JAN BLOUKAAS REIK NUWE ENKELSNIT UIT TE MIDDE VAN KANKERSTRYD
Jan Bloukaas was nog nooit bang om uit die boks te dink, nuwe uitdagings aan te pak of hard te werk om sy drome te verwesenlik nie.
Dit is daarom glad nie vreemd dat hy, te midde van sy stryd met breinkanker, steeds positief en doelgerig is om nuwe musiek te deel en mense te inspireer nie.
Sy nuutste enkelsnit, SWEEF, is pas uitgereik en hierdie lekkerluister-popliedjie, uit sy eie pen en ateljee, is geskryf net voor inperking en gaan oor verhoudings.
“Die liedjie wys duidelik in watter rigting my musiek besig is om te beweeg en sover het ek baie goeie terugvoer gekry,” sê hy. “Omdat dit so persoonlik is, beskou ek dit as my beste lirieke tot op datum en daarom glo ek dat mense daarmee sal kan vereenselwig.”
SWEEF is die eerste vrystelling vanaf sy splinternuwe album, Vreemdeling, wat vroeg in 2023 uitgereik sal word.
Volgens die sanger en liedjieskrywer het sy lewe drasties verander gedurende die drie jaar waaraan hy aan dié album gewerk het. Nie net as gevolg van die pandemie nie, maar ook as gevolg van ’n ernstige motorongeluk en sy huidige diagnose.
Die album is geïnspireer deur die donker dele van die menslike persoonlikheid en die titel is gekies omdat dit nie voel asof hy die persoon ken wat hy die afgelope paar jaar was nie.
“Dit is die eerlikste opsomming van hoe ek daagliks voel. As gevolg van my huidige omstandighede, hoop ek om met mense te praat wat ook die afgelope ruk hartseer tye beleef het,” deel hy. “Ek probeer ’n nuwe fase ingaan met die album. Hierdie is die naaste musiek aan my siel. Dis my mees eerlike werk tot op datum.”
Jan Bloukaas, oftewel Jean du Plessis, was skaars klaar met skool in 2017 toe hy naam gemaak het met sy liedjie, Kaas Elke Dag, wat soos ’n veldbrand versprei het en gelei het tot ’n platekontrak met Universal Musiek.
Sedertdien het hy net van krag tot krag gegaan en spog hy met talle radio- en dans-treffers (waaronder kykNET en Chill, Boerseun en Desember), twee top-verkoper albums (Desember en The Party Starter), ’n platekontrak met Inhoud Huis Musiek en verskeie musiektoekenings.
Dié Kapenaar het ook die treffer, Dans, saam met Early B en Biggy opgeneem, asook die duet, Sterre Brand, saam met Janie Bay. Verder het hy ook al die verhoog gedeel saam met van die grootste name in die bedryf by van die gewildste musiekfeeste en -konserte in die land.
Hy deel dat sy musiek werklik iets is wat sy lewe weerspieël en dat hy veral inspirasie put uit ouer musiek. “My musiekstyl is ’n kombinasie van alles waarna ek luister en ek het ’n wye musieksmaak,” voeg hy by. Hy sal ook nog graag saam met Spoegwolf en Lucinda van Melktertkommissie wil werk.
Tans is hy besig met chemo-behandeling vir die gewas en is hy vasberade om positief te bly. “Ek het dubbelvisie ontwikkel en is deur ’n oogarts vir ’n MRI gestuur waar hulle die gewas ontdek het. Natuurlik was ek geskok en ontsteld oor die diagnose,” vertel hy. “Dit gaan op die oomblik goed met my en ek konsentreer op die behandeling eerder as die prognose. My geloof hou my staande en ek wil my siekte gebruik om te getuig van God se awesomeness.”
Met SWEEF bewys Bloukaas nie net hoeveel hy as musikant en mens gegroei het nie, maar bewys hy ook weereens hoekom hy sy plek in die plaaslike musiekmark verdien.
Dit is nou beskikbaar op alle digitale platforms. Kry dit hier: https://JanBloukaas.lnk.to/Sweef
Sweef (visualizer) Musiekvideo: https://www.youtube.com/watch?v=rpBSJlo8Vs0
SOSIALEMEDIASKAKELS:
Facebook: https://www.facebook.com/janbloukaasmusiek
Instagram: @janbloukaasofficial
Twitter: @janbloukaas
YouTube: https://m.youtube.com/channel/UCOWeETSkyD0jqP-ogS7c-OA
PUBLISITEIT EN BEMARKING:
STARBURST PROMOSIES
Alani Coetsee
Sel: 072 442 6918
E-pos: alani@starburstmusic.co.za
Webblad: www.starburstmusic.co.za