HOEZIT SAMELEWING SE FRANCOIS BOYCE STEL DEBUUT-ENKELSNIT VRY!

Francois Boyce het bekendheid verwerf vir sy sosialemediaplatform en handelsmerk, Hoezit Samelewing, wat met nagenoeg 80 000 volgelinge spog.

Hierdie veelsydige vermaaklikheidskunstenaar was nog nooit bang om groot te droom nie en met die uitreiking van sy eerste enkelsnit en musiekvideo verwesenlik hy nóg een van sy groot lewensideale.

MEISIE VAN FRASERBURG is ’n voetjeuklekker Afrikaanse sokkietreffer wat hy saam met Landru Ehlers van die groep Wolwe-Dans geskryf het.

Volgens hom is die snit geïnspireer deur sy eie liefdesverhaal. “Francois Boyce van Hoezit Samelewing het sy aster ontmoet in ’n Noord-Kaapse dorpie genaamd Fraserburg. Hy is hierdie raserige persoonlikheid, wat die hele vertrek oorneem en vir haar ouers vra of hy met haar kan trou… en hulle het ja gesê,” deel hy. “As musikant is dit ’n voorreg om jou storie in liedjieformaat te kan vertel, veral as dit gaan oor die een mens wat jou lewe kom verander het.”

Dirk van Niekerk van Noted Music het die liedjie vervaardig en die sanger meen dat luisteraars dit sal geniet omdat dit ’n lekkerluister-wysie het wat hulle lank sal bybly en uitnooi om te dans.

Om nog meer betekenis te gee aan dié besonderse snit, deel hy dat hy binnekort die knoop gaan deurhaak. “Ek kan nie wag om ’n leeftyd saam met Amoré te spandeer nie. Ons droom al klaar daarvan om drie kinders te hê en die name is klaar uitgekies, mits hulle natuurlik uitkom soos wat ons gedroom het.”

Francois het in ’n musikale huis in Jan Kempdorp groot geword en hy speel al klavier vandat hy vyf jaar oud is. Hy was in graad 10 toe hy begin het met formele sangopleiding en om optredes en voorvertonings vir bekendes te doen.

In 2009 het hy by funksies en feeste begin optree en selfs sy lyf seremoniemeester begin hou en dit was vir hom heerlik om sy passie en talent uit te leef.

Later het hy ook besef dat hy graag met kinders wil werk en dit het gelei tot die ontstaan van sy kinderproduksie, Franna – ’n humoristiese verhoogstuk wat gaan oor ’n twaalfjarige seuntjie wat leer om die lewe te hanteer.

Gedurende inperking, wou hy graag aanhou om mense te vermaak en het hy begin om lawwe video’s op sy persoonlike Facebook-blad te deel. Dit het soveel aftrek gekry, dat hy besluit het om Hoezit Samelewing te begin en die res is geskiedenis.

Hierdie platform is ’n plek waar mense kan saam lag, ontspan en geïnspireer word deur wyshede van die wêreld en die mense daarin,” verduidelik hy. “Elke video wat ek plaas word deeglik beplan en ek het ’n ongelooflike span saam met wie ek werk en help beplan en droom. Humor het die vermoë om die angel te haal uit iets wat jou kwaad of gespanne maak. As jy dit reg gebruik, kan jy iemand help om iets te besef, te leer en te verander. Ek wil my beste gee om hierdie wêreld ‘n beter plek te maak. Ek is nie ’n politikus, dokter of een of ander ingenieur nie, maar ek het ’n talent en ek glo ek het ’n verantwoordelikheid om dit te gebruik.”

Humor, hoop, geloof en om met mense te werk is sy grootste inspirasie en hy beskryf sy stem as iets wat mense op hulle gemak sal stel in enige omstandighede.

Alhoewel hy van enige musiek hou, is treffers uit die 80’s hoofsaaklik sy gunsteling. Plaaslik vind hy aanklank by kunstenaars soos Corlea, Nicholis Louw en Chris Chameleon en sou hy graag nog eendag saam met ’n legende soos Nataniël wou werk.

Buiten om te sing, hou Francois homself besig met die uitbreiding van sy handelsmerk en werk hy aan nog musiek en ander opwindende projekte.

Francois glo dat elke musikant ’n unieke klank het en getrou moet bly aan wie hulle is. Met MEISIE VAN FRASERBURG maak hy nie net amptelik sy buiging in die plaaslike musiekbedryf nie, maar wys hy ook vir musiekliefhebbers wie hy is.

Ek glo hierdie dis die begin van ’n ongelooflike lekker reis waaroor ek baie opgewonde, maar tog ook gespanne, is. Maar ek kan nie wag om my musiek met die wêreld te deel nie,” sluit hy af.

Die liedjie is nou aanlyn beskikbaar. Kry dit hier: https://francoisboyce.lnk.to/MeisieVanFraserburg

SOSIALEMEDIASKAKELS

Facebook: https://www.facebook.com/hoezitsamelewing

Instagram: @hoezitsamelewing

Webwerf: https://www.hoezitsamelewing.co.za/

YouTube: https://www.youtube.com/channel/UC8ePppnGMSLRzRWiCu4RHMA

TikTok: https://www.tiktok.com/@hoezitsamelewing?lang=en

PUBLISITEIT & BEMARKING:

STARBURST PROMOSIES

Gizela Arndt

Sel: 083 399 6869

E-pos: gizela@starburstmusic.co.za

Webwerf: www.starburstmusic.co.za