JAN BLOUKAAS REIK ’N SPLINTERNUWE ALTERNATIEWE ROCKSNIT UIT

Jan Bloukaas is vasbeslote om nie toe te laat dat sy onlangse breingewas-diagnose hom onderkry of sy toekoms bepaal nie.

Dit is daarom nie vreemd dat hy, buiten vir sy behandeling, tans fokus op die nuwe rigting waarin hy graag sy musiekloopbaan wil stuur nie.

Skaars ’n maand na die uitreiking van die inspirerende enkelsnit, Sweef, is hy terug met ’n alternatiewe rocksnit wat reeds die musiekbedryf aan die gons het.

AS EK JOU HOOR LAG is ’n treffende lied, uit sy eie pen, wat gaan oor verhoudings. “Ek het eers die musiek geskryf, daarna het die koor by my opgekom en van daar af het die liedjie vanself ontwikkel! Ek het dit gekies omdat dit verskil van “Sweef”, wat meer elektronies is, sodat mense die verskeidenheid van musiek op my komende album kan hoor,” verduidelik hy.

Dit is ook die eerste liedjie wat hy saam met ’n band opneem en hy is opgewonde om dit met bewonderaars te deel.

Ek hoop mense sal hou van die nuwe rigting wat my musiek inslaan. Ek werk deesdae minder met elektroniese klank en meer met lewendige instrumente,” sê die sanger.

AS EK JOU HOOR LAG is die tweede vrystelling vanaf sy splinternuwe album, Vreemdeling, wat binnekort uitgereik word.

Jan Bloukaas, oftewel Jean du Plessis, was skaars klaar met skool in 2017 toe hy naam gemaak het met sy liedjie, Kaas Elke Dag, wat soos ’n veldbrand versprei het en gelei het tot ’n platekontrak met Universal Musiek nie.

Sedertdien het hy net van krag tot krag gegaan en spog hy met talle radio- en dans-treffers (waaronder kykNET en Chill, Boerseun en Desember), twee top-verkoper albums (Desember en The Party Starter), ’n platekontrak met Inhoud Huis Musiek en verskeie musiektoekenings.

Dié Kapenaar het ook die treffer, Dans, saam met Early B en Biggy opgeneem, asook die duet, Sterre Brand, saam met Janie Bay. Verder het hy ook al die verhoog gedeel saam met van die grootste name in die bedryf by van die gewildste musiekfeeste en -konserte in die land.

Tans is hy besig met chemo-behandeling vir die gewas en kan hy nie regtig soveel op sy musiek fokus soos wat hy wil nie, maar sodra hy weer op die been is gaan hy sy nuwe album in alle erns bemark.

AS EK JOU HOOR LAG is nie net ’n lekker voorsmakie van wat luisteraars in die toekoms van Bloukaas kan verwag nie, maar ook ’n bewys van sy veelsydigheid as liedjieskrywer en musikant.

Dit is nou beskikbaar op alle digitale platforms. Kry dit hier: https://JanBloukaas.lnk.to/AsEkJouHoorLag

As ek jou hoor lag (visualizer) Musiekvideo: https://youtu.be/W8G7FhMBJfk

SOSIALEMEDIASKAKELS:

Facebook: https://www.facebook.com/janbloukaasmusiek

Instagram: @janbloukaasofficial

Twitter: @janbloukaas

YouTube: https://m.youtube.com/channel/UCOWeETSkyD0jqP-ogS7c-OA

PUBLISITEIT EN BEMARKING:

STARBURST PROMOSIES

Alani Coetsee

Sel: 072 442 6918

E-pos: alani@starburstmusic.co.za

Webblad: www.starburstmusic.co.za