VREDE DEEL HART & GOUD MET NUWE MUSIEKVIDEO

Vrede het pas die musiekvideo vir hulle enkelsnit Hart & Goud bekend gestel. Die alternatiewe folk duo, wat bestaan uit Storm Opperman en Francois Roux, is bekend vir hul opgewekde musiek wat ‘n positiewe boodskap uitstraal en Hart & Goud is geen uitsondering nie.

Hart en Goud handel oor die keuses wat ‘n mens moet maak om positief te bly ten spyte van moeilike omstandighede. Die lirieke en konsep vir Hart en Goud is deur Storm geskryf met Francois wat help skaaf het en die musiek geskryf het. ‘’Hart en Goud se titel is ‘n sinspeling wat verwys na uithou vermoë,’’ het Storm verklap. ‘’Elke mens op hierdie aarde het harde en moeilike tye om teen te veg. Een van die mooiste eienskappe wat jy kan hê, is om deur dit te werk en te weet dat dit ook sal oorwaai. Goeie tye en slegte tye is dinge wat almal deur gaan. Mens kan nie die lewe altyd beheer soos mens wil nie, maar mens kan jou reaksie beheer. Om deur moeilike tye te glimlag is iets wat my ma vir my geleer het en al is dit nie altyd maklik nie is dit ‘n les wat ek verewig saam met my sal dra.’’

‘Hart & Goud se produksie tap inspirasie uit twee van Francois en Storm se grootste musikale invloede; Jack Johnson en Red Hot Chilli Peppers. “Al is die twee verwysings nie eenders nie, het ons hard gewerk om die kalmte van Jack Johnson saam met die energieke gevoel van Red Hot Chilli Peppers te smelt. Ons het ook gehou by ons oorspronklike Vrede klank,’’ het Francois vertel.

Die konsep rondom Hart & Goud se musiekvideo is beplan om uit te beeld watter positiewe invloed musiek op iemand se emosies kan hê. Die video is ‘n kombinasie van die Vrede band wat optree en aktrise Dané de Waal wat die storielyn op haar eie dra. Die video begin met Dané wat lusteloos wakker word en haar oorfone aansit. As die musiek begin speel verander haar gemoed en begin sy deur die huis te dans. Dit is die impak wat Vrede met hul musiek wil maak.Hul uitgangspunt was om alternatiewe musiek te maak wat hart en ‘n boodskap het en om heeltemal weg te breek van die negatiewe beeld wat sommige alternatiewe musikante het.

Dit is duidelik dat die wêreld reg is vir ‘n bietjie Vrede met al hul liedjies wat tot op hede uiters goed gevaar het op radio. ‘’Ons is ongelooflik trots om te se dat elke liewe lied wat Vrede al uitgereik het ‘n nommer een op ‘n trefferparade behaal het. Ons is maar nuut in die AFrikaanse bedryf en dit is n voorreg om so goed te vaar in ons eerste bestaansjaar. Ons hoop ook verseker om die tendens voort te dra en ‘n nommer een te behaal met elke nuwe enkelsnit ook, lag Francois.

‘’Ons kry daagliks boodskappe van mense van wat hulle interpretasies is van ons lirieke. Dis ‘n ongelooflike ervaring om ons musiek daar buite te hê. Ek en Francois waardeer die proses en geniet elke sekonde,’’ het Storm gedeel.

Storm en Francois mag dalk jonk wees, maar hulle word al reeds geken aan die kwaliteit van hul optredes en het ook hierdie jaar vir die eerste keer by die Innibos kunstefees gespeel.

‘’Live vertonings is waarvoor ek en Francois leef. Dis die beste gevoel om ons musiek op groot verhoe te speel en te hoor hoe mense saam sing. Ek dink ons gunsteling optrede was by Innibos. Daar was ongelooflike klank en verskriklik baie mense en ons was baie bevoorreg om die verhoog te deel met baie talentvolle musikante,’’ vertel Storm.

Vrede is nou aan die begin van hul loopbaan en daar is nog baie om na uit te sien. Daar is ‘n nuwe kortspeler oppad en opwindende samewerkings saam met ‘n paar ander kunstenaars.

Vrede is tans besig om ‘n nasionale toer te beplan en be-oog ook om hul eerste vol lengte album op te neem. Hulle drome strek egter verder as net Suid-Afrika en beplan om binnekort musiek in Nederland en België ook beskikbaar te stel.

Kyk gerus die video hier: https://youtu.be/qJGnfOn9dmw

Luister gerus die snit hier: https://linktr.ee/vredeband

Sosiale media skakels:

Facebook: https://www.facebook.com/profile.php?id=100083113622946&mibextid=ZbWKwL

Instagram: https://instagram.com/officialvrede?igshid=MzRlODBiNWFlZA==

TikTok: https://www.tiktok.com/@officialvrede?_t=8dmq4AmJOpZ&_r=1

PLATEMAATSKAPPY:

Vonk Musiek

Tel: 011 823 1771 / 011 823 1772

E-pos: sing@vonk.co.za

Webblad: www.vonkmusiek.co.za

PUBLISITEIT & BEMARKING

STARBURST PROMOTIONS

Danelle Liebenberg

Sel: 0715347796

E-pos: danelle@starburstmusic.co.za

Webblad: www.starburstmusic.co.za