Ruan Jordaan: Vegter

Ruan Jordaan se liefde vir musiek is byna so oud soos hy. Hoe dan nou anders met ‘n musikale ma en ‘n huis vol musiek waarin hy grootgeword het. Op sesjarige ouderdom het sy ouers besef dat hy sangpotensiaal het, en op tien het hy begin om instrumente te bespeel.

Nou, byna agtien jaar vandat hy begin sing het, drie daarvan as professionele sanger, stel hy sy nuuste enkelsnit, VEGTER, vry.

Die woorde motiveer jou om jouself op te tel en aan te hou probeer, maak nie saak wat die omstandighede of situasie is nie. “Hou aan veg!” vertel Ruan.

VEGTER is ‘n ritmiese rock-snit wat Ruan geskryf het toe hy deur ‘n worstelstryd met musiek en sy toekoms as musikant gestroei het.
Nadat sy eerste enkelsnit STILSTAANTYD, in 2019 vrygestel was, het dit nie die sukses bereik waarop hy gehoop het nie. Dit het hom laat wonder of hy werklik die regte loopbaan najaag.

Na ‘n tydperk van diep besinning, het hy besef dat hy gebore is om musiek te maak. Daar is geen groter droom en passie wat hy wil navolg nie.
Ruan vertel dat die lied in die begin net ‘n melodielyn op die klavier was. Later het hy dit oorgesit op sy kitaar en, met die hulp van DeeGraaff Productions, is dit finaal verwerk.

“Die lirieke herinner my daaraan dat ‘n mens altyd moeilike tye en omstandighede in die lewe gaan beleef. Dit gaan egter oor hoe jy jouself optel daaruit, hoe jy jouself optel en sterker aan die
ander kant uitkom.”

Dié vegter het besluit dat dit die perfekte naam en tema vir sy enkelsnit is. Hy wil hiermee aan ander mense hoop gee; veral in tye soos nou.”Ek wil hê dit moet hoop en positiwiteit bring in mense se harte,” deel Ruan.

Die musiekvideo vir VEGTER is reeds geskiet en gereed om vrygestel te word, ‘n verdere getuienis van die vegter binne Ruan. Hy het geld ingesamel met aanlynvertonings om die produksie moontlik te maak. “Die video is geskiet op ‘n verhoog; dit was net ek en die kitaar.

Ek wou dit eenvoudig hou, maar tog treffend …” Dannha Coetzee, ‘n goeie vriend, het die werk ingesit om dit op te neem en te verwerk.

Ruan werk in sy bietjie vrye tyd aan ‘n houtwerkbesigheid waarmee hy sy sangloopbaan ondersteun en laat groei. Hy is vroeg soggens reeds aan die werskaf en maak handige dromstokkiehouers wat hy self ontwerp en bemark. Naweke werk hy saam met sy pa aan mooi, groot en duursame tafels wat hulle gaan verkoop.

Tans is Ruan besig om soveel as moontlik te skryf. Hy fokus meestal op persoonlike lewenservarings waarna hy sy gevoelens neerpen op papier. “Ek is baie lief vir diep musiek wat my kan laat voel.” Hy het ook sy eie besigheid, Starborn Music Academy wat hy van die huis af bedryf.

Die jong musikant het nog groot drome om naam te maak in die musiekindustrie. Hy hoop om saam met soveel kunstenaars as moontlik te werk. Straatligkinders en Glaskas is twee Afrikaanse groepe wat hom vanaf sy tienerjare reeds inspireer. Verder is Spoegwolf se kuns en skryfstyl vir hom ‘n groot inspirasie.

Spits gerus jou ore vir meer musiek van Ruan, die jongman met die salwende stem en liedjies
met ‘n dieper betekenis.

Kyk die video hier: