Weiveld Teater bied nou groener weivelde aan musikante én musiekliefhebbers

Alle kunstenaars en musiekondersteuners se paaie lei nou na groener weivelde met die bekendstelling van Weiveld Teater – ’n uitbreiding van die gesogte dans- en kuierplek, Weiveld, aan die Ooste van Pretoria.

Die vermaaklikheidsbedryf het die afgelope jaar wipplank gery en was telkemale in sak en as as gevolg van Covid-19-regulasies wat die hoeveelheid persone by ’n sosiale geleentheid beperk het.

“Met Weiveld Teater wil ons nou die geleentheid vir kunstenaars skep om op te tree en weer ’n inkomste te genereer,” het Mihai Nicolau, van Bronberg Hub, waar Weiveld geleë is, gesê.

“Dit is kleiner en intiem en voldoen aan die nuwe, hersiende beperkinge wat op Sondag, 28 Februarie aangekondig is,” het hy bygevoeg.

Die program vir April skop op ’n hoogtepunt af met Steve Hofmeyr op Donderdag, 1 April.

“Ek is verheug om bietjie uit te kom en weer saam met my mense te kuier. En dit by Weiveld in Pretoria! Kom jol saam met my op 1 April en wys die virus wie’s baas,” het Hofmeyr opgewonde gesê.

Sy seun, Armand Hofmeyr, sal ook in aksie wees as voorprogram en dit beloof om ’n aand van musiekgenot van die begin tot die einde te wees.

Afrikaanse musiekliefhebbers wat uitgehonger is om al hul gunsteling kunstenaars weer in lewende lywe te ervaar, gaan moet wikkel om hul kaartjies betyds vir dié konserte te kry.

Kunstenaars na wie daar nog uitgesien kan word vir April-maand is APPEL op Donderdag, 15 April en Roan Ash op Donderdag, 29 April.

Vertonings bied die volle teater-ervaring. Streng Covid-19-protokolle sal ten alle tye gevolg word. Deure vir die vertoning open om 18:00 met die voorprogram, met Armand Hofmeyr, wat om 19:00 begin en Steve Hofmeyr om 20:00.

Kaartjieverkope het reeds geopen teen R330 per persoon en dit sluit ’n verwelkomingsdrankie deur Ginnic in. Verskeie spyskaart opsies van Bronberg Restaurant sal beskikbaar wees met ’n kontantkroeg.

Kaartjieverkope het reeds geopen en kan by Tixsa bespreek word hier: https://tickets.tixsa.co.za/event/steve-hofmeyr-weiveld-teater

PR & Media
Talana Kuhn
072 494 4874
talana@marketingzoo.co.za
The Marketing Zoo