Rita Li se debuut-album gaan jou roekeloos verlief laat voel!

Rita Li se debuut-album ROEKELOOS VERLIEF, gaan presies dít aan jou doen.  Dit gaan jou roekeloos verlief laat voel!  Die album is ‘n mallemeule van twaalf pragtige, sielvolle, kontemporêre snitte, met ’n moderne country-pop-aanslag, wat daarop gemik is om aanklank te vind by ’n wye gehoor. Die meeste liedjies is kraakvars oorspronklike snitte, wat geskryf is met die hulp van liedjieskrywers soos Johan Oberholzer, Elvis Blue, Stella, Dewald Wasserfall en Danny Smoke. 

Met die uitreiking van haar enkelsnit op 12 Februarie 2021, Iemand Anders, vanaf hierdie album, het sy reeds kom bewys waarom mense hulle harte op haar gaan verloor en sy jou na jou asem sal laat snak met daardie potblou oë, ongelooflike stem, optimisme en die positiwiteit wat sy uitstraal.  

ROEKELOOS VERLIEF is ook die naam van een van die snitte op die album. Die doel van die album was om my eie identiteit te vestig, oorspronklike materiaal te kon skryf, opneem en my weg te baan in die Afrikaanse musiekindustrie,” vertel Rita Li

Alhoewel die opnameproses drie maande geneem het, beplan en versamel die kunstenaar al vir meer as twee jaar aan die inhoud van hierdie spesiale projek en sy meen dat gebeurtenisse uit haar eie en ander mense se lewens die hoofinspirasie agter elke liriek was. “Ek sou graag wou hê dat luisteraars hulle eie storie in my musiek moet vind en die emosies geassosieer daarmee gaan beleef,” sê sy. “Dit is vir my belangrik dat bewonderaars moet kan saamsing en aanklank vind by my liedjies en dat dit hulle moed sal gee op ’n af dag.” 

Dit is vir haar moeilik om ’n gunsteling-liedjie uit te sonder, omdat elkeen vir haar baie spesiaal is. “My huidige enkelsnit, ‘Iemand Anders’ wat pas uitgereik is, het wel van dag een af vir my uitgestaan en ek glo dat dit en ‘Vir ewig anders’ gewild gaan wees onder luisteraars omdat albei gaan oor keuses en almal daarmee sal kan vereenselwig.” 

Saam met die bekendstelling van haar debuut-album reik sy ook nóg ‘n nuwe enkelsnit en musiekvideo, getiteld, Kleur my in, uit.  Hierdie besonderse lied wat vir Rita Li die verpersoonliking is van die verhouding wat sy met haar man het, is deur Elvis Blue geskryf.  “Die lied gaan oor die persoon wat letterlik my lewe kom inkleur en die swart en wit lyne in die lewe kom ophelder en verander in reënboogkleure.  Saam met hom sal ek deur woestyne stap en ‘n duisend myl deur die droogtes in my lewe want hy is genoeg vir my, dis al wat ek nodig het.  Ek glo ook dat dit is wat die Here vir elkeen van ons wil sê.  Dat ons oorgenoeg is want Hy het ons geskape”, sê Rita Li oor hierdie lied wat haar baie naby aan die hart lê.

Kleur my in se musiekvideo is geskiet op ‘n oop stuk grondpad iewers op die grens tussen Gauteng en die Vrystaat. Die video is vervaardig deur Christian Wolf van BrickWolf Creations en die konsep was “eenvoud”. “Die plaaspad verteenwoordig die hart van Rita Li se grootwordjare in die hartjie van die Oos-Vrystaat, waar stilword in die natuur deel was van haar kinderervarings. Die lirieke “goed genoeg” is ‘n sterk boodskap in die lied en die video konsep sluit so mooi daarby aan – dat wanneer ons kaal gestroop met niks of eenvoud is, ons steeds sal besef dat ons goed genoeg is, omdat ons geskape is in die beeld van die Een Wie goed genoeg is vir hierdie gebroke wêreld,” voeg sy by.

Kyk die video hier:

Hierdie eerste album van haar is ‘n besonderse kombinasie van treffende lirieke en mooi musiek, wat haar sielvolle stem komplementeer en haar vaardighede as musikant perfek ten toonstel. Dit is ’n knap stukkie werk wat beslis binnekort op elke musiekliefhebber se speellys gaan wees.  

“Ek het spesifieke mense gevra om vir my te skryf oor temas wat ek vir hulle gegee het. Ek het ook self geskryf. Op die ou einde het ons die twaalf liedjies gekies wat die beste bymekaar pas. Ek het ’n sterk emosionele verbintenis met elke liedjie en het ’n lewenservaring wat by elkeen pas,” sê sy. 

Rita Li is ’n plaasmeisie van Clocolan in die Vrystaat wat al van skool af versot was op musiek en sy leef nou behoorlik haar sangdroom uit!  Sy woon saam met haar man en seuntjie in Pretoria en het ook onlangs aangekondig dat hulle nóg ‘n seuntjie verwag wat teen die laaste week in Augustus 2021 sy opwagting gaan maak! 

LYS VAN SNITTE OP DIE ALBUM:

  • Iemand Anders
  • Dink aan jou lyne
  • Tyd staan stil
  • Twee uur in die oggend
  • Sewende Hemel
  • Vir Ewig Anders
  • Kleur my in
  • Roekeloos Verlief
  • Toe vind liefde my
  • My eerste my laaste
  • Peace

ROEKELOOS VERLIEF is op alle digitale platforms hier beskikbaar:
https://vibe.to/RoekeloosVerlief

SOSIALEMEDIASKAKELS
Facebook: https://www.facebook.com/ritalimusiek
Instagram: @ritalimusiek
Twitter: @RitaLimusiek
Webblad: www.ritali.co.za
YouTube: Rita Li Musiek