Altyd op Vakansie – Temalied van Kaalgat Karel deur Jack Parow- en Loki Rothman!
Kyk die musiekvideo hier:
As jy, soos die res van die wêreld, genoeg gehad het van 2020, sal Jack Parow en Loki Rothman se nuwe liedjie – ’n opgewekte goedvoel-kreet vir die somer – jou beslis laat beter voel! Dié liedjie en musiekvideo is op Vrydag, 13 November bekendgestel en die video spog reeds met naby 20 000 kyke!
ALTYD OP VAKANSIE is die temalied van die nuwe Afrikaanse romantiese komedie, KAALGAT KAREL,wat vervaardig is deur Boondogle Films se Paul Egan en Meg Rickards (wat ook die regisseur is). Die storie vertel die verhaal van ’n kaalnaeler, Karel (Francois Jacobs), wat halsoorkop verlief raak op ’n pligsgetroue paramedikus, Rita (Christia Visser), wat sy bas red nadat sy mannewales skeefloop, maar daar is een probleem; sy is ’n ernstige en pligsgetroue enkelma wat geen belangstelling het in sy bedrywighede nie. Dié skreeusnaakse rolprent se amptelike lokprent is ook pas verlede Donderdag bekendgestel en beloof om meer insae te gee oor wat kykers kan verwag.
Kyk die lokprent hier:
Volgens Jack en Loki, sluit ALTYD OP VAKANSIE perfek by die tema van die rolprent aan. Die enkelsnit, wat geskryf is met die hoofkarakter in gedagte, is energiek en vrolik. “Die liedjie gaan oor Karel wat weier om groot te word. Hy wil net pret hê en ’n sorgvrye bestaan voer, sonder verantwoordelikhede. Die ou vat nie die lewe te ernstig op nie,” deel Rothman.
Loki het die klankbaan van die rolprent vervaardig en voorgestel dat Jack betrokke raak met die skryf van die temalied. “Ons het besluit om nie ’n bestaande treffer te gebruik nie, maar eerder iets te skep wat die gees van die fliek vasvang,” verduidelik regisseur, Meg Rickards. “Loki en Jack het ’n goeie werksverhouding en ons was nog altyd beïndruk met Jack se talent. Ons het geglo dat hy die perfekte kandidaat sou wees om die regte stoute lirieke op te tower, wat steeds met die hart sal praat. Loki is ook baie goed daarmee om die regte atmosfeer met musiek vas te vang. Die eindresultaat van hulle harde werk, is indrukwekkend. Alhoewel die liedjie spesiaal vir die fliek geskep is, glo ons dat dit ook ’n lewe van sy eie gaan hê,” sê Meg.
Die musiekvideo van ALTYD OP VAKANSIE is vervaardig deur Meg Rickard en Paul Egan en die regie, redigering en kinemematografie is behartig deur Michael Carter ondersteun deur Abigael Thompson as kamera-assistent en bevat tonele uit die fliek, maar wys ook hoe Jack en Loki hulleself geniet. “In die video is ons by die huis, besig om speletjies te speel, bier te drink en pret te hê. Ons is regtig net besig om ons beste lewe te leef,” sê Jack. Loki voeg by: “Die idee agter die video is om kykers aan te moedig om op te hou stres en hulleself te geniet.”
‘n Spesiale woord van dank aan Theunis Uys vir die lewering van musiek produksie dienste op beide die film en musiekvideo.
Beide kunstenaars glo dat die liedjie sal aanklank vind by luisteraars van alle ouderdomme. “Ek dink dis ’n lekker partytjieliedjie,” sê Loki. “Dit gee jou daardie vakansiegevoel en dit is ook die perfekte klankbaan vir diegene met ’n sorgvrye lewe.” Jack stem saam: “Na ’n rowwe jaar, kan ons almal doen met goeie vibes en ’n vakansie. ALTYD OP VAKANSIE is lighartig en pret – is dit nie waaroor vakansie gaan nie? Die lewe is goed en ons moet dit geniet.”
“Ek en Loki het nog altyd lekker saam gewerk,” sê Jack. “Ons ken mekaar al lank en verstaan mekaar se styl, wat dit maklik maak om vinnig en doeltreffend te werk. KAALGAT KAREL-span is wonderlik en dit is ’n groot voorreg om saam met hulle aan die temalied van die fliek te werk.”
Die fliek wat op 12 Februarie 2021 in plaaslike bioskope open beloof om kykers te bederf met hope humor, sport en aksiebelaaide pret – dis ’n pragtige liefdesverhaal wat, net soos ALTYD OP VAKANSIE, aanklank sal vind by gehore van alle ouderdomme.
“2020 was so ’n snotklap van ’n jaar. Ons was lus om vir ’n slag weer te lag, vakansie te hou, te dans, te braai en regtig te leef. Ons is mal oor die temalied wat Loki en Jack geskep het en glo dat dit ’n treffer gaan wees hierdie somer,” sluitMeg af.
KAALGAT KAREL word plaaslik versprei deur Filmfinity (Edms) Bpk. en is vervaardig in samewerking met kykNET, die Oos-Kaapse Ontwikkelingskorporasie (OKOK), die -Kaapse provinsiale kuns-en-kultuurraad (ECPACC), Departement van Handel en Nywerheid (DTI), en handelsmerkvennote Galito’s, Red Alert en die Hathaway-gastehuisgroep.
ALTYD OP VAKANSIE is op alle digitale platforms beskikbaar. Kry dit hier: https://music.apple.com/za/album/altyd-op-vakansie-feat-loki-rothman-single/1537416565
SOSIALEMEDIASKAKELS:
KAALGAT KAREL
Facebook: https://www.facebook.com/KaalgatKarel
Instagram: @kaalgatkarel
Twitter: @kaalgatkarel
Hashtag: #HierGatOns
#AltydOpVakansie
#Kaalgatkarel
#AltydNommerEen
Youtube: www.youtube.com/kaalgatkarel
PUBLISITEIT EN BEMARKING:
STARBURST PROMOSIES
Alishia van Deventer
Sel: 083 635 4717
E-pos: alishia@starburstmusic.co.za
Webblad: www.starburstmusic.co.za