Groot drome motiveer dapper jong skrywer om haar eerste boek te publiseer

“As jy dit kan droom, kan jy dit doen.” Hierdie aanhaling, deur Walt Disney, het al baie mense geïnspireer om hulle drome na te jaag, ongeag van hoe onmoontlik dit op daardie stadium gelyk het. 

Bontle Ndhlovu het besluit om ’n kans op haar droom te waag en, met die ondersteuning van haar gesin, het hierdie agtjarige dit reggekry om haar eerste boek te publiseer. THE OCEANIC OXY RESCUE MISSION is ’n boek wat die storie vertel van ’n gesin se see-avonture.

Volgens die jong skrywer, het ’n televisieprogram haar geïnspireer om ’n boek te skryf. “Ek het ’n episode van Octonauts gesien waarin seediere gered is en ek was mal daaroor. Dit was my inspirasie.” Omdat sy slegs sewe jaar oud was, moes Bontle haar ma vra om die storie vir haar te tik. 

Toe die storie op papier vasgevang is, het haar ma – Refilwe – dit vir die illustreerder, Maxine Naidoo, gestuur om te illustreer. “Maxine het wondere verrig om Bontle se woorde in pragtige prentjies te omskep,” sê Refilwe.

“Toe ek die illustrasies vir die eerste keer sien, was ek so opgewonde omdat dit presies was wat ek in gedagte gehad het! Ek is so bly ons het saam met Maxine gewerk. Sy het kreatiewe vryheid gehad, maar het verstaan dat die karakters soos my familie moes lyk,” verduidelik Bontle.

THE OCEANIC OXY RESCUE MISSION vertel die storie van Nyla en haar gesin wat tydens ’n bootrit deur drie haaie aangeval word. Hulle word gered deur Oxy en die Dolfyne. “Dit is ’n prettige boek oor avontuur,” sê Bontle, wat self baie van sulke tipe stories hou. “Ek dink mense moet dit lees, want dis oulik. Daar is ook lekker aktiwiteite aan die einde van die boek.”

Bontle was van kleins af lief vir stories. “My ma lees al vir my vandat ek klein is en dit het my lief gemaak vir boeke. Ek was nog altyd mal daaroor om my eie stories op te maak en te vertel.”

Refilwe verduidelik dat wanneer hulle boekwinkel toe gegaan het, Bontle gereeld gewens het dat haar boek eendag op die rak sou wees. “Ek het vir haar gesê dat enigiets moontlik is en dat as sy ’n boek skryf, dit gepubliseer en in winkels verkoop kan word. Ek dink dit het haar gemotiveer.”

Sy voeg by: “Toe Bontle na my toe kom om haar te help met haar storie, wou ek graag haar drome waar maak en het dit vir haar getik en vir Maxine gevra om die illustrasies te doen. Ons het die gedrukte eksemplare ’n paar dae voor Bontle se agtste verjaardag ontvang. Dit was ’n lang proses, maar om die vreugde op haar gesig te sien toe sy dit ontvang, het alles die moeite werd gemaak.” Vir Bontle was dit ’n ongelooflike ervaring. “Dit het my geleer dat enigiets moontlik is,” sê sy.

Buiten vir haar voorliefde vir stories en tale (Engels en Sepedi), is sy ook ’n kranige leser, swemmer, sanger en danser. Sy is mal oor speelgoed, geniet dit om met haar maats te speel en is baie lief vir diere.

Die vrystelling van eerste boek is nie net ’n droom wat waar geword het nie, maar sy is ook in dieselfde jaar deur H&M aangewys as ’n plaaslike rolmodel in hulle Rolmodel-veldtog, ’n inisiatief wat daarop fokus in jong stemme te bemagtig. 

As jy haar vra wat sy wil word as sy groot is, erken sy dat sy nog haar opsies oorweeg. “Ek wil ’n brandweerman of dokter wees, want ek wil lewens red. Maar ek wil ook die eerste wetenskaplike wees om iets magies te ontdek. Ek wil ook graag ’n onderwyser word om kinders te help,” deel sy. Gelukkig is sy nou eers in graad drie en hoef sy nie nou al te besluit nie. Sy het egter reeds begin skryf aan die volgende boek in die Adventures with Bontle-reeks.

Hierdie jong storieverteller het groot drome en haar boodskap vir almal is: “Kinders wat groot droom, moenie bang wees om hulle drome na te jaag nie. As jy hard werk, kan jy enigiets bereik. Volwassenes moet ook aanhou droom en nooit opgee nie.”

THE OCEANIC OXY RESCUE MISSION (R90) deur Bontle Ndhlovu kan bestel word op www.refilwern.com of https://www.ethnikids.africa/.

SOSIALEMEDIASKAKELS:
Instagram:
 @adventures_with_bontle
YouTube: https://www.youtube.com/playlist?list=PLwM4Lzp0n0hqAur3DpK2xZpYFyBEE2hM1

PUBLISITEIT & BEMARKING:
STARBURST PROMOSIES

Alishia van Deventer
Sel: 083 635 4717
E-pos: alishia@starburstmusic.co.za
Webblad: www.starburstmusic.co.za