Johan Anker inspireer met sy nuutste liedjie Soldaat!

Kort op die hakke van sy vorige liedjie en musiekvideo “My Arms” verras Johan Anker nou weer met nog ’n sielvolle nuwe liedjie “Soldaat”, wat ook as ’n musiekvideo uitgereik word.

“Ek het “Soldaat” in 2012 geskryf toe ek ’n student in my tweede jaar was. Ek het op daardie stadium deur ’n moeilike tyd gegaan en toe besef om liedjies te skryf help my om uiting aan my emosies te gee en die proses is baie helend,” vertel Johan.

Soldaat” het egter vir ’n paar jaar stof gegaar totdat Johan die liedjie in 2018 by die Ritmia Gemeente in Ruimsig, Johannesburg, tydens ’n jeugaand gesing het. “Ek het die aand baie positiewe terugvoer ontvang en besef dat my eie persoonlike ervaring ook ander mense kan inspireer en hoop gee.”

Die lirieke van “Soldaat” kom alles uit Johan se pen, buiten die refrein: “Ek is nie ’n stapsoldaatjie nie” wat uit die Jeugsangbundel kom.

Johan, wat voltyds skoolhou, het in Maart, kort voor die inperking “Soldaat” by die vervaardiger Sean Butler opgeneem.

Hoewel hy Soldaat ’n paar jaar gelede geskryf het, meen hy dat die liedjie veral in hierdie moeilike en uitdagende tye van die Corona-virus nou opnuut vir hom splinternuwe betekenis het. “Dit herinner my daaraan dat die Here jou deur soveel gevegte dra, maak nie saak voor watter Goliat jy te staan kom nie. Daar’s altyd hoop — selfs in hierdie moeilike tye wat baie mense hul werk verloor en baie mense nie brood op die tafel het nie,” sê Johan. Hy voeg by: “Maak nie saak watter lewenstryd jy moet trotseer nie, die Here gee jou krag om daardie oorlog te veg. Ek hoop ook die boodskap sal ook vir luisteraars betekenis hê,”

Die musiekvideo “Soldaat” word dieselfde dag as die liedjie vrygestel. Johan het saam met Fokkid-media aan die konsep gewerk en die video is by Zwavelpoort buite Pretoria op oop vlaktes verfilm. “Ek dra eers khaki-klere in die video om die konsep van ’n soldaat wat die oorlog of lewensstryd op eie houtjie probeer voer, uit te beeld. Die heuwels versinnebeeld die opdraandes in die lewe.

Aan die einde van die video breek die sonsopkoms deur en dit is weer ’n simbool van ’n nuwe dagbreek en dat ek my stryd in die Here se Hande oorgee wat altyd beheer is. Die wit T-hemp simboliseer weer die vrede wat ek in my gemoed ondervind.”

SOSIALEMEDIASKAKELS:

Christien De Klerk
EMBRACE THE BRAND MEDIA
Digital Music Distribution
Media PR Marketing & Events
Email: Christien@embracethebrand.co.za
Cell: 0828091020