‘n “Liefdeshartaanval” vir Riaan Grobler

Na 15 jaar in die musiekbedryf het Riaan Grobler geen bekendstelling nodig nie, en bring hy vandag sy 7de album uit.

“Liefdeshartaanval” is nie net die eerste enkelsnit van die album nie maar ook die titelsnit van die album en is dit vir Riaan baie spesiaal omdat hy en Jennifer Zamudio dit saam kan sing.  Vir Riaan is dit moeilik om n gunsteling liedjie op die album te kies: “Elke liedjie is sorgvuldig gekies en op ‘n sekere tydstip is ‘n sekere liedjie my gunsteling.  Ek was verlief tydens die opname van die album, en daar is ‘n sekere liedjie wat dit weerspieël.  Ek was emosioneel tydens sekere liedjies en daardie liedjies sal altyd my gunsteling wees wanneer ek daaraan dink. Ek dra die album op aan my pa en sy gunsteling liedjie van alle tye is Daar sal nuwe winde waai, ek het dit spesiaal vir hom opgeneem so dit het ook ‘n gunsteling plek in my hart.” Vertel Riaan

Riaan het verskeie skrywers genader om te skryf.  Hy het vir hulle gevra om in sy styl te skryf maar positief te bly met die boodskappe in die liedjies.  Rudi Claase ken Riaan baie goed en het raakgevat met Bonkers en Vat Hom vas, want Riaan beskryf homself as ‘n lawwe, kreatiwe mens wat baie impusief en “bonkers” is, maar met Rys Op het hy geweet dat Riaan daarvan hou om mense te help om in hulleself te glo en uit te styg bo hulle situasies. Riaan het vir Tertius Pretorius riglyne gegee vir liedjies en hy het sy gedagtes baie nou saamgevat met Vir Ewig en Koue Hart.  Riaan se heeleerste liedjie wat hy gesing het was ‘n Bietjie Kwyt (Vissies) en deur die jare het aanhangers hom bly vra om dit opneem en hierdie album was die regte oomblik daarvoor.

Hierdie album het Riaan twee jaar gevat om op te neem en een van die grootste uitdagings was om die regte liedjies te kry. Daar was ‘n lys van 50 liedjies waaruit gekies moes word. “Dit was moeilik om tot 13 snitte te kom maar ek glo diep in my hart ons het die regte keuses gemaak” – Vertel Riaan

LYS VAN SNITTE OP DIE ALBUM

  1. Liefdeshartaanval (Met Jennifer Zamudio)
  2. Vat Hom Vas
  3. Ek Wil Lewe Vir More
  4. Love Is My Destiny
  5. Bonkers
  6. Koue Hart
  7. Meer en Meer
  8. Rys Op
  9. Vir Ewig
  10. ‘N Bietjie Kwyt (Vissies)
  11. Klop Klop Aan Jou Hart
  12. Daar Sal Nuwe Winde Waai
  13. Alfa En Omega
  14. Ek Wil Lewe Vir More (Sokkie Weergawe)

VIR MEER INLIGTING OOR DIE ALBUM:

Leozelle Bekker: leozelle.bekker@umusic.com  / 074 643 5438