygestel, twee Lier-toekennings gewen en is sy benoem vir ’n Ghoema (2017), maar sy meen dat luisteraars se terugvoer – oor hoe haar musiek hulle harte geraak het – haar grootste hoogtepunt is.
Hierdie veelsydige ster wat in Pretoria grootgeword het is ’n ma (en ouma), onderwyser en ‘n koorleier en sy het ook twee kinderkore oorsee gestig. Sy is ook ‘n lid van die vrouebediening, KeeperSoul.
Haar musiek kan beskryf word as wêreld-musiek – ’n unieke kombinasie van klassieke-, jazz- en folk-klanke. Hoewel sy haar eie lirieke in Afrikaans en Engels skryf, is sy ook bekend vir haar vaardighede om geliefde Suid-Afrikaanse gedigte te toonset.
Volgens haar, is haar musiekstyl grotendeels beïnvloed deur kunstenaars soos Sting, Queen, Billy Joel en Diana Krall, maar sy geniet dit ook om na jazz, klassieke musiek en Latyns-Amerikaanse ritmes te luister. “Ek is mal daaroor om saam met my hond op die maat van hierdie musiek te dans – natuurlik waar niemand ons kan sien nie!”
Die musikant werk tans aan haar nuwe album saam met Helmut Meijer en beplan om volgende jaar in Suid-Afrika op te tree as deel van ’n bemarkingstoer. Sy is ook besig om aan ’n opwindende projek te werk saam met twee mede-Suid-Afrikaners. “Nadat ek besef het hoeveel Suid-Afrikaners in Switserland en regoor Europa woon, het ons besluit om SwissAfrican-fees te hou. Ons aanvanklike doelwit is om oud-Suid-Afrikaners te betrek, maar mettertyd wil ons ook graag musikante van Suid-Afrika nooi om deel te neem. Hou my blad dop vir meer inligting!”
Anne-Marie is bekend vir haar onkonvensionele benadering tot musiek en dit is juis wat haar nuutste vrystelling so uniek maak.
Wys my die plek is nou aanlyn beskikbaar. Kry dit hier: https://AnneMarieVanEeden.lnk.to/wysmydieplek
SOSIALEMEDIASKAKELS:
Facebook: https://www.facebook.com/annemarie.vaneeden.5, https://www.facebook.com/AnneMarievanEedenVerhaal
Instagram: @annemarievaneeden
YouTube: https://www.youtube.com/user/songave/featured
Webblad: www.annemarievaneeden.com
PUBLISITEIT & BEMARKING:
STARBURST PROMOSIES
Alani Coetsee
Sel: 072 442 6918
E-pos: alani@starburstmusic.co.za
Webblad: www.starburstmusic.co.za