Kimberley se ‘quirky’ Nicqie wen 10de SARIE Voorbladgesig!

SARIE Voorbladgesig, SA se ikoniese voorbladgesigwedstryd vir lesers wat oor die jare al 65 000 inskrywings landwyd getrek het, vier sy tiende jaar. ’n Dekade van suiwer inspirasie.

En nou, op die voorblad van SARIE se Januarie/Februarie 2021-uitgawe (te koop vanaf 11 Desember), 2020 se wenner: Nicqie Robinson van Kimberley! Sy is vroeër vandag by ’n klein maar glansryke geleentheid by die boetiekhotel Gorgeous George in Kaapstad as wenner aangewys.

“Ek het geweet dis my jaar! Dit was SARIE se 2020-wekroep, #JyIsGenoeg, wat my oorreed het om weer in te skryf. Hierdie kompetisie vier uniekheid,” het die 34-jarige identiteitstileerder en ma van twee ná die tyd duidelik oorstelp gesê.

Dit was die tweede keer dat Nicqie ingeskryf het nadat sy vyf jaar gelede nie die finale rondes kon haal nie. “Ek het gegroei. Is meer selfversekerd as toe. Ek het besef dat my selfbeeld nie deur ander bepaal word nie. Ek’t myself ontdek en my quirky self omarm! My persepsies het verander.”

Saam met die veranderinge het ook ’n nuwe haarstyl gekom. “Ek het altyd gedink lang hare maak jou mooi, maar toe sny ek my hare kort en bevry myself van daardie idee. Jou hare bepaal nie jou skoonheid nie.”

Volgens Michélle van Breda, hoofredakteur van SARIE, het Nicqie “daardie spesiale sprankel. Jy kan nie wegkyk nie. Haar energie is aansteeklik, en ons is groot aanhangers van daardie kort hare. Ons is mal oor haar. Lesers gaan mal wees oor haar.”

Dit was ’n groot jaar vir SARIE se nuwe wenner. Sy het uit haar onderwyspos bedank om haar droom te volg om ’n identiteitstileerder te word. “My besluit maak geen sin nie! Wie begin ’n besigheid midde-in ’n pandemie?” het sy laggend gesê.

“2020 was inderdaad ’n jaar soos geen ander nie, ook vir tydskrifte,” het Michélle bygevoeg. “Maar ons was vasberade om aan te gaan met die tiende jaar van SARIE Voorbladgesig, ons grootste wedstryd. En dit kleiner te doen, maar stylvol.

“Nicqie se wen spreek ook van vasberadenheid. Wanneer jy haar storie lees, sien jy sy ken swaarkry, maar sy het volgehou. Sy byt vas, gee nooit op nie – dít is wat ek die meeste van SA vroue en spesifiek van SARIE-lesers bewonder,” het Michélle gesê.   

Weens die inperking is die top-10-finaliste die eerste keer in sowel Kaapstad as Johannesburg gefotografeer, en het hulle mekaar en die SARIE-span grootliks via WhatsApp en Microsoft Teams leer ken. Die hele Voorbladgesig-reis is op sosiale media gedokumenteer.

* Nicqie Robinson is die twaalfde SARIE Voorbladgesigwenner – twee wenners het die titel in sowel 2016 as 2017 gedeel.

Benewens die Januarie/Februarie 2021-voorblad van SARIE wat Nicqie wen (die uitgawe is vanaf 11 Desember 2020 op die rak), ontvang sy geskenke van die welstand-en-velsorgopleidingsinstelling Isa Carstens Akademie en die professionele haarsorgmaatskappy INOAR. Sy kry ook R10 000 van Afrikaans.com ter viering van die wedstryd se tiende jaar.

SARIE Voorbladgesig 2020 is moontlik gemaak deur die Isa Carstens Akademie en INOAR.

Volg #SARIEvoorbladgesig op Instagram asook SARIE op Instagram en Facebook vir video’s en foto’s van vanjaar se Voorbladgesig-reis.