JAN RHAAP VERKLAP JAGNAWEEK-GEHEIME IN NUWE ENKELSNIT

Jan Rhaap, met sy rasperstem en lekkerluistermusiek, vermaak gehore al vir meer as ’n dekade en hy het nog baie opwindende planne vir die toekoms.

Met sy nuutste enkelsnit, JAGVAT, bewys hy net weereens hoekom sy musiek so gewild is.

Die snit kan beskryf word as ’n opgewekte country-pop-liedjie wat elemente van boeremusiek bevat en is deur Tertius Human van Coolerbox Studios vervaardig.

Ons het oor die jare al baie jagters gehad wat by ons kom jag het op die plaas. So ’n jaggroep bestaan altyd uit dieselfde ‘karakters’, hulle name verskil net van groep tot groep. Die manne praat gewoonlik nie baie uit oor so ’n naweek nie, maar met hierdie liedjie sal die vrouens nou ook weet wat min of meer op so jagnaweek gebeur. As ek nou so daaroor dink, het ek eintlik die liedjie vir die vrouens geskryf,” verduidelik hy oor die nuutste vrystelling uit sy eie pen.

Vonk Musiek en Coolerbox was aan die stuur van die musiekvideo, op Mbizi Game Lodge net buite Bela-Bela, verfilm is en die humoristiese tema van die liedjie perfek komplementeer. Die video vertel die storie van drie jagters wat op hulle jagnaweek is en hoe elkeen se karakter verskil, maar tog nodig is om die jag ’n sukses te maak. Hierdie video gee die vrouens ’n vinnig kykie oor die gebeure wat plaasvind op so jagnaweek,” vertel hy. “In plaas van akteurs, het ek eerder vriende gekry om regtig te kom jag op die plaas. Die video beloof om ’n glimlag op mense se gesigte te sit.”

Kyk die video hier: https://youtu.be/I6wFVlmQawQ

JAGVAT volg kort op die hakke van Jan ek kan nie dans nie, waarvan die musiekvideo meer as ’n miljoen trefslae op YouTube gehad het.

Beide enkelsnitte volg in die suksesvolle voetspore van treffers soos Huisie in die Bos, wat hy saam met Juan Boucher geskryf het en waarvan die video reeds meer as 4.6-miljoen kyke op YouTube gehad het, en Ramskilpad wat op verskeie treffersparades gepronk het en ook reeds deur meer as 1.5-miljoen mense gesien is.

JAGVAT is ook die titelsnit van dié talentvolle sanger en liedjieskrywer se nuwe kortspeelplaat wat bestaan uit ses snitte, wat spog met Jan Rhaap se kenmerkende country-pop-rock-klank.

Dit is vervaardig deur Tertius Human en is geïnspireer deur die mense en dinge waarvoor hy lief is. “Sommige liedjies is lekker om op te kuier, ander sal jou inspireer en dan is daar ook liefdesliedjies,” deel hy.

Jan Rhaap (38), oftewel Werner Burger, woon tans in die Noordkaap saam met sy gesin. Wanneer hy nie op die verhoog is nie, help hy sy pa en ouboet boer net buite Niekerkshoop; ’n klein dorpie tussen Griekwastad en Prieska.

Hy kom uit ’n baie musikale gesin en het oor die jare verskeie loopbaanhoogtepunte gehad, waaronder Ghoema-benoemings vir Nuweling van die Jaar (2015) en Beste Alternatiewe Album van die Jaar (2017). Net voor grendeltyd, het die musikant ook saam met ander bekendes op die 2020-Bokboot gekuier.

Tans is die sanger, wat daarvan hou om soveel tyd as moontlik saam met sy gesin te spandeer en in Desember pa word van ’n babadogtertjie, besig om te werk aan nuwe musiek wat hy binnekort met bewonderaars wil deel. Hy probeer ook om soveel as moontlik op te tree noudat dit weer moontlik is.

Jan is lief vir kultuur en tradisie en hou daarvan om te sing oor onderwerpe waarby mense aanklank vind. Daarom lê JAGVAT hom na aan die hart en glo hy dat mense dié treffer sal geniet.

Jag is ’n groot deel van ons kultuur en net soos wat mense verkies om Desember see toe te gaan, gaan hulle wintermaande bos toe. Jag gaan nie net oor skiet nie, maar ook oor die samesyn, en dis iets waarmee elke Suid-Afrikaner kan vereenselwig,” sluit hy af.

Die enkelsnit en kortspeelplaat is nou beskikbaar op alle digitale platforms. Kry dit hier: https://linktr.ee/janrhaap

LYS VAN SNITTE:

Jagvat

Mooi tussen ons

2.4D

Pa staan vir jou

Weer verlief raak

Een tree

SOSIALEMEDIASKAKELS:

Facebook: https://www.facebook.com/janrhaap/

Instagram: @janrhaap

Twitter: @janrhaap

PUBLISITEIT & BEMARKING:

STARBURST PROMOSIES

Alani Coetsee

Sel: 072 442 6918

E-pos: alani@starburstmusic.co.za

Webwerf: www.starburstmusic.co.za