ROCKER, MARCEL DALMAYDA, SING OOR EERSTE ONTMOETINGS IN NUUTSTE ENKELSNIT
Marcel Dalmayda is al vir nege jaar in die musiekbedryf doenig en is veral gewild in rockmusiek-kringe. Met sy nuutste enkelsnit, KOM KRY VAN MYNE, bewys hy net weereens hoekom hy sy plek in hierdie genre verdien.
“Dit gaan oor die seksuele energie wat in musiek vasgevang is en daai aangetrokkenheid wat mense voel wanneer hulle mekaar vir die eerste keer ontmoet,” verklap hy oor die betekenis agter dié klassieke pop-rocksnit wat hy saam met Louwrens Bezuidenhout geskryf en vervaardig het.
Volgens hom, is die liedjie geïnspireer deur ouskool-rock en pas dit sy styl en stem soos ’n handskoen. “Dit is anders as die Afrikaanse musiek wat klaar bestaan. Dit is sexy musiek, wat energie en intensie kombineer en aanklank sal vind by ’n wye gehoor.”
Die musiekvideo, wat sy wortels in die 80’s het, fokus op die musikante wat musiek maak. “Daar is nie ’n spesifieke storielyn nie en die idee is om eg, eerlik en rou te wees en nie terug te hou nie,” verduidelik hy. Die video is deur Leon Barnardt verfilm en Marcel en Louwrens was self verantwoordelik vir die konsep.
Kyk die video hier: https://youtu.be/j5vb6ebAANE
KOM KRY VAN MYNE is die kunstenaar se vierde enkelsnit en volg in die voetspore van sy vorige Afrikaanse vrystellings, Dis Hoe Sy Dans en Bly Bietjie Langer, wat baie goed ontvang is en steeds oor die radio gehoor kan word.
Marcel het in 2013 professioneel begin sing, maar het eintlik in die kleuterskool sy debuut op die verhoog gemaak toe hy vyf was.
Dié Pretorianer spog met ’n indrukwekkende lys loopbaanhoogtepunte, waaronder sy blinde oudisie op en deelname aan The Voice SA in 2016, verskynings op Noot vir Noot en Musiek Roulette en vele meer.
Musiek was nog altyd deel van hierdie agt-en-twintig-jarige kunstenaar se lewe en hy is mal oor rockgroepe en -musikante soos Bon Jovi, Guns N Roses, Aerosmith, Billy Idol, Queen, Def Leppard, AC/DC en Mötley Crüe, wat almal ’n invloed gehad het op sy eie styl. Hy erken ook dat sy eie lewenservaringe en verhoudinge die grootste inspirasie is agter sy lirieke.
Tans is hy besig om te werk aan nuwe musiek en geniet hy dit om na die Covid-19-pandemie weer op die verhoog en tussen vriende te wees.
Marcel is konstant besig om na die volgende groot treffer te soek en met KOM KRY VAN MYNE is hy beslis op die regte pad.
Die liedjie is nou beskikbaar op alle digitale platforms. Kry dit hier: https://marceldalmayda.lnk.to/KomKryVanMyne
SOSIALEMEDIASKAKELS
Facebook: https://www.facebook.com/dalmayda/
Instagram: @dalmayda
Twitter: @dalmaydamusic
PUBLISITEIT EN BEMARKING
Starburst Promosies
Gizela Sharim
Sel: 083 399 6869
E-pos: gizela@starburstmusic.co.za
Webblad: www.starburstmusic.co.za