LEN MULLER WIL LUISTERAARS BEMOEDIG MET NUWE ENKELSNIT

Len Muller het die afgelope dekade die kuns vervolmaak om musiek te skryf wat diep tref en met luisteraars se harte praat, en sy nuutste enkelsnit is weereens ’n bewys van hierdie besonderse talent.

Nadat hy en sy vrou, Chanél, deur ‘n moeilkike en hartseer tyd gegaan het, het hy JY’S OKAY geskryf in ’n poging om haar en homself te troos in daardie hartverskeurende tyd.

Dit was een van die seerste dinge waardeur ons as familie moes gaan, so ek wou ’n lied skryf om ons te bemoedig om die pyn te voel en nie weg te hardloop van die moeilike ding nie, want dit is ’n geleentheid om te groei en sterker te word,” deel hy. “Ek het op die titel besluit omdat dit ’n mooi sentiment is wat ek die wêreld wou instuur en ek geglo het mense nodig het om dit te hoor.”

Vervaardiger Theo Crous van Belville Studios, wat ook al opnames gedoen het vir musikante soos Prime Circle, Karen Zoid, Chris Chameleon en Francois van Coke, was aan die stuur van sake met hierdie projek en het dit meesterlik reggekry om die emosie van die lirieke in die melodie vas te vang.

Volgens dié sanger en liedjieskrywer het die liedjie, wat hy oor ’n paar maande op die klavier gekomponeer het, begin as ’n wysie in sy kop wat hy graag verder wou ontwikkel.

Ek dink baie mense het al soortgelyke hartseer ervaar en kan aanklank en vertroosting vind in die snit. Vir die volgende persoon kan dit dalk iets heeltemal anders beteken, en dis ook okay.”

’n Besonderse musiekvideo van dié lied, wat Len beskryf as baie intiem en persoonlik, is binnekort beskikbaar. Dit is by sy eie huis verfilm in die Kaap en sluit tonele van hom alleen voor die klavier én saam met ’n orkes in.

JY’S OKAY volg in die voetspore van talle groot radiotreffers, waaronder Vrede, wat gebruik is as die temalied vir die kykNET-sitkom, Mense Mense en vir ’n Huisgenoot Tempo-toekenning benoem is.

Dit is ook die eerste vrystelling vanaf sy komende kortspeelplaat, Arende en Engele, wat later vanjaar uitgereik word en spesifiek geskryf is vir sy vrou en seuntjie.

Hierdie kortspeler is akoesties, rou en hoopvol en enigiemand wat hou van eerlike musiek met dieper betekenis sal dit geniet,” verklap die musikant.

Sedert die begin van Len se loopbaan, is sy musiek al meer as 2 miljoen keer gestroom op Apple Music en deesdae het hy sowat 50 000 + luisteraars wat maandeliks op Spotify na sy musiek luister.

Oor die jare was daar voorwaar baie hoogtepunte op sy pad, waarvan die grootste vir hom is dat hy sy passie en roeping kan uitleef en mense se harte kan raak. Verder het hy nie net die geleentheid gekry om saam met groot name in die musiekbedryf te werk nie, maar ook om op groot musiekverhoë op te tree en homself as liedjieskrywer te vestig.

Wanneer dié veelsydige Kapenaar nie besig is met sy eie musiek nie, is hy ’n baie betrokke pa en besit hy sy eie eksklusiewe agentskap Len Muller (Pty) Ltd, wat die bestuur en besprekings van kunstenaars soos Juan Boucher en Danie du Toit (Reënwolf) hanteer.

Tans is hy besig om aan ’n vollengte album te werk en optredes te reël om sy nuutste musiek met aanhangers te deel.

JY’S OKAY is een van daardie liedjies wat hoop en troos sal bring vir enigiemand wat daarna luister en dit nodig het. Dit is nou sal beslis beskikbaar op alle digitale stromingsplatforms. Kry dit hier: https://ditto.fm/jysokay

SOSIALEMEDIASKAKELS

Facebook: https://www.facebook.com/lenmuller1/?fref=ts

Twitter: @lenniemuller

Instagram: @lennie.muller

Webwerf: www.lenmuller.co.za

YouTube:www.youtube.com/lenniemuller

SoundCloud: www.soundcloud.com/lenmuller

PUBLISITEIT & BEMARKING

Starburst Promosies

Gizela Sharim

Sel: 083 399 6869

E-pos: gizela101@gmail.com

Webwerf: www.starburstmusic.co.za