POSDUIF GEE NUWE LEWE AAN ’N OU TREFFER

Screenshot_20241211_081656_Aqua Mail

Na ’n besige en opwindende jaar wat vertonings landswyd, sowel as openingsvertonings vir die legendariese Kip Moore ingesluit het, is die SAMA-bekroonde musiekgroep, POSDUIF, opgewonde om 2024 op ’n hoë noot af te sluit met ’n vars en unieke verwerking van die gewilde Bles Bridges-treffer, RUITER VAN DIE WINDJIE

Dié lied, wat net so deel is van die Suid-Afrikaanse kultuur soos melktert en koeksisters, gaan oor avontuur, vryheid en om daarna te streef om jou drome waar te maak en is iets waarby die manne self aanklank vind en hulle geïnspireer het om dit op hulle eie moderne manier op te neem.

“Ons wou die snit nie verander of net dele daarvan gebruik nie en het besluit om die hele lied op te neem en dit te vernuwe met ons eie styl en energie. Dit was vir ons ’n lekker projek om iets klassiek te neem en dit aan ’n nuwe generasie bekend te stel,” verduidelik hulle. “Die lied se fokus op vryheid en die begeerte om die wind te volg, het met ons geresoneer. Dit herinner ons daaraan om altyd nuuskierig te bly en die lewe met ope arms te verwelkom.”Verder meen die groep dat hierdie besonderse kombinasie van nostalgiese en moderne elemente die twee kante van die band, wat bestaan uit James Boland (hoofsanger en kitaarspeler), Nick Jordaan (ritmekitaarspeler en sanger), Amiel Gopal (baskitaarspeler), Brendan Campbell (vervaardiger en hoofkitaarspeler) en Nick McCreadie (dromme), perfek ten toon stel: “Ons geniet dit om die verlede en die hede te kombineer. Deur klassieke liedjies soos RUITER VAN DIE WINDJIE met ’n vars klank te vermeng, skep ons ’n brug tussen generasies. Dit weerspieël ook ons persoonlikhede – ons waardeer tradisie, maar is altyd op soek na nuwe maniere om onsself uit te druk.”

Hulle nuutste enkelsnit volg in die voetspore van Kaalvoet Kinders en Voetfout wat onlangs uitgereik is en steeds gereelde speeltyd op die radio kry. 

POSDUIF is in 2018 gestig en het hulle debuut gemaak met die liedjie Brandy Special, wat uit die staanspoor baie gewild was. Sedertdien, het hulle verskeie ander treffers vrygestel en is hulle deur Bok Radio genomineer as Groep van die Jaar en vir Liedjie van die Jaar. Hulle vorige album, Niks Vergelyk, het in 2022 die SAMA gewen vir beste pop-album.

“Die toekenning was ’n groot eer en het ons diep geraak. Dit het ons nie net erkenning gegee vir ons harde werk nie, maar ons ook gemotiveer om nog hoër te mik. Dit het ons geïnspireer om aan te hou innoveer en ons musiek na die volgende vlak te neem,” sê hulle.Hierdie vrystelling versterk POSDUIF se rol as pioniers in die moderne Afrikaanse musiekbedryf. Aanhangers kan ook vir die res van die jaar uitsien na hulle opkomende Bitterlekker Toer in die Kaap en verskeie samewerkings met ander plaaslike kunstenaars.

“Ons glo dat musiek mense kan inspireer om hul drome aan te durf en hul eie lewensreis aan te pak,” sluit hulle af. “Dit is presies wat RUITER VAN DIE WINDJIE vir ons gedoen het, en ons hoop dat dit dieselfde vir ander kan beteken.”

Die snit is nou beskikbaar op alle digitale stromingsplatforms. Kry dit hier: https://posduif.lnk.to/RuiterVanDieWindjie

Daar is ook n liriekvidoe van die snit en is hier te sien: https://youtu.be/_JGvKlkOsIg?si=SKuOJ39ktiKZtflw

SOSIALEMEDIASKAKELS
Facebook:  https://www.facebook.com/PosduifLive/

Instagram: @posduif_live

Twitter: @Posduif14

Webblad: https://posduif.live/

PUBLISITEIT EN BEMARKING

Starburst Promosies

Danelle Liebenberg El Far

Sel: 071 534 7796

E-pos: danelle@starburstmusic.co.za 

Webblad: www.starburstmusic.co.za