Alwyn Oberholster is terug met “Tussen Sterre Dans”
“Soos die skemerson, is jy vir my. Op die hoogste berg, sal jy my kry. Uitkyk op die toekoms saam met jou”. So begin die titelsnit op Alwyn Oberholster se gelyknamige nuwe album, Tussen Sterre Dans. “Die album gaan oor die liefde”, sê Alwyn. “Die lekker van twee mense wat mekaar ontmoet, verlief word en dan lief vir mekaar word.” Die inspirasie vir Tussen Sterre Dans het Alwyn een aand onder die helder maanlig gepak, met die melkweg se skitterende sterre in ‘n diep-donkerblou hemel.
“Op die nuwe album vier ons elke aspek van die liefde”, vertel Alwyn. “Behalwe vir die skoenlappers-in-die-maag-gevoel en die romanse, is die liefde ook soms laf en lig, prettig en stout. Maar geen verhouding is bestand teen die lewe nie, en as ‘n mens oor die liefde praat, moet ‘n mens ook die hartbreek en seerkry noem. Die geheim van ware liefde lê egter in hoe ‘n mens daardie hartbreek en seerkry hanteer, en of dit jou verhouding gaan maak of breek. Die liefde verg toewyding. Vlei, stry en verskil van mekaar. Debatteer en kommunikeer met mekaar. Inspireer en motiveer mekaar, en laat so die liefde élke dag gedy”. En dit is waaroor die nuwe album gaan, sê Alwyn.
Op die ouderdom van ses het Alwyn sy liefde vir musiek ontdek en so het sy sangloopbaan begin. En dit kon ook nie anders nie. “Ek is in 1985 in Springs aan die Oos-Rand gebore, en my hele familie is lief vir musiek en musiek maak”, vertel Alwyn. Alwyn is die oudste van vier kinders en het twee jonger broers en ‘n suster. “Al ons kinders sing. So ook my ma en pa, ooms en tannies, neefs en niggies. Daar was altyd musiek gemaak”. Op skool het Alwyn aan verskeie sangkompetisies deelgeneem en ook gereeld opgetree. Daar was nooit enige twyfel by Alwyn oor wat hy na skool wou doen nie. Nadat hy sy skoolloopbaan aan die Hoërskool Dr. Johan Jurgens in Springs voltooi het, het hy voltyds musiek gemaak en by elke geleentheid wat hy kon, gesing.
Alwyn se eerste album, Maak of Breek, het in 2014 verskyn. “Die groot dinge het eintlik reeds in 2013 begin”, vertel Alwyn. “Ek het die voorreg gehad om die Britse supergroep Smokie te vermaak tydens ‘n privaatfunksie na hulle konsert by Carnival City daardie jaar, en van daar af was ek baie besig. “Ek het besluit om my vlerke effens wyer te sprei, en het saam met Frans Swart van Lefra Produksies aan musiekproduksies begin werk. Die eerste daarvan was die produksie A Beautiful Noise – A Tribute to Neil Diamond tydens die Aardklop-kunstefees in 2014, waarmee hy daarna landwyd toer. Alwyn is bekend vir sy briljante vertolking van die ouer treffers deur sangers soos Billy Joel, Neil Diamond, Alan Jackson, die Staccatos, die Bee Gees en andere, maar Neil Diamond bly sy gunsteling. “Ek is mal oor sy musiek en ken seker elke liewe liedjie wat hy ooit geskryf het. En my stem pas die Neil Diamond liedjies ook soos ‘n handskoen. Ek probeer nie soos Neil Diamond sing nie – daar is immers net een Mnr. Diamond – so ek gee my eie vertolking aan die liedjies,” sê Alwyn.
Alwyn tree ook sedert die heel eerste Oppiwater Kunstefees, wat ook in 2014 plaasgevind het, jaarliks by die unieke kunstefees op, en sy Goue Oues-produksies is besonders gewild. “Goue oues is daardie liedjies wat in jou herinneringe weerklink”, sê Alwyn. “As jy die liedjie hoor, neem dit jou skielik terug na die verlede en al die herinneringe wat daarmee gepaard gaan. Goeie herinneringe. Jou eerste soen, jou eerste afspraak… goue herinneringe”. Elke generasie het sy goue oues, en tydlose treffers sal aanhou floreer namate nuwe geslagte ouer wysies ontdek van die tyd toe hul ouers en / of grootouers grootgeword het. “Dit anker jou”, sê Alwyn. “Met die nuwe tegnologie kan die kinders van vandag ouer, tydlose treffers op hul fone of mp3-spelers ontdek en aflaai, en verseker dat die goue oues altyd tydloos bly.”
Optredes by die Afrikaanse Musiekfees en die Kerfsees Skouspel het gevolg, en tree Alwyn ook in 2014 saam die Vengaboys op tydens hulle Suid-Afrikaanse-toer. “Ek is sedertdien baie besig, maar ek kla nie”, sê Alwyn. “‘n Mens kom nie agter hoe vinnig tyd vlieg nie! Na ses jaar, is die tyd ryp vir ‘n nuwe album. Die musiekgode was aan my kant en het my pad gekruis met die van Christiaan Baartman”, sê Alwyn. “Christiaan is ‘n briljante musikant en het mense oorrompel met sy weergawe van Tennessee Whiskey tydens The Voice SA in 2019, maar soos ek, sing hy al voordat hy behoorlik kon praat!” Nie net was Christiaan die vervaardiger van die album nie, maar het hy en Alwyn saam ses van die liedjies op Tussen Sterre Dans geskryf, en hy alleen drie.
Alwyn sien daarna uit om die nuwe album aan die publiek bekend te stel. “Dit is ‘n voorreg om vir mense op te tree en hulle te vermaak. Ek probeer elke optrede spesiaal en onvergeetlik te maak. Ek gee alles tydens vertonings. As kunstenaar, is dit vir my belangrik dat ek my horison moet verbreed. Ek weet dat mense van Tussen Sterre Dans sal hou. Die musiek is mooi, die gedagtes eerlik.”