CORDELIA EN DIE CAMPBELLS REIK TWEEDE ENKELSNIT SAAM UIT

Ses jaar nadat hulle die treffer, Beloftes, uitgereik het, is Cordelia en Die Campbells terug in die kollig met ’n splinternuwe Afrikaanse duet oor die liefde.

MY PERSOON, uit die pen van Johan Oberholzer, is ’n lekkerluister kommersiële Afrikaanse snit wat jou sal uitnooi om saam te neurie en jou geliefde nader te trek om te dans.

Die enkelsnit is deur The Hit Factory se Murray Lubbe vervaardig en gaan daaroor om jou sielsgenoot te vind; die een persoon wat vir jou bestem is.

Volgens Cordelia is dit ’n lekker goedvoel-liedjie wat daarop gemik is om luisteraars te herinner dat liefde mooi en lekker kan wees. “Dit gaan oor die krag van liefde. Al voel ’n mens soms eensaam en verlore, sal liefde altyd ’n weg vind,” voeg Tony Campbell (Die Campbells se voorsanger) by.

Beide is dit eens dat dié liedjie se lirieke gaan aanklank vind by ’n wye gehoor en dat dit sommer baie gou ’n gunsteling gaan wees op die dansvloer.

’n Musiekvideo van die enkelsnit sal vroeg in 2023 beskikbaar wees en dit is ook die laaste Afrikaanse liedjie uit Die Campbells, wat onlangs na Dallas in VSA verhuis het om op hulle internasionale country-musiek-loopbaan te fokus, se stal.

Cordelia en Die Campbells het mekaar in 2015 by ’n fees ontmoet en dit was die begin van ’n baie lekker vennootskap. Nie net het hulle in 2016 saam ’n treffer uitgereik wat vandag nog speeltyd op die radio en by dansplekke kry nie, maar Tony behartig ook die sangeres se digitale verspreiding.

Dit is ’n groot voorreg om saam met Tony te werk en ek leer daagliks baie by hom. Sy passie en menswees is ’n aanwins en hy is baie talentvol,” sê Cordelia. Tony het net soveel bewondering vir Cordelia se talent en menswees en sê: “Cordelia is betroubaar en gedrewe om ’n sukses van haar lewe te maak. Sy stel vir haarself hoë standaarde en waardeer dit as iemand anders ook aan daardie standaarde voldoen.”

MY PERSOON volg kort op die hakke van Cordelia se nuutste solo-vrystelling, Anker, wat baie goed ontvang is en talle nommer een posisies op treffersparades beklee. Sexy Lyfie, Die Campbells se nuutste enkelsnit, is ook baie goed ontvang onder oud en jonk en is baie gewild onder dansliefhebbers.

Cordelia is in Edenvale gebore en het in 2015 haar debuut in die musiekbedryf gemaak. Met die uitreiking van haar debuutalbum, Breek die Stilte – wat die platinum-treffer Mal In Jou Kop insluit, het sygroot opslae in die Afrikaanse musiekbedryf gemaak. Sy is ook in 2016 benoem vir ’n Huisgenoot Tempo-toekenning vir Pop Album van die Jaar, asook vir Maroela Media se Album van die Jaar.

Die sangeres was self verantwoordelik vir die skryf en opname van die temalied vir die fliek Hartsbegeertes, wat gedurende 2015 as Beste Geestelike Fliek aangewys is, het die liedjie Petrol en Vuur – geskryf deur Vicky Anne Serfontein – vir die kykNET Afri-Visie Skryfkompetisie opgeneem en gesing en is genomineer vir FINESSE Voelgoed Doengoed Vrou 2015, waar sy saam met 10 ander vroue vereer is vir die goeie werk wat hulle in hul gemeenskappe doen. Sy was ook te sien in die kykNET-reeks, Sterlopers, en die fliek Gebore Talente.

Tans is hierdie mamma van ’n vyfjarige seuntjie besig met talle CANSA-projekte in verlate dorpe in Namibië en Vrouwees is ’n fees– en Ma-en-dogter-glansfunksies aan te bied om fondse in te samel vir kinderhuise. Sy beplan ook om soveel as moontlik op te tree in die nuwe jaar en gaan ook binnekort haar eie ANKER-jenewer vrystel.

Die Campbells (nou internasionaal bekend as die Campbell Brothers) het die musiekbedryf in 2001 betree en dadelik aanklank gevind by oud en jonk. Hulle is veral bekend vir treffers soos Rooi Rok Bokkie, Jy’s Die Girl, Bietjie Bietjie Lam, Daar’s Iets Innie Water, Hillbilly Rock (wat hulle in samewerking met Spur opgeneem het), Vat My Vas, Stoutgat, Burger Dance en vele meer.

Oor die jare het hulle verskeie toekennings gewen, waaronder ’n SAMA vir Beste Sokkie-dansalbum en 3 VAMT-toekennings, hulle spog ook met 16 goue-, 7 platinum-, 3 trippel-goue en 2 dubbel-platinum-albums en hulle musiek is al deur miljoene mense gestroom op digitale platforms.

Buiten vir optredes regoor die wêreld bestuur hulle ook hul platemaatskappy, Campbell Music Entertainment, en promosie- en bemarkingsmaatskappy, Big Star Projects. Hulle is ook in die proses om ’n opname-ateljee in Texas te open.

MY PERSOON is nou beskikbaar op alle digitale platforms. Laai dit hier af: https://orcd.co/zovewa0.

SOSIALEMEDIASKAKELS

CORDELIA

Facebook: https://web.facebook.com/cordelia.fanpage/

Instagram: Cordelia Louise (Official)

Twitter: @Cordelia_Live

Webwerf: www.cordelia.co.za

YouTube: https://youtube.com/c/CordeliaMusicProductions

DIE CAMPBELLS

Facebook: https://www.facebook.com/DieCampbells

Instagram: @diecampbells

Webwerf: www.campbells.co.za / www.campbellme.com

YouTube: https://youtube.com/c/DieCampbellsMusic

PUBLISITEIT & BEMARKING

Starburst Promosies

Gizela Arndt

Sel: 083 399 6869

E-pos: gizela@starburstmusic.co.za

Webwerf: www.starburstmusic.co.za