Jan Rhaap, Maak Jou Maak(e)!
Suid-Afrikaners is nou een maal nie gemaak om in afsondering te leef nie. Hulle hou van samekomste en gesellig wees en dit is hoekom inperking die meeste mense so swaar tref. Daarom heg almal deesdae ekstra waarde aan ’n onbeplande kuier saam met vriende en familie.
Jan Rhaap se nuutste enkelsnit, MAAK JOU MAAK(E) is juis geïnspireer deur die samesyn van so ’n onbeplande jagnaweek en het dus ’n storie waarby oud en jonk sal aanklank vind. “Dit gaan oor ’n onbeplande kuier saam met my neef (Bulletjie) en sy vriend (Jukkie of Jurgens) wat ’n ruk gelede toevallig op my plaas kom jag het. Hulle het die hele naweek vir mekaar gesê: ‘Maak jou Maak’, wat ’n sê-ding is hier in die Noordkaap waarmee jy iemand uitdaag om te wys wat in jou steek,” gee die sanger agtergrond oor sy nuutste vrystelling.
MAAK JOU MAAK(E) is ’n Afrikaanse pop-rocksnit, wat die Jan saam met Loki Rothman geskryf het en sy diep rasperstem soos ’n handskoen pas. Dit is sy elfde enkelsnit en een van daardie liedjies wat jou hoendervleis gee wanneer jy dit vir die eerste keer hoor. “In ons huidige omstandighede, sal almal ’n onbeplande kuier saam met hulle mense geniet. Daarom voel ek dat alle Suid-Afrikaners die boodskap van hierdie liedjie in hulle harte sal voel,” voeg hy by.
Die musiekvideo, wat deur Vonk Musiek opgeneem en vervaardig is, vertel die storie van vier vriende wat na baie jare weer in hulle bendehuis (‘bandroom’) bymekaar kom en saam kuier en musiek maak. “Deur die loop van die video, speel ons verskeie speletjies en my karakter ‘maak sy maak’ en wen met alles – van veerpyltjies tot kaartspeel,” verduidelik die musikant.
Kyk die video hier:
MAAK JOU MAAK(E) volg in die suksesvolle voetspore van vorige enkelsnitte soos Huisie in die Bos, wat hy saam met Juan Boucher geskryf het en waarvan die video reeds meer as 2.4-miljoen kyke op YouTube gehad het, en Ramskilpad wat op verskeie treffersparades gepronk het en ook reeds deur meer as 300 000 mense gesien is.
Jan Rhaap, oftewel Werner Burger, woon tans in die Noordkaap saam met sy gesin. Wanneer hy nie op die verhoog is nie, help hy sy pa en ouboet boer net buite Niekerkshoop; ’n klein dorpie tussen Griekwastad en Prieska.
Hierdie talentvolle ses-en-dertigjarige kunstenaar kom uit ’n musikale gesin en het nog altyd ’n diep waardering gehad vir betekenisvolle musiek. Op die ouderdom van twintig het hy homself leer kitaarspeel, maar het eers in die landboubedryf gewerk voordat hy op nege-en-twintig besluit het om voltyds te begin musiek maak.
Nadat hy vir twee jaar saam met Adam Tas getoer en vir hom voorvertonings gedoen het, het sy solo-loopbaan behoorlik vlam gevat en het hy drie albums en verskeie suksesvolle enkelsnitte uitgereik.
Oor die jare, het hy verskeie loopbaan hoogtepunte gehad, waaronder Ghoema-benoemings vir Nuweling van die Jaar (2015) en Beste Alternatiewe Album van die Jaar (2017) en in 2017 het hy ook die voorreg gehad om saam met Ricus Nel, Refentse, Appél en ander kunstenaars Hardekole te sing tydens hierdie gesogte toekenningsgeleentheid. Net voor grendeltyd, het die musikant ook saam met ander bekendes op die 2020-Bokboot gekuier.
Jan Rhaap, met sy rasperstem, lekker luister lirieke en warm verhoogpersoonlikheid, het dit reggekry om met passie en deursettingsvermoë vir homself ’n loopbaan in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf oop te kerf.
Tans is hy besig met die opname van sy vierde ateljee-album wat voor die einde van die jaar uitgereik sal word en kan hy nie wag om die volgende hoofstuk van sy loopbaan met aanhangers te deel nie. As MAAK JOU MAAK(E) enigsins ’n aanduiding is van wat om te verwag, is sy toekomsplanne beslis iets om na uit te sien. Die liedjie bestaan uit die perfekte kombinasie bestanddele vir ’n treffer wat hier is om sy merk te maak in die Afrikaanse musiekbedryf.
Die enkelsnit is nou beskikbaar op alle digitale platforms hier: https://lnk.to/rqnRv7mU
SOSIALEMEDIASKAKELS:
Facebook: https://www.facebook.com/janrhaap/
Instagram: @janrhaap
Twitter: @janrhaap