Henrico se nuutste enkelsnit moedig adamsgeslag aan om mans van God te wees!

“Ek hoop die liedjie gaan, na alles wat die afgelope ruk gebeur het, vir mans hoop gee vir die nuwe jaar en ’n kreet van inspirasie word vir kerke en mannefunksies regoor die land,” sê Maak My Famous se Henrico Coetzer oor sy nuutse enkelsnit – MAN VAN GOD – wat pas vrygestel is.

Volgens dié talentvolle Pretorianer, met sy kenmerkende fluweelstem, het hierdie geestelike liedjie met sy hart gepraat van die heel eerste oomblik af wat hy dit gehoor het.

“Die lied is geskryf vir ’n musiekblyspel, met die naam ‘Droomkind’, waarin ek gespeel het. Bobby van Jaarsveld, wat die liedjie geskryf het, het die hoofrol vertolk. Dit het gegaan oor die storie van Josef en die lied is gesing toe hy in die tronk was in ’n baie emosionele deel van die vertoning,” verduidelik hy. “Ek was van die begin af mal oor die liedjie en het aan Bobby genoem dat ek dit graag eendag vir my album sou wou opneem. Dit was op daardie stadium my verjaardag en hy het toe die snit, as geskenk, aan my oorgedra om op te neem.”

MAN VAN GOD moedig die adamsgeslag aan om mans van God te wees en herinner hulle daaraan dat hulle krag in God lê. “Ek dink die mans van ons land gaan dit baie geniet en besef wie en wat hulle is. As al ons manne saamstaan en besef waar ons krag vandaan kom, kan ons soveel verandering in die land maak,” sê hy.

Alhoewel die liedjie nou eers amptelik uitgereik is, het Henrico die geleentheid gehad om dit by die Daniël Mannekonferensie te sing voor 6 500 mans en volgens die sanger was die reaksie baie positief: “Wat ’n belewenis om dit voor soveel mans te kon sing by ’n geleentheid waar selfs die bekende Angus Buchan gepraat het. Dit het amper die temalied geword van die konferensie en ek het nog nooit soveel groot volwasse mans sien huil nie. Ek moes ook myself inhou om nie dieselfde te doen nie.”

MAN VAN GOD volg in die voetspore van Hoor My Woorde (uit die pen van Vaughan Gardiner), wat vrygestel is net nadat Henrico afgestem is van die Afrikaanse kykNET-realiteitsreeks, Maak My Famous. Dit is ontsettend goed ontvang en het onmiddellik speeltyd gekry op al die grootste radiostasies in die land.

Henrico (27), wat al van skooldae af sing, klavierspeel en liedjieskryf, het altyd geweet dat hy eendag ’n musikant wou word en het gereeld vertonings aanmekaar gesit wat hy en sy sussie moes opvoer. Na skool, was hy deel van die 13thFloor (ook bekend as C-Kruis)-musiek- en toneelprojek, wat gebaseer was op Christelike verhale. “Dit was so ’n lekker jaar vir my gewees. Het het die hoofrol gespeel in drie van ons vier optredes, waarvan ek die hulpproduksie gedoen het met die vierde een. Ek was ook die hoofsanger van ons geestelik rockgroep,” vertel hy. “Ons het vir ’n jaar lank oor die hele Suid-Afrika, en selfs Namibië, getoer en jongmense na Jesus te lei.”

Liefhebbers van die gewilde Blouhond-teater in Pretoria, sal hom ook herken, aangesien hy gereeld daar opgetree het in die verlede. Verder is hy ook ’n gereelde gesig by musiekfeeste en konserte regoor die land saam met van SA se grootste sterre.

As jy hom vra of hy in die toekoms nog ’n Christelike liedjie sal opneem, is sy antwoord dadelik ja en verklap hy dat hy bittergraag nog eendag saam met Joe Niemand wil werk. “Ek dink hy het ’n ongelooflike stem en gawe en dit sal ’n voorreg wees om saam met hom te skryf aan ’n liedjie.” Verder het hy ook groot bewondering vir gospelgroepe, soos Hillsong, en het hy dit op ’n stadium oorweeg om vir hulle te gaan werk.

MAN VAN GOD is ’n pragtige lied, met klassieke ondertone wat Henrico se stem soos ’n handskoen pas. Hierdie lied gaan nie net vir mans hoop gee vir ’n beter toekoms nie, maar ook met vroueharte praat.

Die lied is op Henrico se album DIS WIE EK IS op alle digitale platforms beskikbaar. 

Kry dit hier: https://music.apple.com/us/album/dis-wie-ek-is/1203286438

SOSIALEMEDIASKAKELS:
Facebook:  https://www.facebook.com/HenricoCoetzerOfficial
Instagram: @henrico_coetzer_official
Twitter: @Henrico_Coetzer