ANTON GOOSEN VERTEL ’N INTERESSANTE LIEFDESVERHAAL MET NUWE ENKELSNIT EN MUSIEKVIDEO

Die legendariese Suid-Afrikaanse sanger, regisseur en liedjieskrywer, Anton Goosen, het dekades terug reeds die kuns bemeester om luisteraars te bekoor met sy interessante lirieke en meesleurende deuntjies.

Met sy nuutste enkelsnit en musiekvideo, GIGI, bewys hy net weereens hoekom hy reeds sulke diep spore in die plaaslike musiekbedryf kon trap.

Nes die liedjie, vertel die musiekvideo die verhaal van ’n paaldanser van Velddrif in die Weskus wat nou in Johannesburg (Devilsdorp) woon en in ’n klub moet dans om haar brood en botter te verdien. Omdat sy so ’n wonderlike vrou is, vang sy die oog van haar “prins” Jerman wat haar vir ’n tydjie red uit haar omstandighede. Maar soos wat die tyd aanstap, sien sy hom al minder waar hulle saam op die boonste verdieping van die Ponte-toring, ’n hoë ronde gebou naby Hillbrow, woon.

GIGI is die tweede enkelsnit en video vanaf my nuutste album, ‘Sirkels’, en sluit aan by die tema van die album wat handel oor sirkels… Gigi wat draai om die paal, arende wat draai, waterkringetjies, en dit is net daar waar die arend in die gedrang kom. Maar ek gaan nie die einde weggee nie en dink elkeen moet dit interpreteer soos hulle graag wil,” sê die Liedjieboer oor die betekenis agter die snit.

Niel van Deventer het die vervaardiging en regie van die video behartig, terwyl Marta Vorontsova verantwoordelik was vir die animasie-aspek en Shaun Chad Smit vir die redigering. Buiten vir Anton , is Lise Swart, Neil Sandilands, Schalk Joubert en Illimar Neitz ook in die video te sien.

Kyk die video hier: https://youtu.be/z-iJE292oL8

GIGI volg in die voetspore van Bly By My, (My Lief), ’n gedig van Antjie Krog wat hy getoonset het, wat baie goed ontvang is.

Anton, wat algemeen as die vader van Afrikaanse rock beskou word, is in 1946 in die Karoo gebore en het in Kroonstad grootgeword. Oor die jare, het hy meer treffers op sy kerfstok versamel as enige ander Suid-Afrikaner, waaronder Silver de Lange, Boy van die suburbs, Byeboerwa, ’n Brief vir Simone, Kruidjie-roer-my-nie, Jantjie, Waterblommetjies, Harlekyn, Hanoverstraat, Trein na Matjiesfontein, Ta’ Mossie se sakkie-sakkie boeredans en vele meer.

Hy het al meer as 20 albums uitgereik, die musiek vir verskeie films geskryf en is ook tydens sy dekades-lange loopbaan as liedjieskrywer en sanger met verskeie toekennings vereer, insluitend SAMA-, Innibos-, en FAK-toekennings vir sy lewenslange bydrae tot musiek.

In 2022 het hy sy eie reeks vellies, Jantjie Veldskoen, in samewerking met Vellies Boutique bekendgestel en Anton Goosen: Liedjieboer, sy lewensverhaal wat deur die bekende joernalis Hanli Retief neergepen is, is in 2020 deur NB-uitgewers uitgereik.

GIGI is nou op alle digitale stromingsplatforms beskikbaar en is een van daardie liedjies waaroor bewonderaars nog lank gaan praat.

Laai dit hier af: xxx.

SOSIALEMEDIASKAKELS

Facebook: https://www.facebook.com/AntonGoosen

Webwerf: www.antongoosen.co.za

PUBLISITEIT & BEMARKING

Starburst Promosies

Danelle Liebenberg El Far

Sel: 071 534 7796

E-pos: danelle@starburstmusic.co.za

Webwerf: www.starburstmusic.co.za