Sanger kry vlieglisensie en nuwe musiekvideo!
Na twee en ’n half jaar se vlieglesse by Legend Sky in Pretoria kan die talentvolle sanger, Willem van der Ryst nou die wolke alleen aandurf met ’n twee-enjin-vliegtuig.
Dié talentvolle man van Centurion, wat ook ’n ambassadeur is van Flying For Freedom, en passievol is oor vlieg is trots op die feit dat hy onslangs sy Kommersiële Vlieënierslisensie (CPL) geslaag het. Hy is ewe passievol en trots op sy splinternuwe musiekvideo van sy nuutste enkelsnit – NIKKELS EN DIE WYN wat ook onlangs bekendgestel is. Hierdie video is besig om soos ‘n veldbrand te versprei en is reeds meer as 10 000 keer in ‘n baie kort tydjie gekyk!
“NIKKELS EN DIE WYN gaan oor ’n man wat verlief raak op ’n vrou, maar as gevolg van omstandighede moet sy vir hom wag. Hy weet nie vir hoe lank sy sal wag nie… maar intussen drink hulle gereeld saam wyn en is sy vir hom meer werd as geld (nikkels),” verklap Willem oor dié lekkerluister-snit wat sy storievertellerstem soos ’n handskoen pas.
Die musiekvideo, wat in Hartebeespoortdam en in ’n gastehuis in Boksburg verfilm is, is spesiaal deur Vonk Musiek vervaardig om by die tema van die lied te pas. Die beeldmateriaal wys skote van hom wat by die dam en op ’n motorboot sing en flits dan terug na die vrou (gespeel deur Tracey Kroukamp) wat voorberei vir ’n romantiese aandjie van kaas-en-wyn saam met die man van haar drome.
“Ek dink dis ’n sterk liedjie en video, met ’n goeie storie waarmee mense sal kan vereenselwig, omdat almal sulke tipe stories het wat hulle in die lewe ervaar,” sê hy.
Kyk die video hier: https://www.youtube.com/watch?v=S6tLueSpt0w
Willem, wat op ’n plaas in die Noordkaap grootgeword het, is al vir veertien jaar in die musiekbedryf doenig en het bekendheid verwerf vir sy treffer, Knipmes Aand, wat steeds ’n gunsteling is op almal se kuiermusiekspeellys. Hy is mal oor moderne Country-musiek en glo dat musiek ’n storie moet vertel.
Hierdie avontuurlustige man skrik nie vir ’n uitdaging nie en wil nog eendag graag self ’n Boeing én ’n helikopter vlieg. Vir nou is hy egter tevrede om as huurvlieënier op te tree en aan te hou musiek maak.
NIKKELS EN DIE WYN is op alle digitale platforms beskikbaar. Kry dit hier: https://willemvanderryst2.hearnow.com/nikkels-en-die-wyn
SOSIALEMEDIASKAKELS
Facebook: https://www.facebook.com/willemmusiek
Instagram: @willemmusiek
PUBLISITEIT & BEMARKING
Starburst Promosies
Alani Coetsee
Sel: 072 442 6918
E-pos: alani@starburstmusic.co.za
Webblad: www.starburstmusic.co.za