Waldo Greeff nooi jou uit na Musiek & Stories
Waldo Greeff is op Vrydag 18 September in sy eerste aanlyn konsert getiteld MUSIEK EN STORIES te sien, waarin hy die treffers uitvoer wat hy vir bekendes in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf geskryf het.
Greeff is al vir langer as ‘n dekade ‘n bekende liedjieskrywer op die Afrikaanse musieklandskap, met snitte uit sy pen vir groot name in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf én onder meer twee Huisgenoot Tempo-musiektoennings agter sy naam.
In MUSIEK EN STORIES voer hy ook onderhoude met kunstenaars soos Andriëtte, Nadia Beukes, Lee Scott, Izak Davel, Vincent Gordon, Carma, Loriska Bubb van die groep Mwah, Michael Lindt, Riaan Grobler en Talana vir ‘n agter-die-skerms blik op die treffers uit sy pen wat deur hulle hul eie gemaak is. Nelmari Rabie (sang) en Ruan Graaff (kitaar) is ook in die vertoning te sien.
“My gunsteling deel van die konsert was die rookmasjien. Dit lyk of ek op ‘n wolk klavier speel,” skerts Greeff.
Hy woon en werk tans in Qatar in die Midde-Ooste, waar die kwik op die oomblik by sowat 40 grade Celsius draai. Hy was egter tydens die inperkingstydperk weens die Covid-19-pandemie vir vyf maande op eie bodem, waar hy gewoeker het met die opname van MUSIEK EN STORIES sowel as ‘n splinternuwe enkelsnit getiteld “Skadu’s van grys”.
Die nuweling-sangeres Carma is saam met hom op dié kommersiële pop-ballade te hoor. Hy verklap dat hy tans besig met die finale skaafwerk aan die musiekvideo, wat eersdaags saam met die liedjie uitgereik word.
“Die liedjie is vir my baie spesiaal, want dit beklemtoon hoe kompleks die mensdom is en dat ‘n mens se persoonlikheid baie grys areas het. Alles is nie altyd net swart of wit nie,” voeg hy by.
MUSIEK EN STORIES word op Vrydag 18 September 19:00 op Facebook uitgesaai, waarna dit op YouTube sal verskyn.
Vir meer, besoek sy Facebook-blad: