NEIL SANDILANDS SLUIT 2024 AF MET MERKWAARDIGE PRESTASIES
Die bekroonde akteur, sanger, liedjieskrywer, en stemkunstenaar, Neil Sandilands, het ’n reusejaar beleef met verskeie belangrike mylpale, wat sy indrukwekkende loopbaan verder versier. Van internasionale benoemings, verskeie rolprent- en televisiewerke en ’n musiektoer, tot ’n nuwe album. ’n Mens moet kop hou om by te bly. 2024 het Neil se veelsydigheid en talent na nuwe hoogtes geneem.
Sandilands en die produksiespan van Red Pepper Pictures, is in September vir ’n Emmy benoem. Die Emmy’sword internasionaal erken as een van die hoogste eerbewyse in die televisiebedryf, juis omdat die keuring deur gesiene bedryfsgeledere en vakkundiges self, behartig word. Sandilands het sy unieke stem as storieverteller aan die gewilde realiteitsreeks, Die Brug, verleen. Dis ’n eerste vir Afrikaans in die kategorie “Best International Non-Scripted Entertainment” – dus ’n historiese oomblik vir Afrikaanse televisie. Neil het minder as ’n jaar gelede, ook ’n Emmy-benoeming ontvang vir sy ondersteunde spel as General Douglas Abbott, van Netflix se Sweet Tooth-faam.
Neil se tweede album, Allegaarkie vir ’n Askeet, het hom sy tweede SAMA-benoeming (South African Music Award) besorg. ’n Prestasie wat sy posisie as ’n gerespekteerde stem in die musiekbedryf verder vestig. Die album het kritici en gehore bekoor met sy unieke liriese inhoud, aweregse komposisies en eerlike vertellings. Die album is deurspek van Neil se komiese, dog filosofiese blik op die menslike toestand.
In 2024 het Neil vir die tweede keer ’n super suksesvolle landswye toer aangepak, getiteld Land & Sand. Die toer het gestrek oor 40 dae & 40 nagte en Sandilands het 36 uitvoerings in die uithoeke van ons land aangebied. Aanboord was die welbekende Schalk Joubert (baskitaar), Frank Freeman (elektriese kitaar) en Ronan Skillen (Perkussie). Tydens die toer het Neil ook sy nuutste, gelyknamige album, Land & Sand, bekendgestel. Hierdie album, sy derde, borduur voort op sy skerpsinnige oorweging van die normale gang van sake, gedurende abnormale tye. Neil meen die inhoud is ’n raps nader aan die intens-persoonlike as sy vorige albums. Die album is oor drie weke, begin tot einde, by die ikoniese Bellville Studios opgeneem. Theo Crous, van Springbok Nude Girls-faam was, soos met die vorige albums, mede-vervaardiger.
Op televisieskerms, kan ons Neil Sandilands weer sien in die tweede aflewering van Die Groot Niks, wat tans op kykNET uitgesaai word. Hierdie reeks het ’n kultusaanhang ontwikkel en sy rol as aanbieder, vestig hom verder as een van Suid-Afrika se mees veelsydige kunstenaars.
Die syfer 2 blyk ’n herhalende tema in Neil Sandilands se belewenis van 2024 te wees – sy tweede Emmy-benoeming, tweede SAMA-benoeming, tweede musiektoer, tweede reeks van Die Groot Niks, twee kontinente, twee tale, twee dissiplines. Hierdie “tweede” oomblikke is meer as blote repetisie – dit weerspieël Neil se konstante groei, sy toewyding as kunstenaar, en sy vermoë om elke stap as verdieping en verbreding van sy talent en visie te benader.
In ’n tyd van wêreldwye snelle omvorming en onsekerheid, bied Sandilands veerkragtigheid. Hy inspireer sy gehoor om bloot anders na die wêreld te kyk. Neil se reis as ’n akteur, musikant, en verteller het die volgende hoofstuk betree.
Luister hier na Allergaarkie vir ’n Askeet en Land & Sand: https://linktr.ee/neilsandilands
SOSIALEMEDIASKAKELS:
Facebook: https://www.facebook.com/realsandilands?mibextid=ZbWKwL
Instagram: https://instagram.com/realsandilands?igshid=OGRjNzg3M2Y=
YouTube: https://youtube.com/@neilsandilands-artist
PUBLISITEIT EN BEMARKING:
STARBURST PROMOSIES
Alani Coetsee
Sel: 072 442 6918
E-pos: alani@starburstmusic.co.za
Webblad: www.starburstmusic.co.za