STEFAN JANSEN – ’N MORS VAN TYD IS NODIG
Tyd is kosbaar. Dit is iets wat versigtig gebruik moet word, veral omdat elkeen van ons slegs ’n bepaalde hoeveelheid toegedeel is. Elke oomblik, elke sekond wat verbygaan, is ’n geleentheid wat jy nooit weer sal kry nie. Of, so sê die wêreld vir ons.
Daarteenoor is tydmors soms die beste ding wat jy kan doen. Dit is die boodskap wat Stefan Jansen met WASTING TIME, sy nuwe kortspeler (EP),wil verkondig.
Vir Stefan was dit nodig om per geleentheid sy tyd te “mors”. Hierdie tydmors het hom na selfondersoek gelei en tot nadenke oor die dinge wat die somtotaal van sy menswees opmaak. Tydmors het eerder ’n geleentheid vir dié kunstenaar geword.
WASTING TIME is ’n versameling van vier liedere wat oor ’n tydperk van bykans tien jaar geskryf is. Elke lied herinner Stefan aan ’n weergawe van homself tydens ’n ander fase van sy lewe.
LOST BLOODLINE (2012) herinner hom aan ’n jonger en effens windgatter weergawe, terwyl WASTING TIME (2015) geskryf is in ’n tyd toe sy denke begin verdiep het.
SONG OF SILENCE (2020) was ’n keerpunt in sy lewe toe hy meer waarhede van die lewe begin raaksien het. WINDS OF CHANGE (2020) herinner hom om te besin oor die hoop wat nie beskaam nie.
Alhoewel al die liedere vir Stefan reusewaarde het, is dit SONG OF SILENCE wat vir hom uitstaan. “Dit is ’n lied wat my deur twee groot persoonlike reise geneem het; liefde en musiek,” verduidelik hy.
Al die liedere is deur Stefan geskryf en deur Tertius Human vervaardig. Volgens Stefan sou die musiek nie dieselfde gewees het sonder Tertius se aandeel nie. “Die musiek wat ek geskryf het, was maar ’n saadjie, maar Tertius het dit water gegee en dit het gegroei tot iets veel groter,” verduidelik die musikant.
Stefan het reeds bekendheid met sy Afrikaanse musiek verwerf: SUIKERBOS, KATRYN, LANKAL GEREED en JANIE.Sy liedjies het al talle nommer een posisies op verskeie radiostasies se trefferparades beklee. Dit sluit LekkerFM, Radio Rosestad en Bok Radio in.
Die musiekvideo van SUIKERBOS het vir hom ’n VONK-toekenning verseker vir “die Video van ‘n nuweling wat die vinnigste die 100 000 kykemerk verbygesteek het”.
Behalwe vir sy Suid-Afrikaanse gehoor het Stefan ook aanhangers tydens sy internasionale musiektoere na Switserland en Europa gewerf. In 2022 word sy album KATRYN as “Album van die jaar” aangewys deur Radio Spannenberg in Nederland.
Met sy Engelse musiek bou Stefan voort op sy goeie reputasie as ’n ware musikant. Sy Afrikaanse en Engelse snitte is geïnspireer deur sy eie ervarings. Stefan se vertolking hiervan sorg dat die lirieke universiële waarde kry.
WASTING TIME beklemtoon Stefan se veelsydigheid as skrywer, musikant en denker. Die vrymoedigheid wat hy het om sy ervarings op ’n eerlike wyse met die publiek te deel, is kenmerkend van die album.
Met WASTING TIME vestig Stefan sy wortels in die musiekmark en maak hy dit duidelik dat hy hier is om te bly.
WASTING TIME is nou beskikbaar op alle digitale platforms. Luister dit hier: https://linktr.ee/stefanjansenmusic
Kyk die video hier: https://youtu.be/cKYRkQcif3o
SOSIALE MEDIA
Facebook: https://www.facebook.com/StefanJansenMusic
Instagram: https://www.instagram.com/stefanjansenmusic/
PUBLISITEIT & BEMARKING
STARBURST PROMOTIONS
Danelle Liebenberg
Sel: 0715347796
E-pos: danelle@starburstmusic.co.za
Webblad: www.starburstmusic.co.za