Van Wyk Brand stel nuwe enkelsnit vry – Mal Saam

In Van Wyk Brand se nuwe enkelsnit, Mal Saam, vertel hy die storie van die mal dinge wat mense saam doen – en met dié liedjie wil hy luisteraars inspireer om na hul verhoudings te begin kyk en net lawwe dinge saam aan te vang – eerder as om alleen te wees.

“Ek wil hê Mal Saam moet mense op ’n vreemde manier saambring en kan nie wag dat luisteraars – as gevolg van dié liedjie – in hul brein se argiewe gaan ronddelf na al die goeie herinneringe nie,” het Brand gesê.

“Die idee vir dié liedjie het ontstaan ná ’n gesprek in my verhouding oor ons toekoms en dinge wat ons wil doen en bereik as ’n paartjie. Ons het besef dat ons darem lekker mal saam is, maar dat dit so awesome is,” vertel hy.

“Ek hoop die liedjie lig ook luisteraars se gemoedere, want elke keer as ek dit sing is ek sommer gevul met ’n gevoel van opwinding,” het hy bygevoeg.

Die musiekvideo vir dié goedvoel-liedjie neem die kyker op reis deur verskeie persone se lewens en wys dat elke liewe persoon – van die paartjie wat op die punt staan om te trou tot die TikTok-rolspeler – elkeen ’n storie het, en elkeen is “mal” op hul eie unieke manier.

“Ek hoop mense sal sommer dadelik weer besef dis lekker om soms net spontaan te kan wees en hard te kan lag. Dis lekker om net mal dinge aan te vang en dis altyd beter om dit saam met iemand spesiaals te kan doen. Kom ons skep ’n nuwe norMAL,” het Brand vertel.

Brand het in 2014 die Battle For The Breedlove-kompetisie, wat deur Justin Serrao aangebied is, gewen. Hy het Hou My Vas opgeneem en kort daarna is sy debuutalbum, Winter and Spring, vrygestel.

Brand het ook saam met Jason Finkel, bekende vervaardiger van New York, gewerk en Let It Out opgeneem.

Aanhangers kan ook uitsien na Brand se EP, Herken, wat teen April vrygestel sal word. Dié album sal vier oorspronklike snitte bevat.

PR & Media

Talana Kuhn
072 494 4874
talana@marketingzoo.co.za
The Marketing Zoo