Steve Hofmeyr terug in Springs met Country-Vertoning!

Steve Hofmeyr – The Country Collection Volume 3
Stable Inn Konferensesentrum, Vleiweg 11, Strubenvale, Springs
Vrydag, 2 Oktober 2020 @ 19:00

Steve Hofmeyr is al vir dekades lank hard aan die werk – nie net as ’n gewilde sanger nie, maar ook as skrywer, akteur en persoonlikheid by wie mense op ’n emosionele en kulturele vlak aanklank vind.  Steve se musiekstyl is so uiteenlopend soos die man homself.  Behalwe vir die Afrikaanse en Engelse pop- en rockmusiek waarvoor Steve so bekend is, keer hy terug Springs toe met ‘n genre wat hom baie na aan die hart lê, naamlik country.  Steve Hofmeyr besoek die Stable Inn Konferensiesentrum in Springs op Vrydag, 2 Oktober om 19:00 met The Country Collection Volume 3

Besprekings vir die konsert kan gedoen word by iTickets by 086 100 0291, of aanlyn by www.itickets.co.za.  Groepe van meer as 10 kry oudergewoonte ‘n lekker afslag – skakel Monica by (011) 815-3000, of stuur ‘n e-pos aan admin@lefra.com

Daar word streng by alle Covid-19-protokolle gehou en besoekers word daaraan herinner om hul maskers saam te bring.  Stable Inn se restaurante en kroeë maak reeds om 16:00 oop.  Steve Hofmeyr se The Country Collection Volume 3 word aangebied met die trotse ondersteuning van RSG, Sounds Good, Hollywood Costumes, Van Loveren Wines, Renegades Removals, Ambassador Execudrive, Savvy Holdings en die Stable Inn Konferensiesentrum.

“Ek is nie eintlik ‘n country and western ou nie, maar eerder die country, folk-kunstenaar”, sê Steve.  “Suid-Afrikaanse mense het ‘n sagte plekkie vir countrymusiek.  Country is die meer sentimentele genre, en ek dink ons is baie sentimentele en nostalgiese mense”.  The Country Collection Volume 3-album (en vertoning) is die laaste van ‘n trilogie country-albums, ‘n projek wat Steve drie jaar gelede begin het.  “Ek het ou Country-treffers geneem en dit gekombineer met nie-country-liedjies, wat ons ‘n lekker country-aanslag gegee het.  En dit het gewerk!  Die reeks is ‘n treffer”, sê Steve.

Steve het al baie hoogtepunte in sy loopbaan bereik, van albums met multiplatinumverkope en topverkoperboeke, tot suksesvolle televisiereekse, geselsprogramme, en uitverkoopte konserte regoor die wêreld.  Naas ’n liedjieboek, met meer as 200 oorspronklike (opgeneemde) liedjies, kon Hofmeyr reg deur sy ryk loopbaan kwalteitwerk lewer, verhoudings bou en kritici verkeerd bewys.  As akteur, suksesvolle skrywer, televisiepersoonlikheid en dikwels omstrede sosialemedia-kommentator, het Hofmeyr nog altyd intens daarop gefokus om stories te vertel deur musiek, wat aanklank vind by kultuurbewustes asook by diegene wat bloot die ritme van drie en ’n half minute se pret wil voel. “Ons fragmenteer die oomblik,” sê hy. “My liedjies wys iets van die dinamiek van Afrikaans, en die lekkerste deel van kultuur is dat dit nie gereguleer kan word nie.”

Steve het oor die jare ’n musikale monument vir Suid Afrikaanse nostalgie en Afrikaanse vermaak geword en ry steeds die golf van daardie sukses. “Ek het ’n bietjie van my waagmoed om te eksperimenteer afgeskud,” vertel hy egter. “Maar ek poog om steeds my kant te bring by liriese inhoud en lekker, soliede konserte. Dis lank nie meer iets wat ek doen nie, maar iets wat ek is!”  Danksy jare se ondervinding in die musiek- en vermaaklikheidsbedryf, is sy stem vandag groter en beter as ooit. “Ek kan letterlik hoër note bykom,” sê hy oor die omvang van sy stem. “Ek het as ’n kroegsanger begin, maar geleer om myself darem tegnies te verbeter. En as ’n mens onder begin het, is daar immers nog baie geleenthede om mense te beïndruk,” grap hy.