INDRUKWEKKENDE DROM-DUO BRING UNIEKE VERMAAK NA PLAASLIKE VERHOË

Om regtig ’n impak te hê in die plaaslike musiekbedryf, moet jy dit regkry om jou gehoor se aandag te trek én te hou.

DROMMEDARIS DRUM DUO het hierdie kuns oor die afgelope jaar vervolmaak en hulle musiek vind aanklank by oud en jonk.

Dié pa-en-dogter-groep, wat hulleself beskryf as ’n “drom-duo wat EDM-Trance-vermengings sing en speel op plastiese waterkanne” het gedurende grendeltyd ontstaan toe hulle planne om na Florida te emigreer nie uitgewerk het nie.

In die verlede het ons musiekskole gehad, waar ons studente deur middel van ons dromprojek geleer het om gesinkroniseerd te speel,” verduidelik hulle. “Net voor inperking het ons die skool en al ons besittings verkoop om te emigreer, wat toe nie gebeur het nie. Ons moes iets doen om te oorleef en het ’n klomp dromme op ’n leer vasgemaak en foto geneem. Die video van die eerste vertoning het viral gegaan en ons is steeds in die land.”

Sedertdien het dié musiekpaar – wat bestaan uit Hans Drommedaaris en Alika du Plessis – al verskeie groot vertonings gedoen by, onder andere, Sun City se Valley of the Waves, die Poison Rally, Kloof-vakansieoord en ’n Oujaarskonsert by Omaramba-vakansieoord.

Hulle het ook al die voorreg gehad om die verhoog te deel en te open vir groot name soos Francois van Coke, Jack Parow, Synth Peter, Spoegwolf, Bok van Blerk, Steve en Armand Hofmeyr, Nádine, Elandré, Fatman en vele meer.

DIE MENSE AGTER DIE MUSIEK

Hans Drom (soos hy homself noem) is al doenig in die musiekbedryf vandat hy vier is en sy ma hom geleer dromme speel het as deel van hulle gesinsorkes, die Soeveniers.

Na skool was hy vir ses jaar in die korrektiewe diens en weermag-orkes, waar hy sy lisensiaat in perkussie gekry en meer as veertig instrumente leer speel het. Hy was ook vir meer as twintig jaar ’n Afrikaanse komedie-sanger en is mal daaroor om mense te laat lag.

Omdat hy dit geniet het om met mense te werk, het hy ses musiekskole begin waar hy meer as 1 000 studente opgelei het. Hulle het ook ’n Afrika-rekord opgestel toe 40 drom- en 20 kitaarspelers saam gesinkroniseer opgetree het.

Hierdie 53-jarige musikant is mal oor metaal-, elektroniese en rockmusiek en vind aanklank by kunstenaars soos Fokofpolisiekar, Blacks Sabbath, Metallica, Def Leppard, David Guetta, Calvin Harris, Avicii, en meer.

Die musiekbedryf het hom geleer om nooit sleg te praat van ander musikante nie en vir elkeen ’n plekkie in die son te gun.

Hy woon tans saam met sy gesin op Omaramba-vakansieoord en geniet dit om sy passie uit te leef.

Alika du Plessis is 17 jaar oud en kon al dromme speel vandat sy drie is, waarna haar pa haar ook geleer het om verskeie ander instrumente te bemeester.

Sy het hoofsaaklik in Centurion grootgeword en het op die ouderdom van 11 begin om vir kinders en volwassenes kitaar- en dromlesse te gee.

Omdat sy geboelie is op skool en eerder op haar musiek wou fokus, het sy in graad 3 begin met tuisonderrig.

Haar ander passie is grimering en daarom is sy van plan om vanjaar in te skryf by KohL Makeup Academy. Haar grimeervideo’s op Instagram en TikTok is ook reeds baie gewild onder jong meisies en sy hoop dat haar kreatiwiteit hulle sal aanhou inspireer.

Katy Perry, Minelli, Synth Peter, Francois van Coke, Spoegwolf, Dua Lipa en Selena Gomez is almal op haar lys van gunstelinge en sy sal graag nog saam met almal van hulle wou werk.

Sy glo daaraan om net haarself te wees en nie toe te laat dat ander se opinies ’n negatiewe invloed op haar lewe het nie.

Alhoewel DROMMEDARIS DRUM DUO na inperking weer van vooraf moes begin, is hulle opgewonde oor die vooruitsig om ’n nuwe musiek-ateljee op die been te bring, hulle eie oorspronklike musiek te skep en plaaslik en internasionaal te toer.

Mense wat na ons vertonings toe kom, gaan iets sien wat hulle nêrens anders sal kry nie. Ons bied ’n energieke melodiese dromkonsert met gesinkroniseerde drompatrone en sang op plastiekdromme. Dit is uniek, omdat niemand anders in Suid-Afrika dit doen nie en dit gehore van alle ouderdomme sal vermaak,” sluit hulle af.

SOSIALEMEDIASKAKELS:

Facebook: https://www.facebook.com/people/Drommedaris-Drum-Duo/100065657643015/

Instagram: https://www.instagram.com/drommedaris_drum_duo/

YouTube: Drommedaris Drum Duo

PUBLISITEIT EN BEMARKING:

STARBURST PROMOSIES

Gizela Sharim

Sel: 083 399 6869

E-pos: gizela@starburstmusic.co.za

Webblad: www.starburstmusic.co.za