FOKOFPOLISIEKAR is terug met ‘n nuwe kortspeler: Kajuitkoors
Fokofpolisiekar het 2020 afgeskop met praatjies oor nuwe musiek skryf. Dis nou al drie jaar sedert die groep hul laaste vollengte album, Selfmedikasie, vrygestel het. Die idee was om te begin skryf, ‘n versameling liedjies op te bou en dan die vierde vollengte album op te neem en vry te stel in 2021 of 2022.
Maar toe gebeur COVD-19. Die Bende het geïnspireer gevoel en kreatief begin raak. Kajuitkoors is Fokofpolisiekar se 4-snit antwoord op die algehele malheid wat 2020 is.
Hunter Kennedy beskryf die EP as ‘n “collage van koorsdrome”.
Hunter verduidelik verder: “Dis eksistensiële vrees gemeng met paniek en samesweringsteorieë. Ek het weer ‘n haat vir outoriteit aangekweek tydens die inperking. Gevoel asof ons vrylopende mense is op ‘n belasting-plaas. Dit het my herinder aan hoërskool, dus is ek bly dat die EP ook so ‘n 90’s punk/college rock klank het. Daar is ook die required klavier ballade. So, ek dink Kajuitkoors klink soos ‘n mengsel tussen NOFX en Coenie De Villiers.”
Kajuitkoors se snitlys met beskrywings deur Hunter Kennedy:
1. STFU: “STFU was basically my go-to gevoel tydens lockdown. Snake hou nie van die “Engelse” chorus nie, maar ek kon aan niks beters dink nie. Die hoeveelheid informasie en opinies het my mal gemaak.”
2.Raak siek raak gesond: “Raak siek raak gesond is geïnspireer deur Merwe Marchant le Roux. Ek glo dit is ‘n positiewe mantra. Wat is die ander opsies?”
3. Ons is die virus: “Level 5 lockdown in Suid-Afrika het van die strengste regulasies in die wêreld gehad. Daar was ‘n klomp kak wat deur my kop gegaan het. Ek was lus vir ‘n flow of consciousness vibe. So, ek het die kitaar opgetel en gesing wat op gekom het.”
4. Teen Die Wet: “Hierdie song is rof vir my. Dit gaan oor die sielkundige effek van die inperking. Ek het al ‘n paar keer trane gestort as ek dit luister en dink aan die horror stories van lockdown wat niks te doen het met die siekte nie.”
Kry Kajuitkoors se lirieke hier: FOKOFLIRIEKE

Die Vollengte album:
Die vier Kajuitkoors liedjies is nie waar dinge gaan eindig nie. Fokofpolisiekar het besluit om hul huidige kreatiwe golf te bly ry sodat hulle middel van 2021 ‘n nuwe vollengte album kan vrystel.
“Ons is in ‘n goeie space creatively en ons het ‘n workflow wat werk. Elke album en benadering sal vir ons verskillend bly. En nou dat ons ‘n nuwe formule het, moet ons rol met dit. Volgende jaar word FOKOF 18 en ons kan nie aan ‘n beter manier dink om dit te vier as met nuwe musiek nie,” sê Wynand Myburgh.
Toekomstige vertonings:
Vanweë die onsekerheid en beperkings rondom sosiale byeenkomste, het Fokofpolisiekar nie enige bevestigde vertonings vir die res van 2020 nie. Maar, hulle is wel aan die praat oor ‘n akoestiese livestream vertoning om 2020 af te sluit op ‘n hoë noot.
“Ons het jare laas ‘n akoestiese vertoning gedoen en ons dink dit kan iets spesiaals wees wat mense regoor die wêreld kan geniet. Mense vra ons nou al lank oor so ‘n performance. Miskien is nou die regte tyd?” Francois van Coke
FOKOFPOLISIEKAR’s LINKS: