Nuwe Theo Nel en Vincent Gordon-enkelsnit gaan die voete laat jeuk om te dans!

“Vincent Gordon se werk het ’n baie groot invloed op my eie musiekstyl. Ek is mal oor hoe hy sy lirieke en wysies aanmekaar sit en oor die positiewe atmosfeer wat sy musiek skep,” sê Theo Nel, wat met sy nuutste enkelsnit en musiekvideo die geleentheid gehad het om saam met een van sy grootste rolmodelle in die plaaslike musiekbedryf te werk.

Boombox, uit Vincent se pen, is ’n lekkerluister Afrikaanse popliedjie wat musiekliefhebbers aanspoor om lekker te kuier en goeie tye saam met vriende en familie te geniet. Die polsende ritme en opgewekte lirieke kom steek onmiddellik in jou kop vas en nooi jou uit om saam te sing en dans.

“Hierdie is die tweede enkelsnit vanaf my album, wat in November vrygestel word, en dit was ’n groot voorreg om saam met Vincent hieraan te kon werk,” sê Theo. “Ek glo dat die publiek die liedjie gaan geniet, omdat dit ’n lekker kuier-atmosfeer skep en sal aanklank vind by oud en jonk.”

Die musiekvideo, wat ook eersdaags op die kassie te sien gaan word, hou by die kuier-tema van die liedjie en gaan oor ’n klomp jongmense wat hulleself geniet. Dit is by ’n moderne huis in Groenkloof verfilm, deur Zander de Beer, en beide kunstenaars is self ook in die video te sien.

Boombox volg in die voetspore van dié kunstenaar se eerste enkelsnit, Veldbrand, wat vroeër vanjaar uitgereik en baie goed ontvang is. Dit is tans beskikbaar op verskeie aanlynplatforms.

Theo hou al van jongs af daarvan om mense te vermaak en het reeds in die laerskool begin koorsing. Hy is al vir tien jaar in die musiekbedryf doenig, maar beskou 2020 as die hoogtepunt van sy loopbaan sover. Die sanger put inspirasie uit sy eie ervaringe wanneer hy musiek skryf en glo dat hy ’n boodskap moet oordra in elke liedjie wat hy sing.

As hy enige ander werk moes kies, sou hy graag ’n akteur wou word, omdat dit ’n ander manier is om mense te vermaak en ’n positiewe invloed op hulle lewens te hê. “Juanita du Plessis is vir my ’n groot rolmodel. Ek kyk op na haar musiek, menswees en prestasies. Elandré en DJ Skeady is ook vir my ’n groot inspirasie en ek sal graag nog eendag saam met hulle wou werk,”vertel hy. Tans is hy ook besig om ’n toer te beplan vir 2021 waaroor hy baie opgewonde is.

Die musiekberyf het vir Theo Nel nederig te bly en om altyd gewillig te wees om te leer. Sy droom is om die harte van mense in Suid-Afrika, en regoor die wêreld, te verower met sy unieke popstem, positiewe lirieke en eiesoortige aanslag. As Boombox enige aanduiding is van wat hy beplan, wag daar voorwaar ’n blink toekoms op hom in die musiekwêreld.

EMBRACE THE BRAND MEDIA

Digital Music Distribution
Media PR Marketing & Events
Email: Christien@embracethebrand.co.za
Cell: 0828091020
#MusicIsTheSoulOfOurLand