Anthony Hopkins speel die hoofrol in nuwe aangrypende rolprent!

LOKPRENT

Dit is nou maar een maal ’n feit dat daar ’n tyd kom in elkeen se lewe waar die rol van ’n kind en ouer omruil en laasgenoemde die afhanklike word, wat versorging nodig het. Hierdie hartseer realiteit is die sentrale tema van ’n splinternuwe en baie hartroerende rolprent. 

THE FATHER, wat gebaseer is op ’n bekroonde toneelstuk, begin as ’n doodgewone drama en vertel die verhaal van ’n middeljarige dogter wat besig is om haar geduld te verloor met haar pa – ’n stoute, onafhanklike ou man, wat besig is om tred met realiteit te verloor en weier dat ’n versorger na hom omsien. Sy moet trek en moet daarom iemand kry om na hom om te sien. Hy, wat in die beginstadium van demensie ly, probeer sin maak van sy veranderende omstandighede en begin in sy geliefdes, verstand en realiteit twyfel.  

Hierdie rolprent is die bekroonde Franse draaiboekskrywer, Florian Zeller, se eerste poging as regisseur en hy was ook verantwoordelik vir die oorspronklike toneelstuk. Hy het die draaiboek saam met sy kollega en vertaler, Christopher Hampton, geskryf wat klem lê op die feit dat hierdie nie ’n mediese verhandeling is nie. “Dit gaan nie oor ’n mediese toestand en die mens wat daaronder ly nie,” verduidelik hy. THE FATHER probeer om eerder om op ’n kunstige manier te wys hoe demensie die pasiënt se geliefdes raak, omdat hulle die uitbarstings moet hanteer.”

Die verhaal word doelbewus vertel deur die oë van Anthony, die bejaarde pa, wie se lewe ’n bron van nimmereindige gedisoriënterende verwarring geword het, met die karakters en plekke wat voortdurend verander en daartoe lei dat die kyker so verward voel soos Anthony. Dit is disoriënterend en surrealisties, maar dit spreek boekdele oor ’n lewe met demensie. “Ek wou nie die storie van ’n buite-perspektief vertel nie, want dit is al soveel keer gedoen,” sê Zeller. “Ek wou die verhaal van binne af probeer vertel, asof die gehoor in die hoofkarakter se kop is.”

Terwyl Zeller die regie met sensitiwiteit benader en fokus op noukeurige storievertelling, word die boodskap wat hy wil oordra ondersteun deur uitsonderlike toneelspel. Anthony Hopkins en Olivia Colman beeld die demensie-geteisterde man en sy dogter, Anne, meesterlik uit. Colman se ekspressiewe gesig weerspieël al die emosies wat deur haar karakter gaan, terwyl Hopkins dit regkry om die vrees, frustrasie en woede van ’n man wat sy greep op die werklikheid verloor, perfek vas te vang. Soos wat hy die kloof tussen onafhanklike volwasse en bang kind skets, voeg sy ryk en emosionele toneelspel elemente van weerloosheid en afgryse by die film.

Hopkins en Colman word verder ondersteun deur ’n uitstaande groep akteurs, insluitend Mark GatissImogen PootsRufus Sewell en Olivia Williams. Ten spyte van die donker tema, is die rolprent gebou op empatie en vier dit die onbreekbare band tussen ouers en kinders.

Oor dié tema, sê Colman: “Dit is angswekkend om te dink dat die wêreld rondom jou verander en jy op ’n stadium nie meer hierdie veranderinge gaan verstaan nie. Ek dink die hart van die fliek is baie eenvoudig. Dit gaan oor liefde en verlies en hoe swaar jy kry wanneer die persoon vir wie jy lief is nie meer weet wie jy is nie. Dit is pragtig geskryf en baie emosioneel.”

Sy is reg. THE FATHER is ’n akkurate en ontstellende vertelling wat beide kante van die situasie onder die vergrootglas plaas – hoe dit voel om lief te wees vir iemand met demensie en hoe dit voel om met hierdie toestand saam te leef. Dit wys op ’n hartroerende manier wat gebeur wanneer ’n verhouding, wat al vir dekades bestaan, skielik onherroeplik verander.

Die rolprent het onlangs met die gesogte Gehoorgunsteling-toekenning weggestap by die San Sebastian-rolprentfees, en daar is reeds sprake daarvan dat Anthony Hopkins ’n Oscar-benoeming gaan ontvang vir Beste Akteur vir sy uitstaande vertolking van hierdie komplekse karakter.

THE FATHER word plaaslik versprei deur Filmfinity Edms (Bpk.) en sal vanaf 15 Januarie 2021 in Suid-Afrikaanse bioskope te sien wees.

PUBLISITEIT & BEMARKING

Starburst Promosies
Alishia van Deventer
Sel: 083 635 4717
E-pos: alishia@starburstmusic.co.za
Webblad: www.starburstmusic.co.za