Agter-die-skerms: Frikkie van Biljon se musiekvideo, HUIS
Die woord “huis” beteken verskillende dinge vir verskillende mense. Vir sommiges is dit bloot die plek waar hulle woon, maar vir ander het dit ’n dieper betekenis en verteenwoordig dit ’n plek waar hulle tuis voel en aanvaar word vir wie en wat hulle is.
Ongeag van waar jy vandaan kom of waarheen jy op pad is, het jy jou eie idee van wat jou huis is en dit is wat Frikkie van Biljon ondersoek in sy nuutste enkelsnit. HUIS, wat die sanger saam met Paul Venter en Jolanda Becker geskep het, vra die luisteraar waar hy of sy tuis voel.
Hierdie snit, wat deur Jattie de Beer van Artistry Productions vervaardig is, is geïnspireer deur Paul wat besluit het om die land te verlaat. “Ek en Paul is al vriende van universiteit af. Toe hy en sy vrou in 2018 besluit het om Nieu-Seeland toe te emigreer, het ek besluit om ’n laaste keer vir hom in die Kaap te gaan kuier,” vertel Frikkie. “Ons wou vir oulaas ’n liedjie saam skryf en omdat hy beplan het om die land te verlaat, het die vraag van waar jou huis is opgekom. Uiteindelik het ons tot die gevolgtrekking gekom dat jou huis nie ’n plek is nie, maar ’n persoon of mense.”
Die musiekvideo vir hierdie pragtige enkelsnit word op Vrydag 2 September bekendgestel, eksklusief op Maroela Media.
Ons deel so paar agter-die-skerms fotos van hierdie mooi produksie:

Agter-die-skerms: Gerduan Kemp Photo & Film
Musiekvideo: Winter Trail Pictures (Zander de Beer)
Verspreiding: Universal Musiek
Publisiteit: Starburst Promotions