VELVETBLOHM SE TWEEDE ENKELSNIT IS HIER!
Velvetblohm het oor die afgelope paar maande opslae gemaak met hulle unieke gesamentlike vertonings en eerste enkelsnit.
Nou is dié duo, wat bestaan uit die uiters begaafde musikante Jan Blohm en Ryno Velvet, weer op almal se lippe met die uitreiking van hulle tweede liedjie saam.
KAAP, ’n delikate kontemporêre rock-snit uit hulle eie pen, handel merendeels oor ’n vakansieromanse wat tot ’n einde kom en die sentiment wat daarmee gepaard gaan.
“Die karakters in KAAP deel hulle meegevoel en verlange oor die afstand tussen hulle, maar wens mekaar ook die beste toe,” deel hulle. “Ons wou die liedjie graag vanuit ’n storievertellersperspektief benader en dit was die inspirasie daaragter – ’n ongekompliseerde storie van teleurstelling, maar ook vernuwing.”
Net soos hulle vorige vrystelling, Tussen Die Lyne, wat nou nog op verskeie plaaslike treffersparades pronk is dié treffende lied ook deur Tertius Human vervaardig en beloof dit om die sukses van hulle vorige poging te oortref.
Alhoewel Blohm en Velvet reeds in 2006 en 2009 saam getoer het, het die idee vir ’n amptelike Velvetblohm-produksie eers aan die einde van 2021 posgevat toe hulle weer besluit het om saam op te tree. Wat begin het as ’n manier om hulle grootste treffers op ’n besonderse manier met bewonderaars te deel, het saam met Kobie Koen van Vonk Musiek ontwikkel tot ’n geleentheid om nuwe materiaal op te neem en vry te stel.
Die duo sien baie uit om meer van hulle musiek met luisteraars te deel en beplan ook om binnekort ’n album vry te stel.
Wanneer hy nie op die verhoog is nie, geniet Jan dit om te skilder en beeldhouwerk te doen. Hy is ook die eienaar van Jan Blohm-kunsgalery en Blohmhuis-teater en aanlyn winkel in die Strand.
“Blohmhuis-teater bied intieme vertonings vir besoekers en kunstenaars en om hierdie droom te kon bewaarheid is werklik ’n seën. Ek sien baie uit om dié projek verder te sien ontwikkel,” sê hy.
As Ryno nie sing nie, hou hy sy lyf grafiese ontwerper en fotograaf en geniet hy dit om musiek te vervaardig vir spesiale projekte.
Hy verklap: “Hierdie jaar het ek sover baie musiek geskryf en vervaardig. Buiten vir my werk saam met Jan, het ek ook saam met Fred den Hartog, Middelvinger en Albert Frost aan ’n rock-album begin werk en skryf ek ook graag liedjies vir ander kunstenaars.”
KAAP bou voort of die suksesvolle fondasie wat hierdie twee veelsydige manne reeds vir hulleself gelê het en laat jou uitsien na wat hulle volgende beplan.
“Hierdie liedjie is ’n toeganklike, bitter soet verhaal wat op die uiteinde iets los vir die verbeelding – ’n resep wat ons voel die luisteraar gaan vermaak en terselfdertyd ook sal laat dink,” sluit hulle af.
Dis nou aanlyn beskikbaar, kry dit hier: https://linktr.ee/velvetblohm
SOSIALEMEDIASKAKELS
JAN BLOHM
Facebook: https://www.facebook.com/janblohmfanpage/
Instagram: @janblohm2020
Twitter: @JanBlohm
RYNO VELVET
Facebook: https://www.facebook.com/velvetryno
Instagram: @rynovelvet
Twitter: @rynovelvet
PUBLISITEIT & BEMARKING
Starburst Promosies
Gizela Arndt
Sel: 083 399 6869
E-pos: gizela@starburstmusic.co.za
Webwerf: www.starburstmusic.co.za