SAARKIE – nuwe album, nuwe enkelsnit, nuwe video, nuwe lid!

Die gewilde rockgroep, SAARKIE, was nog altyd anders en het nog altyd aandag getrek waar ookal hulle gaan. Hulle ruk en rol al vyftien jaar in Afrikaans én Engels en hierdie jaar vier hulle Vrouemaand met ’n splinternuwe enkelsnit, musiekvideo, album én lid! 

Alouise, oftewel Ella, neem haar plek in as baskitaarspeler en sanger in die groep. Hierdie Vrystater van Bethlehem speel al klavier vandat sy drie is en werk nou amptelik tien jaar in die musiekbedryf.

“Dit is ’n groot voorreg om saam met Adèle en Lila musiek te maak en dit voel asof ek my musiek vryheid gee wanneer ek dit doen,” sê sy oor hierdie opwindende geleentheid. “Ek het verlief geraak op hulle klank toe ek eers agter die baskitaar inspring om die liedjies te leer en sien uit na die toekoms.”

Hierdie Ghoema-bekroonde musikant en liedjieskrywer (Bella & Buster) het in 2011 haar debuut gemaak as deel van die groep, Onbeskaamd, en speel steeds so af en toe saam met hulle, asook saam met Bok van Blerk se band. Wanneer sy nie op die verhoog is nie, is sy ’n musiekonderwyser en fietsryer en werk sy ook daaraan om haar eie musiek op te neem.

Adèle en Lila is baie opgewonde om haar aan boord te hê en sê: “Ons voel dat Ella ons, as musikante, uitdaag en dat sy iets nuuts na die tafel toe bring. Ons aanhangers kan uitsien na wat voorlê.”

Om alles nog meer opwindend te maak, het die meisies besluit om ’n splinternuwe enkelsnit, musiekvideo en album vry te stel, waarvan Mjön van Blommestein wat die groep verlaat het, steeds deel is.

“Mjön het gedurende grendeltyd ’n nuwe besigheid begin wat baie van haar tyd opneem en het daarom besluit om vir eers daarop te fokus”, deel Adèle Fouché en Lila Botha. “Dis altyd hartseer om ’n sussie te verloor en ons gaan haar mis.”

WAAR LÊ JOU HART? is die derde vrystelling vanaf hulle nuwe album en is deur Adèle geskryf. Volgens haar gaan hierdie Afrikaanse “African Pop”-liedjie oor waar ’n mens se hart lê in hierdie onsekere tye wat jou dwing om ’n “reality check” te doen.

“Dit is ’n uitnodiging vir iemand om saam met jou weg te gaan op ’n avontuur. Weg te breek, te leef in die oomblik en te vergeet van probleme en stres,” deel sy.  “Ons hou van die liedjie want dit het ’n opwindende ritme en dit wil jou maak in die kar klim en na die sonsondergang toe ry.”

Die musiekvideo, wat deur Unbreakable Media se Marlie van Oudtshoorn vervaardig is, sluit perfek by die tema van die liedjie aan en gaan oor die drie Saarkies wat die pad vat – in ’n 1969 BMW 1602 Bauer LHD Cabriolet – om ’n avontuur aan te pak. Dit is in die Rietvlei Natuurreservaat verfilm en die kar is verskaf deur Wat Swaai Jy?.

“Die idee is geïnspireer deur die liedjie en boodskap is dat wanneer jy iemand vra om saam met jou op ’n road trip te gaan, wil jy weet waar hulle hart lê,” sê hulle.

Kyk die video hier:

WAAR LÊ JOU HART?volg in die suksesvolle voetspore van die groep se mees onlangse liedjies, Reënweer en River Blues, wat beide goed ontvang is en steeds radio-speeltyd kry.

Al drie snitte is beskikbaar op hulle nuutste album, WAAR LÊ JOU HART?, wat pas vrygestel is en ’n indrukwekkende kombinasie van twaalf lekkerluister-snitte bevat.

Volgens dié Ghoema-bekroonde meisiesgroep is dié kontemporêre pop-rock-album hulle manier om vorentoe te beweeg na ’n baie uitdagende tyd en daarom het hulle nie by een spesifieke konsep of tema gehou nie.

“Gedurende Covid, het ons nuwe waardering gekry vir die lewe. Daarom het ons geskryf oor plekke, diere, liefde en mense wat vir ons betekenis dra,” verduidelik die Evas. “Ons sal graag wil hê dat dit ’n rustigheid, maar ook ’n opgewonde gevoel aan ons luisteraars moet gee en by hulle moet aanklank vind. Dis iets wat jy in die kar kan luister of rondom ’n kampvuur saam met die mense waarvoor jy lief is.” 

Buiten vir twee bestaande treffers en ’n paar opwindende nuwe liedjies, sluit die album ook ’n duet in saam met Jak de Priester van sy gewilde snit, Sally Williams Nougat. Mozambique word uitgesonder as hulle gunsteling op die album: “Ons geniet die ritme en dit het ’n lekker vakansiegevoel. Mosambiek is ’n plek waar jy jou hare kan laat loshang, sonder te veel reëls. Waar jy op die strande kan ry met jou 4×4, om die kampvuur kan kuier en jou lippe kan rooi drink aan R&R’s.” 

SAARKIE bestaan al vir vyftien jaar en werk reeds aan inhoud vir ’n volgende album. ’n Eksklusiewe reeks Saarkie-toebehore sal ook binnekort te koop wees.

WAAR LÊ JOU HART? is nou beskikbaar op alle digitale platforms.

Kry dit hier:

https://music.apple.com/za/album/waar-l%C3%AA-jou-hart/1576676876

“Die laaste jaar was baie moeilik. Ons album is ʼn boodskap van hoop in moeilike tye en ook saamgestel uit van ons beste herinneringe van die afgelope ruk. Alles is nooit net sleg nie en die rooi papawer op ons album-omslag is simbolies van hoop vir die toekoms. So dit gaan oor ʼn nuwe begin, vol hoop en liefde, al roei mens soms teen die wind,” sluit hulle af.

LYS VAN SNITTE OP DIE ALBUM:

1. Waar lê jou hart?

2. Nuwe Jaar

3. Reënweer

4. River Blues

5. Sally William’s Nougat

6. As die hippies begin dans

7. Dans net vir jou

8. Lisa se klavier

9. Mozambique

10. Gatvol

11. Al wat ek ken

12. Identiteit

SOSIALEMEDIASKAKELS:

Facebook: https://www.facebook.com/saarkieband/
Twitter: @SaarkieBand
Instagram: @saarkieband
Webblad: www.saarkie.com

NAVRAE:

Besprekings
Elize Fouché
Sel: 082 575 3184
E-pos: info@saarkie.com