JANNIE MOOLMAN EN HELENÈ BESTER REIK DIE EERSTE VAN DRIE DUETTE SAAM UIT

Wat gebeur wanneer twee gewilde sangers besluit om die wonder van die natuur te vier met ’n treffende duet?

’n Hoendervleismooi liedjie word geskep, wat Afrikaanse musiekharte net so diep sal raak soos die ongerepte natuurskoon van die woestyn.

NAG IN DIE NAMIB pas Jannie Moolman en Helenè Bester se pragtige stemme soos ’n handskoen en is een van daardie enkelsnitte wat dadelik in jou kop kom vassteek, omdat dit – net soos die Namib – uit die staanspoor jou asem wegslaan.

Hierdie moderne Afrikaanse folk-liedjie, wat Jannie saam met Dewald Gouws geskryf het, gaan oor die skoonheid van die Namib en hoe ’n mens in hierdie omgewing weereens bewus word van God se grootsheid.

Ons het die liedjie gedurende grendeltyd geskryf. Dis gebaseer op ’n gediggie wat ek in die 90s by Oom Arend in Windhoek gekry het,” deel Jannie. “Ek het dit nog al die jare by my gehou en myself beloof dat ek nog eendag ’n liedjie daarvan gaan maak. Nou het ons dit uiteindelik gedoen.”

Volgens die sanger, het dié snit ’n boodskap van hoop en plaas dit klem op die mens se verhouding met die natuur.

Ons stemme klink goed saam en die liedjie is positief en opbouend. Iets nuut en uniek in Afrikaans,” voeg Helenè by.

Die musikante ken mekaar al ’n hele ruk, maar het eers die moontlikheid om saam te sing oorweeg nadat Kobie Koen van Vonk Musiek voorgestel het dat hulle ’n duet moes opneem. “Hy het gesê dat ons stemme mooi bymekaar pas en ek het toe ingestem om hierdie lied – wat Jannie na aan die hart lê – saam met hom op te neem,” sê sy.

Beide Jannie en Helenè het dit baie geniet om saam te werk en sien uit daarna om oor die volgende paar maande saam op te tree.

OOR DIE SANGERS

Jannie Moolman is ’n veelsydige musikant en liedjieskrywer, wat oor die afgelope 32 jaar sommer diep in Suid-Afrikaners se harte kom inkruip het.

Hy het amptelik die musiekbedryf as tenoor betree in 1990, nadat hy sy graad in kommunikasie behaal het aan die Universiteit van die Vrystaat.

Oor die jare, was hy deel van verskeie Opera- en ander verhoogproduksies (plaaslik en oorsee) en het hy die geleentheid gehad om op te tree by musiekkonserte soos die KKNK, Aardklop, Huisgenoot Skouspel en vele meer.

Buiten vir ’n rits musiek- en toneeltoekennings op sy kerfstok, was hy deel van die groep Ons Eie Drie Tenore, asook produksies soos Klassieke Pelle (saam met Jaren Meiring) en Jannie Moolman, Dozi and the Afrika Mamas.

In April 2003 het hy sy eerste solo-album uitgereik, waarna baie treffers gevolg het – waaronder sy mees onlangse sukses, Hou aan met glo, wat hy ook saam met Dewald Gouws geskryf het en wat benoem is vir ’n Aitsa-musiektoekenning.

Omdat hy in grendeltyd kop-bo-water moes hou, het hy alles gedoen – van vleis verkoop op die boeremark tot eiendomsagent speel vir Remax.

Deesdae geniet hy dit om terug te wees op die verhoog, te jag, gholf te speel en as omroeper te werk op Harties FM, ’n aanlyn radiostasie.

Helenè Bester werk al sedert 2002 in die plaaslike vermaakbedryf en is veral bekend as sanger, liedjieskrywer, stemkunstenaar en televisie-aanbieder.

Dié veelsydige en talentvolle vrou, wat al benoem is vir verskeie toekennings, het nie net meer as ses suksesvolle albums en talle treffers agter haar naam nie, maar het ook al die voorreg gehad om deel te wees van groot musiekproduksies soos Aardklop, KKNK en Huisgenoot Skouspel.

Sy het ook oor die jare ook op die kassie gewerk as aanbieder van programme soos Droomhuis en Revue (beoordelaar). In 2016 het sy besluit om die kindermark te betree met die uitreiking van haar album, Helenè Bester en Kristi Kat op die plaas, gevolg deur die Kristi Kat-videos op YouTube en verskeie optredes by skole regoor die land.

Een van die hoogtepunte van haar loopbaan sover was om saam met Lefra Produksies hulde te bring aan Nana Mouskouri met ’n verhoogproduksie en om ’n enkelsnit – ’n Storie van Eerstes – saam met haar broer, Cobus Bester, vry te stel.

Helene bied ook sanglesse aan, maak haar dogtertjie groot en doen ook stem- en radiowerk.

NAG IN DIE NAMIB se meesleurende wysie, treffende lirieke en hoopvolle boodskap is die perfekte bestanddele vir ’n treffer wat vir nog baie jare lank ’n gunsteling gaan wees in die plaaslike mark.

Dit is die eerste van drie duette wat hierdie begaafde musiekpaar saam beplan.

Laai dit hier af: https://linktr.ee/nagindienamib

SOSIALEMEDIASKAKELS:

JANNIE MOOLMAN

Facebook: https://www.facebook.com/jannie.moolman.77

Instagram: @jannie.moolman

HELENÈ BESTER

Facebook: https://www.facebook.com/helene.bester.7

Instagram: @helene6006

PUBLISITEIT & BEMARKING:

STARBURST PROMOSIES

Gizela Arndt

Sel: 083 399 6869

E-pos: gizela@starburstmusic.co.za

Webwerf: www.starburstmusic.co.za