Riaan Grobler Se Sewende Ateljee-Album Is Onlangs Vrygestel

Riaan Grobler is ’n gewilde sanger, omroeper en televisieaanbieder wat oor die afgelope sestien jaar diep spore in die Suid-Afrikaanse musiek- en vermaakbedryf getrap het.

Om hierdie mylpaal te vier, het hy pas sy sewende ateljee-album, Liefdeshartaanval, uitgereik waarmee hy weereens bewys hoekom hy sy plek in die plaaslike mark verdien.

Sy nuutste vrystelling kan hoofsaaklik beskryf word as ’n mengsel van emosiebelaaide ballades en opgewekte popmusiek, wat gedryf word deur sterk melodieë en betekenisvolle lirieke.

Dit bestaan uit dertien snitte wat spesiaal verwerk is om sy stem pragtig ten toon te stel en by die algemene gevoel van die eindproduk te pas.

“Om net dertien liedjies uit ’n lys van vyftig te kies was ’n uitdaging, maar ek glo diep in my hart dat ons die regte keuses gemaak het,” verklap Riaan oor die album, wat twee jaar gevat het om op te neem, en musiek deur ondermeer Rudi Claase en Tertius Pretorius insluit.

Die titelsnit, wat hy saam met Jennifer Zamudio opgeneem het, is aan die einde van 2020 vrygestel en baie goed ontvang. Dit het nie net op die treffersparades van verskeie groot radiostasies gekuier nie, maar die musiekvideo is ook reeds deur duisende mense op YouTube gekyk.

Volgens die kunstenaar is dit moeilik om ’n gunstelingliedjie uit te sonder. “Ek was verlief toe ek die album opgeneem het en daar is sekere liedjies wat dit weerspieël en wat op sekere tye my gunsteling was,” verduidelik hy. “Die album is opgedra aan my pa. Daar Sal Nuwe Winde Waai, is spesiaal vir hom opgeneem en dit lê my baie na aan die hart.”

Musiek is al deel van Riaan se lewe vandat hy kan onthou en hy het grootgeword met Afrikaanse legendes se treffers, soos Bles Bridges, Anneli van Rooyen, Laurika Rauch, Carike Keuzenkamp en Rina Hugo wat in die huis speel.

Hy het op die platteland grootgeword en was nog nooit bang om sy drome te volg nie en moes letterlik van platemaatskappy-na-platemaatskappy gaan om homself te verkoop en uiteindelik ’n voet in die deur te kry.

Sy eerste CD is in 2006 uitgereik en sedertdien het hy talle treffers en suksesvolle musiekvideo’s vrygestel en die voorreg gehad om saam met van  die land se grootste kunstenaars op te tree en duette op te neem, waaronder Juanita du Plessis, Rinél Day, David Fourie, Nadia Beukes en Cindy Nell.

Afrikaanse en tagtigsmusiek word uitgesonder as sy gunsteling-genres en hy het groot bewondering vir kunstenaars soos Steve Hofmeyr, Bles Bridges, Anneli van Rooyen en Juanita du Plessis. Hy sou ook nog graag eendag saam met Carike Keuzenkamp wou sing as hy die geleentheid sou kry.

Wanneer dié veelsydige ster nie besig is om te sing en klavier te speel nie, werk hy as radio-omroeper by Pretoria FM en geniet hy dit om tyd saam met sy troeteldiere te spandeer, saam met vriende te kuier en te reis. Hy is ook tans besig om ’n boek te skryf wat hy graag in 2022 wil uitgee.

Riaan Grobler pak alles wat hy doen met passie en presiesheid aan en dit word baie duidelik in sy eerste enkelsnit en album uitgebeeld. Die moderne benadering en eerlike vertolking van die liedjies op sy album en sy unieke stem, is die perfekte pasmaats vir ’n eindproduk wat nie net ’n opskudding gaan veroorsaak in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf nie, maar ook diep in die publiek se harte gaan kruip.

Album Nou Beskikbaar op Digitale Platforms:

https://RiaanGrobler.lnk.to/Liefdeshartaanval

Vrygestelde Musiekvideo’s:

LYS VAN SNITTE OP DIE ALBUM

  1. Liefdeshartaanval (Met Jennifer Zamudio)
  2. Vat Hom Vas
  3. Ek Wil Lewe Vir More
  4. Love Is My Destiny
  5. Bonkers
  6. Koue Hart
  7. Meer en Meer
  8. Rys Op
  9. Vir Ewig
  10. ’n Bietjie Kwyt (Vissies)
  11. Klop Klop Aan Jou Hart
  12. Daar Sal Nuwe Winde Waai
  13. Alfa En Omega
  14. Ek Wil Lewe Vir More (Sokkie Weergawe)

VOLG HOM OP:

Facebook: https://www.facebook.com/riaan3
Instagram: @riaangrobler
Twitter: @riaangrobler